Een het pas met haar krukke rondom haar hos­pitaalbed gestap. Sukkel-sukkel. Maar sy het gestap, vir die eerste keer sedert die beton byna die lewe uit haar gepers het. Nog een steek sy pyn agter ’n moedige glimlag weg.

Sommige van hul skoolmaats is al uit die hospitaal ontslaan; ander is nog in waakeenhede in hospitale.

Talle van die 22 beseerde leerders het operasies ondergaan om gebreekte beendere te heg, en weke of maande se rehabilitasie wag voor hulle weer met die lewe van ’n gewone leerder sal kan aangaan.

Maar die kinders van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark hou moed. Hulle is vegters. Hulle lééf.

Kort nadat ’n betonbrug op 1 Februarie by dié skool ineen­gestort en die lewe van die matriekseuns Roydon Olckers (17) en Marnus Nagel (16) en die gr. 8-leerders Marli Currie (13) en Jandré Steyn (13) geëis het, hoor hul medeleerders nog die angsgille van daardie dag in hul nagmerries.



Maar hulle is reg om weer skool toe te gaan; om die lewe aan te gryp.

CLARI BOTES (18), MATRIEK
Clari is nog verward oor wat dié dag gebeur het.
Clari is nog verward oor wat dié dag gebeur het.

“Ek is baie seer, maar elke dag gaan dit beter. Ek het my bekkenbeen gebreek. My blaas het gebars en my lewer geskeur. Hulle het plate en skroewe in my enkel gesit,” vertel Clari uit die intensiewe trauma-eenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg.

“Ek is gewoonlik stil, maar daardie dag het ek geskree. Ek droom hoe ek nog onder daardie sementblok lê.”

Clari is nog verward oor wat dié dag gebeur het. Sy was besig om oor die betonblad te stap toe dit onverwags meegee.

“Ek onthou net voor ek geval het, het ek ’n wit lig gesien. Een van die terapeute vertel van die ander kinders het dit ook gesien.”

Sy onthou die mense rondom haar wat gespook het om die kinders onder die puin uit te kry. Clari dink dit kon veel erger gewees het.

“Ek het ses niggies en nefies in die skool. Dit kon enig­een van hulle gewees het.”

Sy fokus op herstel en om haar skoolwerk in te haal.

“Ek glo ek sal teruggaan. En ek sal my lewe kan lei soos ek wou. Ek glo nie dit sou gebeur het as die Here dit nie so bestem het nie. As daar een ding is wat ek hieruit geleer het, is dit dat jy elke dag voluit moet leef.”

JACQUES FOURIE (13), GR. 8
Jacques het nie geweet wat gebeur nie. Die een oom
Jacques het nie geweet wat gebeur nie. Die een oomblik het hy na sy klas geloop; die volgende was dit donker rondom hom.

Hy is al tuis.

“Dis moeilik om vas te stel wat die werk­like impak van die voorval op hom is,” vertel sy ma, Salomie.

“Jong kinders is maar huilerig. Maar dat dit ’n impak op hom het, is gewis. Dis hoekom hulle nou deur die voorval werk – sodat dit hom nie later vang nie.”

Die eerste wat sy oor die ramp gehoor het, was toe haar seun haar op sy selfoon bel: “Mamma, iets swaars lê op my, iets soos ’n muur,” het hy aan haar gesê.

“Jacques het nie geweet wat gebeur nie. Die een oomblik het hy na sy klas geloop; die volgende was dit donker rondom hom. Ek was so geskok en beangs. Ek het gesê: ‘My kind, byt vas, mamma kom.’ ”

Jacques was reeds onder die beton uit toe sy op die toneel kom.

“Hy kon eers nie sy bene voel nie. Ons was so bang. So bang vir ’n verdoemende diagnose. Maar in die ambulans het hy gesê: ‘Mamma, my bene pyn.’ Ek het vir hom gesê dis goed my kind; dis goed so,” vertel sy.

“Ons kan nie glo hoe gelukkig ons was nie. Sy enkel is vergruis en sy heup het uitgehaak. Albei is met ’n operasie reggestel en hy is nou in gips. Hy kan dalk oor vier of vyf weke met fisioterapie begin.”

