Maande lank het sy by haar laatlam se hospitaalbed gewaak en gebid die dogtertjielyfie moet die stryd teen kanker wen.

Dit was haar moederhart se enigste begeerte; niks anders het regtig saak gemaak nie.

Selfs die knop in haar bors het sy aanvanklik geïgnoreer – haar gedagtes was pal by haar kind.

Chemoterapie

Twee jaar lank het Erica Rhoode (nou 51) saam met klein Alexis (nou 7) teen die kanker in haar lyfie bly veg – en toe word borskanker by háár gediagnoseer. Nadat Erica ’n mastektomie ondergaan het, het ma en dogter maande lank albei gelyk chemoterapie gekry.

Maar vandag, noudat Alexis se siekte eindelik in remissie is, moet Erica die tyding verwerk dat die kanker by haar so versprei het dat dokters haar nie meer kan help nie.

Dit is ’n wrede wending wat sy nie kon voorsien toe kanker vier jaar gelede by haar kind gediagnoseer is nie.

“Kom, Alexis, ek kan nie al die praatwerk doen nie,” por Erica haar jongste aan. Die meisietjie sit styf onder haar ma se vlerk hier in die Rhoodes se leefkamer op Moorreesburg.

Ons kan damme vol maak met ons trane.

Haar blougroen oë is opvallend onder haar kaal koppie wat al sy hare weens die chemoterapie verloor het. Sy is eers skaam, maar glimlag dan vanuit die veilige hoek van haar ma se arm.

Alexis is versot daarop om met haar poppe te speel
Alexis is versot daarop om met haar poppe te speel. Sy speel ook graag netbal, doen ballet en hou van swem. Foto: Corrie Hansen

Ma en dogter probeer moedig lyk, maar toe hul verhaal stuk-stuk ontvou, skemer die pyn deur.

“Ons kan damme vol maak met ons trane,” sê Erica sag.

Klein Lexi, soos haar geliefdes haar noem, was net drie jaar en agt maande oud toe dokters die gesin in Februarie 2015 in die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad meedeel sy het neuroblastoomkanker.

’n Paar weke tevore het sy gekla haar been is so seer, sy kan nie daarop trap nie en toe siek begin word.

Dié kanker vorm in die senuweefsel van onder meer die byniere, nek, bors en rugwerwels.

Remissie

Ná ver­skeie behandelings, waaronder ’n lewensgevaarlike breinoperasie in 2016, is die kanker nou in remissie. Tog moet Lexi steeds tot September vanjaar nog voorkomende chemoterapie in die Rooi Kruis-kinderhospitaal kry.

Terwyl Alexis nog op die herstelpad was ná haar breinoperasie, het Erica, ’n huisvrou, in Desember 2016 bewus geraak van ’n knop in haar linkerbors.

Eers kon sy nie daaraan aandag skenk nie; sy moes vir haar kind sorg. Maar toe sy die knop laat ondersoek, kom die nuus: Dit is kwaadaardig.

Sy het in Maart 2017 ’n mastektomie in die Groote Schuur-­hospitaal ondergaan en het daarna gereeld chemoterapie gekry.

Alexis het in dieselfde tyd chemo gekry, en Erica se man, André (59), ’n passer en draaier en nutsman, het ’n siek vrou én kind gehad na wie hy moes omsien.

Weer ’n knop

In Desember verlede jaar het Erica weer ’n knop ontdek, dié keer in haar nek. Nadat sy toetse ondergaan het, moes sy in Januarie vanjaar uitvind die kanker is terug en dit het na haar longe, lewer en beendere versprei.

Waar sy nou van haar prognose vertel, trek Erica effens terug sodat Alexis nie van haar liggaamstaal moet bewus raak nie.

“Hulle kan nie iets doen nie,” fluister sy. Al wat sy kan doen, is om een dag op ’n slag aan te durf.

“Ek dink nie soggens oor hoeveel tyd ek oorhet nie. Ek gaan aan soos normaal. Ek konsentreer op Lexi. Wie anders gaan na haar kyk?”
 
Toe Erica destyds uitvind sy is swanger met haar vyfde kind, kon sy dit nie glo nie.

“Ek het drie dae aaneen gehuil,” vertel Erica.

“ ’n Mens het mos nie meer al die babagoed nie, en jy moet weer van voor af begin.”

Haar jongste in daardie stadium, Claudia, was toe al in gr. 10. Claudia is nou 24. Ousus Jeandré is 33, en hul broers, André jr. en Clyde, is 31 en 26.

Erica se kroos is (van links) André jr., Jeandré,
Erica se kroos is (van links) André jr., Jeandré, Claudia en Clyde. Voor staan Alexis. Foto verskaf

Pa André was erg opgewonde en het die wêreld vol gebel om die nuus te deel. En toe die laatlammetjie op 14 Junie 2011 haar opwagting maak, het sy almal in die gesin se harte gesteel.

