Die jong meisie klink moedig daar waar sy in haar hospitaalbed wag.

Dit is net meer as ’n jaar gelede wat Tasha Opperman (14), ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, se hele lewe verander het. Die dag toe ’n betonloopbrug op haar en verskeie ander kinders neergestort het.

Tasha het drie slegte breuke aan haar bekkenbeen opgedoen, ook haar regterlong en neus het seergekry.

Tasha Opperman (14) voor haar operasie in die Netc
Tasha Opperman (14) voor haar operasie in die Netcare Milpark-hospitaal om die skroewe uit haar bekken te laat verwyder. Foto: verskaf
Tasha Opperman (14) voor haar operasie in die Netc
Tasha Opperman (14) voor haar operasie in die Netcare Milpark-hospitaal om die skroewe uit haar bekken te laat verwyder. Foto: verskaf

Maar hier waar sy nou op die Vrydagoggend met Huisgenoot vanuit haar hospitaalbed in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg praat, lê die laaste groot operasie hopelik voor om die staalskroewe uit haar bekken weer te laat verwyder.

“Ek voel baie goed, tannie,” klink die sagte stemmetjie op. “Ek is nie bang nie. Ek hoop om nie meer pyn te hê nie.”

Sy vertel sy het die laaste jaar erge steekpyne in haar buik weens dié skroewe ervaar.

Haar ma, Nelene, is langs haar bed om haar dogter te ondersteun. Nelene vertel ná die ongeluk op Vrydag 1 Februarie verlede jaar het ’n lang herstelpad vir haar dogter voorgelê.

'n Skandering van die breuke in Tasha se bekken na
'n Skandering van die breuke in Tasha se bekken na die Driehoek-brugramp. Foto: Verskaf

“Dit het Tasha lank gevat om gesond te word. Op die dag van die ongeluk is sy na die plaaslike Mediclinic (Emfuleni) toe, maar hulle kon haar nie hier met die gespesialiseerde operasie help wat sy sou nodig hê nie. Sy is die Sondag per ambulans na Milpark toe en die Maandag geopereer.”

Nelene vertel Tasha is eindelik op 12 Februarie ontslaan, maar moes minstens die volgende ses maande op krukke deurbring.

Ondanks die trauma het Tasha gr. 8 goed geslaag. Sy het ná die ongeluk waarin vier leerders hul lewens verloor het en meer as 20 beseer is, by die skool aangebly.

Vir Hein Knoetze is dit steeds ondenkbaar dat vier
Vir Hein Knoetze is dit steeds ondenkbaar dat vier jong lewens geëis is op dié toneel op die skoolterrein waar ’n loopbrug ineengestort het. Foto: Papi Morake
’n Betonbrug het op 1 Februarie by Hoërskool Drieh
’n Betonbrug het op 1 Februarie by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineen­gestort en die lewe van die matriekseuns Roydon Olckers (17) en Marnus Nagel (16) en die gr. 8-leerders Marli Currie (13) en Jandré Steyn (13) geëis.
’n Gemeenskap is nog in rou ná ’n brug by die Hoër
’n Gemeenskap is nog in rou ná ’n brug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark in duie gestort het en vier kinderlewens geëis het. Foto: Onkgopotse Koloti

“Die moeilikste vir my was om die trauma te verwerk,” vertel Tasha. “Dit was moeilik om net weer aan te gaan soos normaal. Ek kon dit so bietjie verwerk, daar is nog ’n paar goed wat my pla. Maar dit het my gehelp om daaroor te praat. Dit het my alles net sterker gemaak.”

Nelene vertel sy is baie trots op haar. “Tasha is so ’n sagte ou mensie, met die sagste hartjie. Dit was regtig moeilik vir haar by die skool.”

Tasha sê met haar naaste familie en vriende se ondersteuning het sy dit tot hier gemaak. Sy sien uit na die toekoms.

“Ek wou graag ’n pastoor geword het, maar ek het besluit om nou ’n rekeningkundige te word. Ek hou daarvan om met syfers te werk. Ek sal steeds sê ek sal graag die Here se boodskap wil verkondig en my storie te vertel.

“Dit wat gebeur het, het my verhouding met God verdiep. My boodskap sal wees om elke dag voluit te lewe. Jy weet nooit wat die dag van môre bring nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.