’n Jaar en twee maande gelede het Debbie Crause (47) van Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek ternouernood aan die dood ontkom toe sy ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek in ’n ernstige motorongeluk was.

Die ongelukstoneel nadat Debbie Coetzee se wit For
Die ongelukstoneel nadat Debbie Coetzee se wit Ford Eco Sport drie keer gerol het.

Debbie (voorheen Coetzee) was op pad om haar dogter, Rizaan (14), en haar verloofde, Kruger, met wie sy intussen getroud is, se seun Johan (15), te gaan haal nadat ’n loopbrug ineengestort het. Rizaan, toe in graad 8, was histeries toe sy haar ma bel om skool toe te kom.

Die hele land is aangegryp toe Debbie, ’n werknemer van die plaaslike Herza-afslaers, by ’n kruising naby die Vaal Mall in ’n botsing betrokke was. Sy is sowat 30 m ver uit haar motor geslinger en het erge kopbeserings opgedoen. 

Sy was 18 dae lank in die hospitaal. Weens ’n beroerte het dokters gevrees sy sou aan die regterkant van haar liggaam verlam gelaat wees en nie weer kon bestuur nie.

Maar Debbie het wonderbaarlik byna volkome herstel en kan nou nog nie glo dit het alles met hul gesin gebeur nie.

Debbie en Kruger Crause Foto: Verskaf
Debbie en Kruger Crause Foto: Verskaf
Debbie en Kruger Crause Foto: Verskaf
Debbie en Kruger Crause Foto: Verskaf

“Ek voel baie trots op myself!” vertel Debbie Maandagoggend aan Huisgenoot.

“Ek het nie gedink ek sou so ver kom nie. Toe ek teruggaan werk toe was ek bang vir al die uitdagings. Ek werk met baie syfers en ek was bekommerd ek sal nie die komplekse werk meer kon doen nie, maar ek kon!

“Hier en daar onthou ek wel nie altyd so lekker nie. As iemand wat net so twee of drie weke gelede nog by my was, weer voor my staan, kan ek ewe skielik nie meer hul van onthou nie. As jy iets vir my sê wat ek oormôre moet doen, moet ek ’n nota maak, want anders sal ek nie onthou nie.

“Ek kry nog naalde en spelde in my regterhand – en arm . . . Ek kan nog ‘n operasie kry, maar vir nou karring ek maar so aan. Ek het die jaar baie makliker gedoen as wat ek gedink het ek sou.

“Met Kruger elke dag by my kon ek. Hy help my met elke liewe ding. Hy het my deurentyd moed ingepraat. Hy laat my elke dag soos ’n vrou voel. Ek is die gelukkigste vrou onder die son!”

Debbie en Kruger het dae gelede op 31 Maart hul eerste huweliksherdenking gevier.

Debbie en haar man
Debbie en Kruger Crause op hul troudag. Foto: Leandri Marx Fotografie
Debbie en Kruger deel soen
Debbie en Kruger deel ‘n spesiale oomblik. Foto: Leandri Marx Fotografie
Debbie straal op haar troudag
Debbie Crause op haar troudag. Foto: Leandri Marx Fotografie
Debbie en haar dogter
Debbie by haar dogters: Van links is Rizaan, Anri en Chalene Coetzee. Foto: Leandri Marx Fotografie

Huisgenoot se eerste artikel oor Debbie het die gemeenskap saamgespan om vir die paartjie hul droomtroue te gee nadat hulle dit weens die omstandighede nie self meer kon doen nie.

Debbie vertel om op daardie dag met Kruger te trou, was die beste besluit ooit en hy is net so goed vir haar kinders.

Debbie het drie dogters en Kruger het drie seuns uit hul vorige huwelike.

Debbie vertel dit gaan goed met Rizaan en Johan. “Rizaan is ’n baie sterk kind. Sy het ná die tragedie nog baie daaroor gedroom, maar sy het dit verwerk. Sy het sonder probleme weer oor die brug begin stap. Ek dink my ongeluk was vir haar erger . . .

Dit het vir my baie beteken, net om te weet mense ondersteun en bid vir my.

“Die jaar wat verby is was baie erg, ek het nie rêrig aan die begin gedink ek sou dit maak nie. Van die eerste drie maande ná die ongeluk onthou ek bitter min. Die ongeluk onthou ek glad nie. Ek bly nog steeds dink daaraan . . . Maar ek is happy en trots op myself dat ek positief gebly het en nooit gaan lê het nie.”

COVID-19

Dit is met hierdie selfde positiewe uitkyk dat sy nou die huidige krisis van die wêreldwye COVID-19-pandemie aanpak.

“Mense het my so bygestaan en gehelp deur ons krisis. Dit het vir my baie beteken, net om te weet mense ondersteun en bid vir my. Ek dink ons moet nou dieselfde vir mekaar doen deur hierdie moeilike tyd. Ek sal mense aanspoor om positief te bly, sterk te staan. Moet nooit gaan lê nie! Ons sal deur hierdie kom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.