Die beseerde Driehoek-leerder, Cheverné Duvenage (13), het Dinsdag vanuit die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark self vertel sy is nie 100% hoopvol dat sy sal herstel nie, maar “sommer honderdduisend-en-tien-persent” gereed.

Cheverné is eindelik Maandag ná 53 dae in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton en sewe operasies later na dié hospitaal oorgeplaas waar sy nou van vooraf onder meer sal moet leer loop.

“Ek sien hoe die mense hier uit hul beddens opstaan en by die deur uit loop en ek wil dit ook doen! Dit is anders hier (as in die Unie-hospitaal), die gange is leër, maar ek is baie opgewonde.

Cheverné was een van 22 leerders wat erg beseer is toe ’n loopbrug die oggend van Vrydag 1 Februarie by die Hoërskool Driehoek inmekaar getuimel het.

Cheverné, ’n gr. 8-leerder, was onder die beton vasgepen en het veral haar maag ernstig beseer.

Vier leerders is in die tragedie dood.

Nicola Senekal, Cheverné se ma, vertel sy is net so dankbaar dat daar nou goeie verwikkeling is op die pad na herstel.

“Cheverné het altesame sewe operasies aan haar bekken, heupe en maagwand ondergaan."

Toe Cheverné se maagwand ná die eerste operasie twee keer daarna weer lostrek, was Nicola-hulle baie bekommerd.

“Dit was rof,” vertel sy.

Vir Hein Knoetze is dit steeds ondenkbaar dat vier jong lewens geëis is op dié toneel op die skoolterrein waar ’n loopbrug ineengestort het. Foto: Papi Morake

“Ek is nou baie excited. Ons voel ons wil die hele storie nou net oor en verby kry. Ons het vanoggend hier ’n bietjie foto’tjies van die ongeluk gekyk. Cheverné het begin met scrapbooking . . . Dit gaan goed.”

Sy vertel vir Cheverné om weer te leer loop en haar koördinasie reg te kry is nou prioriteit. Cheverné gaan sowat ses weke hier wees. Intussen gaan hulle weer met skoolwerk aangaan.

“Ons gaan met Afrikaans, Engels en Wiskunde begin. Cheverné sien baie uit daarna.”