Dit was veronderstel om ’n prettige naweek saam met vriendinne te wees en ’n ervaring waaroor hulle nog lank sou praat. 

Drie Chinese vriendinne het egter baie meer gekry as waarop hulle gehoop het toe hulle die afgelope naweek Suid-Korea toe is om plastiese chirurgie te ondergaan. Dit was nie alles pret nie. 

Toe hulle ná die naweek wou terugkeer huis toe, was hul voorkoms so drasties verander dat hulle nie toegelaat is om deur doeane te gaan nie.

’n Chinese televisieaanbieder, Jian Huahua, het Sondag ’n foto van die drie op die lughawe in die sosialemediaplatform Weibo gedeel. Hulle lyk moedeloos, paspoort in die hand en geswelde gesig wat met verbande toegedraai is. 

Die drie onbekende vriendinne op die lughawe. Foto: Weibo.com

“Nie eens jul ma’s sal julle herken nie,” het sy daarby geskryf. Teen Woensdagmiddag is al 71 000 keer van die foto gehou en is dit al 30 000 keer gedeel.

Suid-Korea het ’n uiters welvarende plastiese chirurgie-bedryf wat deur toeriste en mense uit ander dele van Asië besoek word. 

Dit is onduidelik of die vroue daarin kon slaag om terug te keer huis toe.

Bronne: Shanghaiist.com, Slice.ca, Nypost.com