Eenkant het die pronkstuk, die troukoek, gewag om gesny te word. Ook die klankstelsel was reg vir die oomblik wanneer die dansbaan geopen word met Dirk van der Westhuizen se romantiese liedjie “Fairytale”.

En Trudie Swanepoel hét soos ’n sprokiesprinses gevoel in haar bruidsrok; haar hare in ’n keurige kapsel gedoen.

Ook die strooimeisies was reeds in hul mosterdkleurige rokkies geklee; die strooijonkers in spierwit hemde met leerkruisbande.

Sy en haar twee strooimeisies, Marlene Kloppers (l
Sy en haar twee strooimeisies, Marlene Kloppers (links) en haar suster, Lea Swanepoel. Foto: Elate Photography/Verskaf

Die 60 trougaste en die pastoor het reeds gewag.

Die bruidegom was wel ’n bietjie laat . . .

“Nie ek of my familie het vir een oomblik enige red flags gesien nie,” vertel Trudie (27) ons vandag.

Eindelik het sy haar aanstaande gebel.

En in ’n oogwink is haar toekomsdroom verpletter.

“Ek gaan nie kom nie. Kom ons los alles,” het sy Martin Strydom (35) hoor sê.

Martin en Trudie tydens hul verlowingsfotosessie i
Martin en Trudie tydens hul verlowingsfotosessie in Augustus 2019. Foto: Elate Photography/Verskaf

Selfs in hierdie hartseer oomblik het sy haar kop hoog gehou.

Sy het op ’n stoel gaan staan en aangekondig: “Daar gaan nie ’n troue wees nie. Julle kan môre daaroor skinder, maar vir nou, kom ons hou steeds makietie.”

Martin se ma het haar probeer troos en sy broer het die leisels oorgeneem. Net die pastoor is vroeg huis toe, want hy had geen rol meer nie.

“My amper-swaer het toe die dansbaan saam met my geopen, want dis immers ’n troue, en op troues word daar gedans . . .”

Dit was dieselfde liedjie waarop sy met haar bruidegom sou dans, maar van ’n “Fairytale” was g’n sprake meer nie.

Met elke ondersteunende drukkie het Trudie se trane gevloei. En nou gaan die verpletterde sprokie in die hof draai. Want Trudie neem regsaksie teen die ridder op wie sy tevergeefs gewag het.

Stefan Fourie, die prokureur wat Trudie se eis teen Martin behartig, verduidelik sy het haar voormalige bruidegom gedagvaar om skadevergoeding vir die emosionele impak van sy besluit om haar voor die kansel te los sowel as vir kontrakbreuk vir die geldelike verlies van dít wat sy aan die troue bestee het.

Martin het nie ’n verdediging aangeteken nie.

Dis koud op Bredasdorp en Trudie se mosterdgeel trui laat ’n mens onwillekeurig aan haar strooimeisies se rokkies dink. Maar agt maande nadat haar aanstaande kleinkoppie getrek het, is sy enkellopend in die inperking.

“Daardie dag, 5 Oktober 2019, was veronderstel om die gelukkigste dag van my lewe te wees. Ek sou die res van vir altyd saam met die liefde van my lewe begin en die dag altyd onthou. Vandag weet ek ek sal daardie dag nooit vergeet nie, maar nie vir die rede wat ek aanvanklik gedink het nie,” vertel Trudie, ’n administratiewe klerk by ’n rekenmeestersfirma.

Sy en Martin, ’n kettingwinkelbestuurder, was 10 jaar in ’n verhouding en twee jaar verloof voor hulle sou afhaak.

Hulle het reeds ’n huis met twee honde gedeel. Sy was baie opgewonde, en die reëlings vir die groot dag het glad verloop.

Die paartjie in Desember 2017. Martin en Trudie wa
Die paartjie in Desember 2017. Martin en Trudie was 10 jaar in ’n verhouding en twee jaar verloof voor hulle sou trou. Foto: Verskaf

“Hy was vreeslik betrokke by die troue. Hy het gehelp om ons uitnodigings te stuur. Hy het self die tafeldekor uitgekies.

Ek wou nie ’n groot, fancy troue hê nie. Ek sou gelukkig wees om in die hof te gaan trou. Maar hy wou ’n troue hê waarheen almal genooi is,” vertel sy verder.

“Die dag voor ons troue het hy na my ma-hulle gegaan en vertel hoe opgewonde hy is om met my te trou. Daardie aand, die Vrydagaand, stuur hy my ’n SMS en sê hy kan nie wag dat ek sy vrou word nie.”

En toe breek die blye dag aan – en sy wag en wag . . .

En toe kom daardie telefoongesprek.