Hulle het haar Alexis Hope Rhoode gedoop, min wetend haar middelnaam gaan in die toekoms so betekenisvol vir hulle wees.

Skokdiagnose

Die dogtertjie met die bruin krul­hare was so vrolik en aan die gang soos ander kleuters, vertel Erica. Tot sy een Donderdag in 2015 uit die bloute van pyn in haar regterbeen begin kla.

Die Saterdag het Erica ’n groot knop aan Alexis se maag gesien en haar dokter toe geneem.

Sy is aanvanklik vir hardlywigheid behandel, maar toe sy twee dae later ’n koors ontwikkel, is Erica weer dokter toe. Dit was die begin van verskeie mediese toetse, en binne weke is die skokdiag­nose in die Rooi Kruis-­kinderhospitaal gemaak.

“Hulle het vir ons gesê om na saal G1 toe te gaan. ‘Onkologie’ het lewensgroot op die deur gestaan, maar ek het dit nie gesien nie. Dit klink dalk vreemd, maar ’n mens sluit jouself heeltemal af van alles. Al my aandag en fokus was net op haar,” onthou Erica.

Alexis was destyds te klein om te verstaan wat met haar gebeur, maar Erica het aan haar verduidelik sy het kieme en moet medisyne drink om dit weg te vat.

Eers ’n gewas in haar brein . . .

Sy het meer as ’n jaar lank gereeld chemoterapie ondergaan; dis eers in April 2016 gestaak. Toe, in Augustus daardie jaar, word ’n gewas in haar brein ontdek. Dis daardie Desember in die Rooi Kruis-hospitaal verwyder – kort voor ­Erica die knop in haar bors ontdek het.

Ná Erica se mastektomie in Maart 2017 het ma en dogter tot in Augustus daardie jaar albei chemoterapie gekry. Die gesin se lewe het daarna gewoon voortgegaan en hulle het begin hoop die ergste is verby.

Maar toe word ’n gewas in Junie verlede jaar in Alexis se nek gekry, en sy het weer chemo ondergaan toe kanker in haar limfkliere en skelet ontdek is.

In Maart vanjaar het die Rhoodes eindelik die nuus gekry dat Alexis se kanker in remissie is – maar dit was nadat Erica in Januarie moes hoor haar eie kanker het versprei en sy sal nie weer gesond word nie.

Gesondword nie in die toekoms nie

André het boonop in Desember sy werk verloor en werk nou drie maande lank in Kaapstad, waar hy instandhoudingswerk doen. Met die ander kinders reeds uit die huis, moet Erica en Alexis op hul eie oor die weg kom.

Later vertel André oor die foon hoe moeilik hierdie tyd vir hom is. Dit is vir hom swaar om te verwerk dat Erica nie sal gesond word nie.

“Ons ken mekaar al vandat sy 17 is; ons is al 38 jaar saam. Sy is my maat,” sê hy verslae.

Wanneer hy deesdae op Moorreesburg by die huis kuier, wil Alexis alles saam met haar “Dadda” doen, vertel hy trots.

’n Sak dorings. Ons het behoorlik al ’n sak dorings saam op­geëet.

“Ek moet haar parkie toe vat, saam met haar fietsry en koekies bak. En weet jy wat, ek sê nooit meer nee nie. Ek wil vir mense sê: As jou kind vra om iets saam met jou te doen, doen dit.”

Die dubbele stryd teen kanker het groot druk op die Rhoodes se geldsake geplaas en hulle spartel om kop bo water te hou.

“Wat is erger as ’n sak sout?” vra Erica.

“ ’n Sak dorings. Ons het behoorlik al ’n sak dorings saam op­geëet.”

Maar Alexis se teenwoordigheid maak alles die moeite werd.

“Sy is ’n ­lewende wonderwerk,” sê Erica.

“Haar dokters is verstom, want sy moes eintlik nie meer hier gewees het nie.”

Erica help Alexis om die pruik wat sy skool toe dr
Erica help Alexis om die pruik wat sy skool toe dra te borsel en vas te maak. Foto: Corrie Hansen

Alexis trippel uit die vertrek en kom ­terug met ’n bruin pruik op haar kop – ’n geskenk van Kansa. Sy glimlag ewe vrolik en Erica kam dit vir haar met ’n pienk borsel.

Erica se grootste wens is dat Lexi eendag as ’n jong vrou in die Rooi Kruis-­hospitaal sal instap en vir dokters sal wys sy het haar nie laat onderkry nie.

“Lexi is positief; sy praat oor wanneer sy groot is, in gr. 7 is en wanneer sy Stellenbosch toe gaan. Sy is ’n vegter en ’n vasbyter.

“Sy móét hierdie stryd wen. Iémand moet dit wen.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.