So gesels Juanita Loubser, een van die stigters van die suksesvolle Boks vir ’n Boervrou-projek. “En die blommetjies aan die doringbome, wat nou ná die bietjie reën bot, maak die diere op die plaas vet."

Sy en die ander lede van die Vrouelandbouvereniging (VLV) op Wellington in die Boland, het 33 000 bederfboksies van gulhartiges van reg oor die land ontvang, gevul met luukses vir vroue op die plaas, soos handeroom en sjokolade. Boonop is dit met liefde gepak.


“Die mense bel en vra of hulle weer moet pak,” vertel Juanita, maar vir nou fokus hulle op hul VLV-tak se feesvierings wat op 18 April 90 jaar oud word.

“Ons dink daaraan om boervroue uit droogtegeteisterde gebiede vir die partytjie te nooi sodat ons hulle met ’n haarsny en lekker ete kan bederf,” vertel Juanita.

Met hul projek het hulle 11 700 boervroue landwyd bereik omdat hulle drie bokse elk kon kry.

Daar is plekke waar hulle gaan aflewer het wat intussen reën gekry het. “Die boere stuur foto’s van hoe die veld en damme voor en ná die reënval lyk. Hulle is versigtig optimisties, want daar moet nog baie opvolgreën wees,” voeg Juanita by.

Uit Middelburg in die Oos-Kaap het die nuus by hulle uitgekom dat dit tussen 100 mm en 200 mm in die omgewing gereën het. In die Noord-Kaap was daar ook donderbuie. Op sommige plase het die reënmeters 5 mm gemeet, terwyl 20 mm op die dorp geval het.

“Ons is net bly ons kon veral oor Kersfees ’n verskil maak,” sê Juanita.

Op Sutherland in die Wes-Kaap is dit “droog en ellendig”, vertel Sybil Visagie, wat die Save the Sheep-veldtog van stapel gestuur het van hul plaas in daardie geweste.

Sy samel geld in om onder meer voer op plase te gaan aflewer waar skape niks het om in die veld te eet nie. Vroue help brei aan skapies wat hulle aanlyn verkoop. En nou is daar ’n aanlyn winkel om koekies te koop wat vroue en hul boere op die plaas vir ’n alternatiewe inkomste bak.

“Die boere maak nie meer geld uit skape nie, maar met die koekies wat hulle bak,” vertel Sybil, wie se eie geharde man inspring om te help.

“Dis wonderlik om in die sosiale media te sien hoe in die graslanddele waar 50 mm reën geval het, die saadjies ontkiem en alles groen word,” vertel sy.

“Ons droë bossies word deur genoeg ondergrondse vog aangeskakel, maar daar moet opvolgreën wees en nie net vinnige buie nie.”

Hulle sou eers net oor Kersfees met die koekieverkope aangegaan het, maar vir baie boere is dit steeds die enigste uitkoms. “Die mense op die plase gebruik die inkomste vir agterstallige skool- en studiegeld vir hul kinders,” vertel Sybil.

“Die behoefte is so groot, ons kan nie stop nie. Dit bring 'n bietjie geld in die huis. En hoop.”

Droogte
Boere op Vanwyksvlei is hoopvol nadat ’n jaloersbui in dié streek uitgesak het. Foto: Facebook