Hulle is die kinders wat nie die luukse ken van die jongste speelgoed en digitale nuutjies of selfs ’n Kersboom in die huis nie. Hulle is gebore tydens ’n versengende droogte wat in party streke al tot sewe jaar voortduur.

Hul vroegste herinnerings aan Kersgeskenke is ’n fraai toegedraaide boksie vol lekkergoed, of een met mooi klippies daarin wat Pa vir hulle op die plaas opgetel het.

Terwyl mense landwyd Kersfees met swaargelaaide kostafels en ’n magdom geskenke onder die Kersboom vier, is daar op plase in die wurggreep van die droogte weinig om dit ’n vreugdevolle tyd te maak – behalwe natuurlik hoop, geloof en liefde.

“Ons het drie jaar laas ’n Kersboom gehad,” vertel Hester Maasdorp (64) van die plaas Zuurwater in die Aggeneys-distrik van die Noord-Kaap, waar sy saam met haar man, Deon (58), en hul jongste, Waldo (24), boer.

Dan verduidelik sy die groenigheid van so ’n boompie herinner hulle te veel aan die kaal vlaktes sonder ’n bossie vir hul geliefde diere om te vreet.

“Daar is nie geskenke onder die boom soos ander jare nie,” vertel dié ma van vier en ouma van ses.

“Maar ons kinders het daarmee vrede gemaak.”

Hester het onlangs ’n vrou oor die radio hoor praat oor ’n gepiekelde varkboud en kalkoen vir die Kerstafel. Vir Hester het dit geklink soos iets uit ’n ander lewe; ’n ander wêreld.

Hester en Deon
Hester en Deon Foto: Verskaf

“Ons sal maar kossies bymekaarsit. Al is dit net ’n broodjie en vleis op die braai,” sê sy oor hul Kersmaal. Maar selfs op die droogtegeteisterde plase van die Noord- en Oos-Kaap is Kersfees vanjaar nie net nog ’n dag op die kalender nie.

Die boere put steeds vreugde uit samesyn met geliefdes en ook die dieper betekenis van dié dag.

Al is die veld op hul plaas, Watsonia naby Somerset-Oos in die Oos-Kaap, “net stokke en stof”, sê Anel Meaker (47): “Dis eersdaags Kersfees; nou bons mooi woorde in my binneste rond. Geliefdes kom kuier. Almal bring iets vir die tafel wat weer onder die gewig van seën sal kreun.”

Anel en Graham
Anel en Graham Foto: Verskaf

‘Geskenke is nie nodig nie. My mense is hier’

In haar en haar man, Graham (49), se opstal word die Kersboom en Kersornamente soos elke jaar uitgehaal. “Om ons te herinner aan ’n nuwe lewe, ’n geboorte, ’n wonderwerk,” sê Anel.

“Ek is dankbaar, want genade, nuwe kanse, vergifnis, groei, liefde en hoop – kan jy glo? – skoppelmaai in my gemoed. Geskenke is nie nodig nie. My mense is hier.”

Dit is net so droog in die Noord-Kaap, waar Bobby en Trudie Human, albei in hul 50’s, op die plaas Rosenhof by Carnarvon boer.

Trudie en Bobby
Trudie en Bobby Foto: Verskaf

“Dit is moeilik om te hoor hoe van geskenke gepraat word, maar ons kinders verstaan dat dit moeilike tye is en ons kleinseun is nog te klein om te verstaan,” sê Trudie.

Dis sy eerste Kersfees. “Ons is gestroop en uitgeput en voel skuldig om iets te geniet terwyl ons diere honger is en die natuur swaarkry,” sê Bobby.

En voeg by: “Tog is dit juis die niks wat Kersfees vir ons waar maak. Jy is gestroop van die eie ek en jou hoop is net op Jesus, die seun wie se geboorte ons met Kersfees vier.”

Op die familieplaas Modderfontein in die Sutherland-distrik is Abra “Kees” van Wyk (38) die agtste generasie wat hier boer. Sy en sy vrou, Elke, se vier- en tweejarige dogters is albei “droogtebabas”.

Nes soveel ander boere wat weens die droogte spartel om finansieel te oorleef, moet hulle ook oor die feestyd elke rand laat rek.

kersvader
Op Swael­fontein naby Vosburg kom kuier Kersvader (David Botha) op ’n waentjie. Foto: Verskaf

“Ons moet mooi koop, ’n 10de van in die tyd voor die droogte. ’n Kersgeskenkie is ietsie kleins. Dis die gedagte wat tel,” gesels Kees.

Elke en Kees
Elke en Kees Foto: Verskaf

Sy vrou “is baie oulik op daai trant”, sê hy. Sy sal ’n klomp boksies met lekkertjies toedraai en onder die boom sit.