HOKOZANI NKOSI (17), MATRIEK
'Ek kry nagmerries en sien gedurig Roydon se ligga
'Ek kry nagmerries en sien gedurig Roydon se liggaam,' sê Thokozani.

Sy is tuis by haar ouerhuis in Vanderbijlpark nadat sy uit die Medi­clinic Emfuleni ontslaan is.

“Ek is bang om terug te gaan skool toe. Sê nou net die paviljoen of een van die klaskamers stort inmekaar? ’n Mens weet nie wat kan gebeur nie,” sê sy.

Sy het saam met die beton geval, maar kon opstaan en wegstap.

“Ek was uiters verward.” Sy het eers later die dag besef haar rug en arm is seer.

“Die hele dag het gevoel soos ’n droom waaruit ek nie kon wakker skrik nie.”

Haar ma, Thandiwe, het haar kom haal en na die Mediclinic geneem. Daar was Thokozani, ’n diabeet, se bloedsuikervlak rondom 32, byna agt keer so hoog as normaal. Sy was op die rand van ’n koma.

Sy sukkel om te slaap.

“Ek kry nagmerries en sien gedurig Roydon se liggaam.

“Maar alles gebeur met ’n doel. Dalk het dié ding gebeur om Suid-Afrikaners nader aan mekaar te bring. Al wat ek vra, is dat almal aanhou bid dat ons sal beter word.”

ANASTASIA OPPERMAN (13), GR. 8
Rondom haar was net donkerte en gille. Een van haa
Rondom haar was net donkerte en gille. Een van haar beste maatjies het onder die blok na Anastasia geroep: ‘Tasha, help, asseblief . . .’

“Vandag is die eerste keer ná die verskriklike voorval dat sy met krukke reg rondom die bed gestap het,” vertel Anastasia se pa, Dawie. Sy is steeds in die trauma-eenheid van die Milparkhospitaal in Johannesburg. Sy het ’n gebreekte bekkenbeen.

“Maar ons het hoop. Haar lang herstelpad is ’n klein prys om te betaal, want ons kind was onder daardie betonblok en sy leef.”

Dawie vertel die impak van die voorval op Anastasia is erg.

“Rondom haar was net donkerte en gille. Een van haar beste maatjies het onder die blok na Anastasia geroep: ‘Tasha, help, asseblief . . .’

“Dit vang haar nog. Maar ons werk daaraan. Haar rug was eers ongelooflik seer, maar ons begin nou verbeterings aan haar fisieke gesondheid sien. Maar emosioneel, ai, dit gaan nog sleg. Sy sien ’n klein krakie teen die hospitaalmuur, dan is sy bang.

“Wanneer ek vra of sy wil teruggaan skool toe, sê sy: ‘Ek weet nie.’ Ons ook nie. Dit het haar lewe omvergegooi. Al wat ons kan doen, is om te kyk wat die toekoms inhou. Dokters meen herstel kan nege maande duur; dat rehabilitasie ook ’n tyd sal duur. Maar sy leef.”

JUAN-LEE MILLER (15), GR. 9
Juan-Lee loop nog moeisaam met krukke nadat hy ’n fraktuur aan sy bekkenbeen opgedoen het.

“Die voorval spook nog by hom; hy ervaar heeltyd flitsbeelde,” vertel sy ma, Jessica.

“Sedert die voorval het ons tred met tyd verloor. Ek weet net hy is ’n week gelede uit die Mediclinic Vereeniging ontslaan. Dis alles genade van Bo.

“Ek was in die hospitaal waar ons jongste seuntjie vir ’n mangeloperasie sou gaan toe ek die oproep kry.

“Ek het heeltemal kop verloor. My ma het met haar karsleutels uitgehardloop en hom gaan haal. Sjoe, ons is dankbaar; so dankbaar.

“Juan-Lee loop nog moeisaam met krukke nadat hy ’n fraktuur aan sy bekkenbeen opgedoen het.

“Maar hy is ’n taai kind; hy wil die seer agter ’n glimlag wegsteek.

“Hy het vir ’n maatjie gesê hy wil die voorval toesluit en vergeet. Maar ons dink dis belangrik dat hy dit nie alles inhou en opkrop nie; daarom kry hy nou ook berading.

