Adri Bothma is rasend van bekommernis en hoop en bid dat haar seun, Fanie, veilig en ongedeerd is. “Ek bid dat die Here my kind veilig sal hou. My hande is afgekap. Ek voel hulpeloos.” 

Fanie het op 8 Julie besluit hy wil uit die huis uittrek en het ’n rygeleentheid saam met ’n vriend Durban toe gekry. 

“Hy het vir my gesê hy het ’n werk daar geky, maar watter werk weet ek nie. Hy is hier weg met al sy besittings.” 

Op 10 Julie het Adri met Fanie oor die foon gepraat. “Hy was toe in Pinetown gewees en het by vreemde mense gebly. Hy is daarna na ’n niggie van hom in Amanzimtoti, maar hulle het stry gekry en hy is uit haar huis uitgeskop.” 

Dit was die laaste keer wat Adri van Fanie gehoor het. 

Toe begin die vreemde oproepe. 

“Ons het ’n oproep van ’n vreemde nommer gekry en ’n mansstem het gesê hulle soek R10 000 of hulle gaan my seun doodmaak. 

“Later het die man minder geld geëis, en toe ons ’n rekeningnommer vra, het die oproepe opgehou.” 

Adri het ’n saak vir ’n vermiste persoon oopgemaak, en die polisie het haar aangeraai om nie verder met die man te praat nie. 

“Ek is bitter bekommerd. Ek weet nie of my kind nog lewe en of hy dood is nie. Ons kan hom glad nie opspoor nie.” 

Adri sê Fanie is ook bipolêr en het ’n geskiedenis van dwelmmisbruik. 

“Ek kan baie stories oor dwelmmisbruik vertel. Hy was al na ’n rehabilitasiesentrum.” 

Volgens haar raak Fanie psigoties as hy dwelms gebruik. 

“Hy raak baie onstabiel as hy nie sy medikasie drink nie en dwelms gebruik.” 

Intussen is die polisie in Durban besig om na Fanie te soek. 

“Die onsekerheid en die gewag maak my stapelgek. Ek wil net weet of my kind veilig is.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe