Langs die plattelandse paaie van die Oos-Kaap hang 'n tasbare vrees en wanhoop in die lug. 

Van Port Elizabeth aan die kus tot Steytlerville; van Wolwefontein tot Klipplaat; en van Jansenville tot by Graaff-Reinet is mens en dier in die dodelike wurggreep van die skynbaar oneindigende droogte. Waar eens weiding was is daar nou net stof, klippe en dooie skape. Hulpverleningsorganisasies soos Water Warriors en Gift of the Givers vertel die landboukrisis verdiep by die dag; en dat hulle al hoe meer pleidooie om hulp kry. 

“Baie boere is nog in 'n droogtestryd gewikkel. Die verwoesting van die afgelope ses jaar is 'n wrede werklikheid wat plek-plek twee uit drie vee geneem het. Daarvan spreek die geraamtes van skape wat daagliks vrek. Dis 'n werklikheid van geen spaargeld meer nie, geen versekering, nagte wakker lê oor vee wat die volgende oggend gaan kom kos soek, leë spense en geen geld om verslete klere te vervang nie,” skets Water Warriors die situasie.

“Die toestande op plase tussen Port Elizabeth en Graaff-Reinett is hartverskeurend. Droogte het boere se bankrekening leeggesuig en niks bly oor behalwe 'n daaglikse stryd om families kos te gee en vee aan die lewe te hou nie.” 

Gift of the Givers het ook die afgelope ruk benadruk dat die pleidooie om hulp van boere en ander plattelandse inwoners van die Oos-Kaap toenemend desperaat raak. Plek-plek eet mense wilde plante, skilpaaie en selfs honde en katte.

oos-kaapse droogte
Verskaf/SA Water Warriors

En praat jy self met boere in die streek, is dit asof die kwaai droogte van 2015 net nooit vir hulle opgehou het nie. Hulle kan maar net magteloos  aanhoor hoedat goeie reën in die aangrensende Wes-Kaap die vernaamste damme laat oorloop; en hoe saaiboere elders verwag om amper 90% meer mielies uit te voer as in 2019.

“Dit het in Januarie gereën, maar die droogte is nie naastenby gebreek nie. Ons het omtrent 70 mm vir die jaar gehad terwyl ons 350 mm nodig het om te kan boer. Hier’s niks, dis net klippe . . . die karoobossie, die vernaamste natuurlike weiding, is net stompies, baie skraps en droog. Ons moet diere heelpad uit sakke voer,” verneem ons van Magda Josephs, wat saam met haar seun Roche op die plaas Jakkalskloof naby Steytlerville met kleinvee boer.

droogte
Verskaf/Linda Bekker

“Dit het vanjaar bietjies-bietjies gereën, maar nie regtig so dat iets kan opkom nie,” beaam Hannes Gouws wat op Brakplaas in die Wolwefontein-omgewing met hoofsaaklik dorper-, damara- en merinoskape en angorabokke boer. “Ek het sedert verlede jaar omtrent 135 dorper, 20 merino en in die 30 angora net aan droogte verloor."

“Dit het jare laas behoorlik gereën. Die grondwater wat ons vir diere pomp is baie laer as 'n paar jaar gelede, en water vir huishoudelike gebruik ook skraps. Baie mense se opgaartenks is al dolleeg. Onsself moet water aankoop, en 'n dierbare vriend met meer water help ons ook,” vertel Linda Bekker van die plaas Voorspoed, sowat 40 km duskant Jansenville. Sy boer ook merendeels met kleinvee.

oos-kaapse droogte
Verskaf/Linda Bekker

Selfs die noors – 'n soort vetplant wat boere as ruvoer opkerf maar nie die nodige voedingswaarde het nie – “is in 'n swak toestand. En as die noors omval, dan weet jy dis droog,” vertel Linda. 

‘DIE DROOGTE KNIÉL ONS . . .’

“Almal moes voer koop. Party wat geldelik sterker is kan dit bekostig, maar daar’s baie ouens wat regtig skaars deurskraap. Mense se gemoedstoestand is tans baie sleg. Daardie jammerlike geblêr as jou honger diere jou kom kos vra en jy weet jy het net soveel per dag om te gee. Dít kan 'n mens klaarmaak," sug Linda.

“Jy staan soggens soms moedeloos op omdat jy nie jou diere kan help soos jy wil nie,” beaam Hannes. “Die voer wat ek gekoop het net om hulle aan die lewe te hou, het ons 'n rukkie deurgedra, maar nou’s dit weer back to square one.

oos-kaapse droogte
Facebook/SA Water Warriors

“Party boere jaag hul vee langs die treinspoor in om te kyk of hulle nie daar iets te vreet kan kry nie."

Kleinvee verloor ook hul lammers weens die droogte se impak op hul toestand, voeg Magda by. “Ons moet ooie heelpad probeer help, anders is daar geen aanteel nie.” En weens die dorre toestande en omdat die kleinvee so swak is “het die ongediertes ook onbeheerbaar geraak. Rooikatte, jakkalse en bobbejane maai ook onder hulle.

“Dit alles het ons meer as 50 jong bokke, sommiges so jonk as nege maande, laat verloor.”

oos-kaapse droogte
Verskaf/Linda Bekker

Die boere se benarde situasie het 'n groot rimpeleffek op hul plattelandse gemeenskap. “As die boere nie kontant het nie, kry al die ondernemings swaar,” sê Magda. “Jy huur ook nie meer mense nie, jy probeer maar self sien kom klaar, want waarmee gaan jy hulle betaal?”

“Dis moeilik om vir werkers te sê ek kan jou nie meer in diens hou nie. Ons het probeer plan maak. Die een week werk die een en die volgende week 'n ander. Maar die droogte kniél ons,” sê Hannes.

“Hier in Jansenville sit menige mens sonder werk,” vertel Linda. “En skeerders en ander seisoenwerkers het niks om op terug te val nie. Op baie tafels is daar nie kos nie, want daar’s net nie meer 'n inkomste nie.”

Sy, Hannes en Magda benadruk veevoer sal 'n praktiese manier wees om verligting vir boere in die streek te help bring. “Ons hoop en bid ons kry voer van iewers. Mielies, lusern, voerpille, grasbale . . .” sê Magda.

oos-kaapse droogte
Verskaf/SA Water Warriors

Maar kospakkies vir die mense wat dit regtig nodig het en gebottelde water sal ook uitkoms help bring.

“Mense dink regtig aan moed opgee,” sê Magda.

oos-kaapse droogte
Facebook/SA Water Warriors

Van “moedeloos” tot “weer 'n bietjie hoop die volgende dag”, is hoe Linda die algemene stemming onder boere in die streek opsom.

“Die meeste van die tyd wonder jy: Waar gaan ons heen?”

Water Warriors beplan 'n uitreikaksie na boere in die Oos-Kaap einde vandeesmaand. Mense wat wil help met voer- of kosskenkings kan hul Facebook-blad besoek. Gift of the Givers en Agri SA ondersteun ook droogtegeteisterde landbougemeenskappe.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe