Al is sy meer as 25 jaar gelede verkrag, spook dit steeds daagliks by haar en dis hoekom sy vandag hier is vertel sy aan Huisgenoot.

Liandi se oë skiet vol trane toe sy oor haar verkragting asook dié van die Dros-slagoffer praat. 

“Dit is iets wat ’n mens nooit vergeet of verlaat nie. ’n Mens vergewe ook nooit nie,” sê die ma van een. 

Sy was te bang om by die hof in te gaan. “Ek voel ek wil hom stukkie vir stukkie in mekaar sny en die seerste seer maak,” sê sy en wring haar hande. 

Die 20-jarige Nicholas Ninow het vandag in die hof verskyn vir die verkragting van ’n sewejarige dogtertjie verlede week in ’n Dros in Pretoria. 

Nicholas het min emosie getoon toe hy in die beskuldigde bank van hof 17 in die Pretoria landdroshof verskyn. 

Hy het regop gestaan met sy breë skouers na agter behalwe toe fotograwe se kameras begin flits. Toe het hy sy gesig vinnig versteek. 

Liandi vertel sy was as 12-jarige meisie verkrag voor ’n netbaloefening by ’n openbare park. “Die man was in sy 30’s en tot vandag toe is ek paranoïes oor my eie dogter (wat 11 jaar oud is) se veiligheid.”

Sy sê sy hoop om die saak by te woon om berusting vir haar eie trauma te kry. 

“Ek hoop as die hof sien hoeveel mense sy kop eis, sal hy ’n swaarder straf kry,” sê sy.