Die droom laat jou kopkrap en wonder of enige “dieper betekenis” daaragter skuil.

Dan is daar nagte dat dieselfde droom net nie wil wyk nie. Erger nog, in elke droom verskyn iemand spesifieks.

Jou ma, jou pa, 'n familielid, die liefde van jou lewe, 'n eks, oudonderwyser of jou baas – hulle duik gereeld op in jou droomwêreld.

Maar wat beteken dit nou eintlik? 

Mis jy jou ouers? Beteken dit jy en jou eks hoort eintlik saam of moet jy dalk 'n ander werk kry?

Hoewel dit nie ongewoon is om herhalende drome te droom nie (twee derdes van die samelewing ervaar dit), meen kenners sulke drome het wel 'n sielkundige grondslag.

Gelukkig (of ongelukkig?) moet hierdie drome van iemand wat herhaaldelik daarin verskyn nie so letterlik verstaan word nie. En dis beslis nie 'n teken dat jy die res van jou lewe saam met die man of vrou in jou drome moet deurbring nie.

"Die werking van ons verstand stem baie ooreen met 'n rekenaar s'n," verduidelik dr. John Mayer, 'n kliniese sielkundige in Chicago.

“Terwyl ons slaap hou ons verstand aan met werk. Dit hou nie skielik op werk of word bloot afgeskakel tot jy wakker word nie. Mense het die opvatting hul gedagtes is 'leeg' wanneer hulle slaap, maar die brein werk gedurig deur.”

John sê 'n mens moenie die verskynsel dat iemand herhaaldelik in jou drome verskyn, letterlik interpreteer nie. So iemand simboliseer moontlik 'n spesifieke angstigheid of stres wat jy ervaar. 

“Die drome verskil ietwat van nag tot nag, maar die tema wat bly herhaal, is gewoonlik iets wat in jou gedagtes is wat jy bedags saam met jou dra, soos 'n stryd wat jy met die persoon ervaar, verlange na iemand, of iets aan hulle wat jou pla.

"Gewoonlik droom 'n mens sulke drome tot jy 'n manier bedink het om die situasie op te los en jy vrede daarmee gemaak het." 

Bronne: Mirror; EliteDaily