“Ons is in die Tankwa-Karoo, en daar is baie kwarts op die plaas. Ek tel mooi blink klippies op vir my oudste dogter om in ’n boksie toe te draai. Sy sal dit baie waardeer,” sê hy.

Noudat hulle elke sent moet omdraai, vra hy homself soms af of hy ooit moes begin het om voer vir sy vee te koop. “Moes ek nie maar dadelik my skaap verkoop het nie?” vra hy.

En dan saggies; hoopvol: “Maar sê nou dit reën volgende week?” Hulle bid daagliks vir reën, sê Koos Schoeman (60) van Bosberg naby Somerset-Oos.

Rene en Koos
René en Koos Foto: Verskaf

“Maar dit is nie enkele gebede nie, want jou gedagtes is deurentyd gevul met die hopeloosheid van jou omstandighede; jy praat eintlik deurentyd met die Here en vra reën en uitkoms vir die diere en vir ons as boere.’’

Hulle beplan ’n lekker Kersete waarheen hulle ook hul bure sal nooi. “Ons versier ’n Kersboom,” sê sy vrou, René. “Ons kinders is gelukkig al groot en elkeen koop net een geskenk vir iemand anders in die familie.”

Hulle het twee dogters van 25 en 21 en ’n seun van 24 wat in Amerika op ’n plaas werk. “Ons hou ’n diens op die plaas; dan sal ons saam bid, veral vir reën,” sê René.

Die Karoo ruik oor die feestyd “na vanielje”, sê Sybil Visagie (52) van die plaas Rooipoort naby Sutherland. Sy verduidelik: “Die boervroue en selfs die boere is aan die bak om geld te verdien – dis meer geld vir 50 kg koekies as vir 50 kg skaap.”

In samewerking met die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies het die boervroue 600 g-pakke koekies op bestelling begin bak. Meer as 1 900 bestellings het al ingestroom.

kerskoekies
Koekieverkope is een van die projekte wat boere landwyd help. Foto: Verskaf

“Met ’n ekstra geldjie kan boere koffie en ’n baal voer bekostig,” vertel Sybil, wat ook met die Save the Sheep-projek begin het om geld vir veevoer in te samel.

Nog ’n projek van haar is om Kersvreugde vir boere en hul gesinne te bring. “Ek is besig om van oraloor ou speelgoed in te samel soos Barbiepoppe wat gewas en waarvan die hare ’n bietjie gestryk kan word. Vir ’n meisie op ’n plaas in die droogte kan dit baie geluk bring.”

Soos vir die driejarige Olivia Fourie van die plaas Bonekraal sowat 100 km van Calvinia. Sy was in haar noppies toe haar ma, Kirsten (44), ’n bederfboks met geskenke danksy die Boks vir ’n Boervrou-projek van die Vrouelandbouvereniging gekry het.

Toe Olivia ’n handdoek sien wat hulle onder meer gekry het, het sy uitgeroep: “Liewe Jesus het dit vir my gestuur!”

Sy was ook opgewonde oor ’n blikkie suikermielies. Kirsten het vir Olivia ’n speelgoedstelletjie potte en panne tweedehands vir Kersfees gekoop.

“Ons hou by die tradisies van Kersfees, maar die geskenke onder die boom word ál minder,” fluister sy oor die foon sodat hul twee oudste kinders, ’n 11-jarige dogter en ’n agtjarige seun, nie sal hoor nie. En tog sal die Kerstyd spesiaal wees. Vriende kom kuier en sal lekkernye saambring.

“In die vakansie gaan ons in die veld uitkamp of in die kuil swem. Dis amazing om agter te kom dat ons tyd saam met die kinders vir hulle die grootste geskenk is,” sê Kirsten.

“Ons kinders is tevrede met klein dingetjies,” sê haar man, Louis (46). “Hulle kom agter die plaashuis is lekker ruim. Al het hulle maatjies op die dorp flashy goed, bly ons in ’n opstal van 500 m², wat bewys daar was al geilgeit op die plaas.”

Sy hande staan vir niks verkeerd nie, ook nie vir koekies bak nie. “Ons het al 150 kg in twee dae gebak,” spog Louis.

“Met die wins van die koekies kan ons aangaan nader na die reëntyd toe. Dit sal ons help om vinniger weer op die been te kom,” gesels hy hoopvol oor die toekoms.

Want ná die maer jare sal daar wel weer ’n tyd van “geilgeit” aanbreek, en ’n Kersfees wanneer dankgebede sal opklink vir die milde reën wat oor die eens dorre aarde uitgesak het.

Help die boere