Skuldig – dís hoe Nicholas Ninow vroeër vandeesweek op vier aanklagte gepleit het: Dié van besit van dwelms, twee van verkragting en een van regsverydeling.

Hy het skuld ontken op ’n aanklag van aanranding wat spruit uit Ninow wat glo omstanders bygedam het nadat hulle om in die toilethokkie in die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, saam met die meisie betrap het. Die aanklag van ontvoering is teen hom teruggetrek.

In ’n ontstellende getuienis wat ’n voormalige kinderoppasser van die Dros – wat teenwoordig was ten tyde van die voorval op 22 September verlede jaar – vandeesweek vertel hoe sy en ander werknemers Ninow in die toilethokkie betrap het. Sy gulp was oop en die meisie se spanbroekie was in die toilet afgespoel. Sy het intussen bedank omdat sy soos ’n “mislukking voel”.

Die verkragtingsaak het landwyd geskok en gewalg – en vandeesweek het verskeie organisasies hul kommer uitgepsreek oor die meisie se getuienis en die moontlike traumatiese impak wat dit op haar lewe en herstelproses mag hê.

“Vandag is ’n baie senstiewe dag in die hofverrigtinge,” sê Marinda Jordan, stigter-direkteur van Women and Men Against Child Abuse (WMACA), Woensdag aan Huisgenoot.

“Daar is altyd kommer wanneer ’n minderjarige slagoffer van verkragting getuig. Ons vertrou dat die aanklaer die nodige stappe gedoen het om te verseker dat die slagoffer se identiteit en psige beskerm word.”

Nicholas Ninow in die Noord_Gautengse hoogeregshof
Nicholas Ninow in die Noord_Gautengse hoogeregshof. Foto: Gallo Images/Getty Images

Miranda sê die organisasie doen ’n beroep op diegene wat vandag hofverrigtinge bywoon om te onthou dat die meisie se getuienis “potensieel traumaties” kan wees en dat haar privaatheid ten alle tye beskerm moet word. 

Die meisie sal deur middel van kringtelevisie in camera getuig. Twee hof-voorbereidingsbeamptes en ’n tussenganger sal haar ook bystaan. Die media word alvorens ’n uitspraak van Regter Jonas Mosopa nie in die hof toegelaat tydens die getuienis nie.

“Sy is dapper genoeg om hierdie getuienis te lewer in haar reis om hierdie voorval agter haar te sit,” sê sy.

Weens hierdie uitsprake het die Nasionale Vervolgingsgesag reeds Dinsdagaand gesê hy neem kennis van die kommer wat hierdie organisasies oor die meisie se welstand opper, maar dat die doel van haar getuienis nie is om haar in ’n “posisie te plaas waar sy die traumatiese gebeurtenis moet herleef nie”.

Phindi Mjonondwane, Gautengse woordvoerder van die NVG, sê dit is vir die organisasie ’n top-prioriteit om slagoffers van sulke misdade te beskerm.

“Ons besef Ninow het reeds skuldig gepleit op die aanklagte van verkragting, en aangesien dit nie in geskil is nie, hoef daardie getuienis nie voor die hof geplaas te word nie,” sê sy.

Nicholas Ninow in
Foto: Gallo Images/Getty Images

Vroeër vanjaar het ’n bron naby aan die saak aan Huisgenoot gesê dit gaan met die slagoffer van die verkragting en haar ma steeds nie goed nie.

“’n Mens kan net hoop en bid dat genesing sal kom. Die meisie en haar ma kry steeds sielkundige behandeling. Die berading is ’n hele proses. Dis belangrik vir die ma om daarby betrokke te wees omdat sy net so getraumatiseerd is.

“Nes enige ma vra sy haarself af: Kon ek nie iets gedoen het nie? Wat as ek gouer gaan kyk het of sy oukei is? Maar hulle is in goeie hande. Hulle het nog ’n lang pad om te stap en daar word mooi na hulle gekyk.”