“Dit was my droomtroue. Dit was perfek,” sê Larami aan Huisgenoot

’n Seldsame maagkanker is by haar gediagnoseer en sy ontvang tans chemoterapie daarvoor. Dokters kan steeds nie vasstel of die kanker terminaal is nie. 

“Nadat ek met chemoterapie begin het, het my hare binne die eerste twee weke uitgeval.” Sy moes onder haar laventelkleurige sluier ’n pruik vir haar groot dag dra wat op 1 Mei by die Centurion Hospice plaasgevind het. Sy het juis laventel gekies omdat dit haar gunstelingblom is.

Die ruiker was ook van laventel. 

Sowat 30 gaste het die geleentheid bygewoon toe sy trou aan haar man, Otto, ’n bode, beloof het. 

Larami en Otto is ou skoolliefdes
Larami en Otto is ou skoolliefdes. Foto: Verskaf

Larami het in haar wit-en-pers trourok gestraal toe sy op die maat van Jak de Priester se "Lara" die paadjie afstap. Die liedjie was heel gepas vir die troue, want dit gaan oor twee kinders wat op mekaar verlief raak en jare later eindelik by mekaar uitkom.

Otto Meyer (38) en Larami het as tieners aan die Kwaggasrand Skool in Pretoria-Wes op mekaar verlief geraak. 

“Ek was 13 jaar oud toe Otto my gesoen het. Dit was my heel eerste soen – en hy sal my moontlik ook my laaste soen gee,” sê Larami. 

Sy het in gr. 10 na 'n ander provinsie verhuis en die twee het met briewe en telefoonoproepe in kontak gebly. 

Sy is later getroud en geskei en dié twee se liefdesverhaal het so twee jaar gelede weer op Facebook begin. 

Larami het met haar Otto by die Centurion Hospice
Larami het met Otto by die Centurion Hospice afgehaak. Foto: Verskaf

Sowat twee jaar terug, nadat hulle saam ingetrek het, het Larami siek geword. Sy het 18 operasies ondergaan en haar baarmoeder en eierstokke is verwyder.

Die operasies het oor twee jaar plaasgevind en dokters het eers verlede Desember uitgevind sy het kanker.  

“Dit was vir my ’n groot skok. Veral omdat dokters nie vir my kon sê of ek dit gaan oorleef nie. Die kanker is so skaars dat daar min studies gedoen is op mense van my ouderdom met die soort kanker.” 

Otto het haar kort ná haar diagnose gevra om te trou. 

Larami is vasberade om die kanker te oorwin en haa
Larami is vasbeslote om die kanker te oorwin en haar lewe saam met Otto deur te bring. Foto: Verskaf

Selfs tydens haar behandeling is Otto altyd daar om haar te ondersteun. 

“Elke keer as ek siek raak van die chemo en verskoning vra vir die feit dat ek so hulpeloos en soveel moeite is, sal Otto vir my sê: ‘My vrou, jy is nie te veel werk nie. Dit is ’n voorreg om jou te help. Ek is lief vir jou nes jy is. Geen kanker of siekte gaan tussen ons kom nie.’ ”

"Sy is vir my steeds mooi – mooier as die eerste dag dat ek haar by die skool gesien het. Ek sal by haar wees vir die res van haar lewe. En wanneer sy doodgaan, sal ek weet dat ek haar gelukkig gemaak het,” sê Otto. 

Larami saam met haar ma, Sandra Burger.
Larami en haar ma, Sandra Burger. Foto: Verskaf

Larami, wat voorheen as paramedikus en kleuterskoolonderwyseres gewerk het, kan deesdae nie sonder hulp oor die weg kom nie. 

“Ek sukkel om te loop en ek het amper geen beheer oor my blaas nie.” 

Die paartjie het by die Centurion Hospice getrou nadat sy navraag gedoen het oor die binnepasiënt-eenheid en hoe sy te werk moet gaan as sy opgeneem sou word. 

Haar en Otto se liefdesverhaal het die Hospice-personeel so ontroer dat hulle besluit het om die troue vir hulle te beplan en te reël.

“Larami en Otto het nie 'n wittebrood gehad nie, want sy het twee dae ná die troue weer met behandeling begin.

“My grootste droom voor ek doodgaan is om op Tafelberg te staan. Ons was ook nog nooit in Kaapstad nie.”

Intussen sien sy uit na ’n vreugdevolle huwelik. 

“Ek het met die liefde van my lewe getrou. Ek hoop en vertrou dat die Here my sal seën met nog baie jare saam met hom. Ek móét hierdie kanker oorwin.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe