Roydon Olckers (17), die matriekseun wat in die Hoërskool Driehoek-tragedie twee gr. 8-leerlinge se lewe gered het, is vir die gesogte Orde van Mendi vir dapperheid benoem.

Roydon Olckers (17) is dood in die brugramp by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark. Foto: Facebook

Roydon het op Vrydag 1 Februarie vir Caitelin Harris en Denise Fourie uit die pad gestamp toe hulle almal onder die brug geloop het en hy besef het hul lewe is in gevaar. Kort daarna het 'n deel van loopbrug geval. Roydon is op die toneel dood.

Die tragedie waarin vier leerlinge, insluitend Roydon, dood en meer as 20 leerlinge beseer is, het die land geruk.

Dr. Dewald Venter, ’n senior dosent in toerismebestuur en oudleerling van die Hoërskool Driehoek het Donderdag aan Huisgenoot.com vertel die tragedie op 1 Februarie het hom diep geraak. Hy bly self in Vanderbijlpark.

“As militêre erfenisnavorser en skrywer werk ek nou saam met voormalige en huidige lede van die weermag. Hul stories van heldedade, hartseer en hoop het my laat dink aan Roydon se onselfsugtige daad. Ek is vermooid met die Orde van Mendi asook die hoë vereistes daarvan. Ek glo ons is dit verskuldig aan hom dat sy onselfsugtige daad en liefde aan sy medemens erken moet word."

Die eerbewys word deur die presidensie toegeken aan Suid-Afrikaners wat ’n daad van buitengewone dapperheid verrig het, hul lewe in gevaar gestel het, of wat hul lewe verloor het in ’n poging om ’n ander persoon se lewe te red, of om eiendom te red – binne of buite die Republiek van Suid-Afrika.

Die SS Mendi-prys verteenwoordig die dapperheid van die meer as 600 swart Suid-Afrikaanse soldate en hul wit offisiere wat tydens die Eerste Wêreldoorlog aan boord van die skip die SS Mendi verdrink het. Die soldate was na Frankryk onderweg om bystand aan die Britte te verleen. 

Die skip het in die Engelse Kanaal naby die eiland Wight gesink nadat dit op 21 Februarie 1917 ’n ander skip getref het.

Donovan Olckers, Roydon se pa, vertel hy het dae ná die tragedie die meisies ontmoet.

“'n Berader het my gevra of ek vir hulle sal kom bid. Ek het, want ek wou graag help om ook vir hulle genesing te help bring.”

Hy sê Dewald het hom eerste laat weet dat hy graag vir Roydon vir dié gesogte prys wil benoem. “Ek is dankbaar hy het my laat weet, en dit dra my goedkeuring weg. In my oë was Roydon nog altyd 'n held. Almal wat hom geken het, sal jou sê hy was 'n spesiale laaitie wat vrolikheid en geluk wou bring waar ook al hy gegaan het. Hy was nie perfek nie; hy het ook soos enigiemand sy foute gehad.”

Hein Knoetzé, skoolhoof van die Hoërskool Driehoek, sê die benoeming is onder sy aandag gebring. “Alles is nog baie dol by die skool, en ek het nog nie kans gehad om daaraan te dink of selfs met die meisies te praat nie, maar ek dink dit sal goed wees as Roydon so vereer word. Ek is bly as iets positiefs uit die hele tragedie kan kom,” sê hy.