“My grimering was gedoen, my hare mooigemaak; my strooimeisies en ons albei se ma’s s’n ook. Maar ek is verniet mooigemaak. Die bruidegom het laat weet hy gaan nie opdaag nie. Hy gaan dit eerder los.

Die bruilof­tafels was reeds gedek. Foto: Elate Photography/Verskaf
Foto: Verskaf/Elate Photographyy
Foto: Verskaf/Elate Photographyy
Foto: Verskaf/Elate Photographyy
Foto: Verskaf/Elate Photographyy

En dit op die dag van die troue. Nadat als klaar reg was, nadat al 60 gaste reeds opgedaag het, en die pastoor wag om die seremonie te begin.”

Dit was ’n oomblik van absolute ongeloof vir haar.

“ ’n Mens lees in stories hiervan, of sien dit in ’n movie en dan dink jy ‘shame, daai arme vrou’. Nou is ék daardie vrou,” sê sy.

“Ek weet hy het die volste reg gehad om nie met my te trou nie, maar pleks hy iets gesê het in die twee jaar dat ons verloof was. Voor sy broer al die pad van Ierland af ingevlieg en my familie van die Vrystaat af deurgery het.”

Trudie moes die nuus aan hul gaste deel dat Martin
Trudie moes die nuus aan hul gaste deel dat Martin nie sou opdaag nie. Foto: Elate Photography

Trudie het hom gevra om ten minste na die troue te kom, al gaan hulle nie met die plegtigheid voort nie, omdat al sy mense ook reeds daar was.

“Hy het ’n besluit gemaak en hierdie ongemaklike situasie geskep. Hy kon kom en man-up, maar toe wou hy nie.”

Sy was in trane toe sy op daardie stoel klim om met die trougaste, wat toe reeds snuf in die neus begin kry het dat iets verkeerd is, te praat.

“Ek het besluit die aand moet steeds gevier word. Tussen die trane en hartseer sál ons troue hou, al trou ek nou met myself. Want almal het moeite gedoen om te kom.”

Sy en Martin se broer het selfs die koek saam gesny en daarvan geëet. Martin se familie was net so ontsteld en teleurgesteld oor die nuus.

Trudie het besluit om steeds bruilof te hou. Foto:
Trudie het besluit om steeds bruilof te hou. Foto: Elate Photography/Verskaf

“Dit was effens ongemaklik. My familie en sy familie is almal saam daar, maar is outomaties in ‘groepies’ verdeel. Ons vra nie te veel vrae nie, want daar is nie nou antwoorde nie.”

Sy en haar vriende het egter tot in die vroeë oggendure makietie gehou.

“Wie kan ooit sê hulle het ’n breakup al só gevier,” sêvra sy en lag uit haar maag. Maar sy onthou maar alte goed dat sy deur die loop van daardie “bruilof” baie gehuil het.

“Ek moes net daardeur. Al is dit seer en al breek my hart in stukkies.”

Op die bruid en bruidegom se tafel was ’n bordjie met woorde uit ’n gedig van Antjie Krog: en as ek die dag my hand in joune sit / sal ek my padkaarte bêre met die wete: / my reise op soek na jou is nou verby.

Foto: Verskaf/Elate Photographyy
Foto: Verskaf/Elate Photographyy

“Ek het dit werklik geglo,” sê Trudie.

“Ons was ná 10 jaar saam reg vir die volgende stap, vir kinders. Ek was reg om my padkaart weg te bêre.”

Haar trourok. Foto: Elate Photography/Verskaf
Haar trourok. Foto: Elate Photography/Verskaf

Die dag ná die mislukte bruilof is sy terug na die woonstel wat hulle gedeel het om haar goed te pak. Hy was nie tuis nie.

“My hart is stukkend, my siel verniel, my padkaart is nie gebêre nie en my lewe moet van voor af begin,” sê sy moedig.

“Ek dink werklik nie hy is ’n slegte mens nie, bloot dat hy nie die waarheid in die gesig kon staar nie. Ek is nie kwaad nie. Ek wens hom steeds geluk toe, want elkeen van ons verdien geluk.”

Volgens haar het hulle geen kontak nie. Hy het ook nooit verskoning gevra nie. Maar sy wil nou hierdie hoofstuk toemaak sodat sy ’n nuwe een kan aanpak.

“Ek beplan om regte te gaan studeer. Eintlik moet ek Martin bedank. Dankie dat jy my die kans gegun het om weer te begin, nuut te wees, nuwe ervarings te bou, avontuur te beleef en te weet hoe sterk ek sonder jou kan wees.” 

  • Martin het by navraag versuim om kommentaar te lewer.