“Juan-Lee wil graag teruggaan skool toe. Maar hy sê hy wil net nie weer onder daardie brug loop nie.”

MILITA WEBER (17), MATRIEK
'Milita is ’n regte klein vegtertjie, en ons is so
'Milita is ’n regte klein vegtertjie, en ons is so dankbaar sy is vandag hier,' sê haar pa.

“In die dae sedert die voorval het ons besef ons is van die gelukkigstes,” vertel haar pa, Beyers.

“Milita is nog in die waakeenheid in die Die Wilgers-hospitaal in Pretoria, maar ons is positief. Die dokters ook. Haar L2-rugwerwel is aan die L1- en L3-­werwel geheg. Die operasie sou vier uur duur, maar dit was ná net twee en ’n half uur ’n groot sukses.

“Sy onthou nie veel nie. ’n Harde kraak, toe die slag van die val. Sy het met haar seer liggaam van die blok afgerol.

“Maar sy praat min oor die ongeluk; dis nog baie rou.

“Vandag staan sy bietjies-bietjies uit die bed uit op en gee klein treetjies. Die dokters sê ons moenie die herstelpad aanjaag nie.

“Maar sy herstel so goed dat sy nog voor 14 Februarie na ’n kliniek geskuif sal word. Daarna sal sy dalk voor die einde van die maand tuis wees.

“Milita wil graag teruggaan skool toe, maar ons weet nog werk is nodig. Sy kry weekliks berading en gebruik pynmedikasie.

“Sy is ’n regte klein vegtertjie, en ons is so dankbaar sy is vandag hier.”

NICO BARNARD (17), MATRIEK
Nico is nie bang om terug te wees by die skool nie
Nico is nie bang om terug te wees by die skool nie; hy wil net met sy lewe aangaan. Maar sy hart is seer.

“My seun is vandag (11 Februarie) terug skool toe,” deel Yolanda Barnard die blye nuus.

“Ons is onbeskryflik dankbaar dat hy net sy rug en elmboog seergemaak het; niks is gebreek nie. Hy is al ’n week tuis.”

Sy vertel sy het die oggend net voor die ramp ’n oorweldigende behoefte ervaar om vir haar kind se veiligheid te bid.

“Minute later het die oproep gekom: Nico het seergekry, dalk baie seer.

“Hy was op die brug toe hy voel dit beweeg. Toe val dit.

“’n Oomblik lank het hy op die beton gelê en toe afgeklim. Hy het tot by die trappe gestap, waar hy inmekaargesak het. Sy rug was baie seer.

“Onnies het hom na die boonste verdieping gedra, waar hy steeds die gille kon hoor. Hy wou so graag help, maar sy bene was lam. Hy kon niks doen nie. Hy het heeltyd vir my gesê: ‘Mamma, Roydon is dood.’

“Hy is nie bang om terug te wees by die skool nie; hy wil net met sy lewe aangaan. Maar sy hart is seer. Bitter seer. En my mammahart is nog seerder.”

JENNIFER DELPORT (14), GR. 9
Die brugramp het vir Jennifer met ’n neusbreuk, ’n
Die brugramp het vir Jennifer met ’n neusbreuk, ’n gebreekte enkel en bekkenbeen en ’n diep sny aan haar agterkop gelaat.

Sy is steeds in die trauma-eenheid van Johannesburg se Milparkhospitaal.

“Die brugramp het haar met ’n neusbreuk, ’n gebreekte enkel en bekkenbeen en ’n diep sny aan haar agterkop gelaat. Maar sy het oorleef, danksy die Here,” vertel haar pa, Willem.

“Dinge is nog baie rou. Ek en Adri, haar ma, monitor haar slaap- en gedragspatrone.

“Sy is stiller as gewoonlik. Maar ons wag vir haar om reg te wees. Ons wil haar nie dwing om ’n ding te herleef of om daaroor te praat nie. Ons gun haar al die tyd in die wêreld om te genees.”

Die dokters sê dit kan nege maande duur.

“Vir eers sal skool moet wag. Ons kan in hierdie stadium nie eens daaroor praat nie, al weet ons sy sal wil teruggaan skool toe om saam met haar vriende te wees.”

FOTO'S: VERSKAF