Charles du Plessis (41), ’n ambagsman van Klerksdorp, is tans in die plaaslike Wilmedpark-hospitaal aan suurstof gekoppel nadat hy drie weke tevore ernstig in ’n ongeluk op ’n kwadfiets beseer is.

“Dokters meen as dit nie daarvoor was dat hy in Desember covid-19 opgedoen het nie, kon hy dalk nou reeds ontslaan gewees het,” vertel sy vrou, Abigail (37).

Charles du Plessis is in die waakeenheid van die Wilme
Charles du Plessis is in die waakeenheid van die Wilmedpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Hoewel Charles van covid-19 herstel het, was dit eers ná die ongeluk dat dokters genoodsaak was om hom aan ’n ventilator te koppel.

“Hulle glo sy longe het nooit volkome herstel nie, en toe tref die ongeluk,” vertel sy. 

“Hulle glo sy longe het nooit volkome herstel nie, en toe tref die ongeluk.”

Abigail vertel Charles was die eerste keer kort ná Kersfees in die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp opgeneem nadat hy vermoedelik die tweede variant van covid-19 opgedoen het.

“Dit is so ironies. Charles was een van die versigtigste mense wat daar is. Ons moes heeltyd social distance en oral sanitiser in die kar en by die voordeur en in die kombuis hou. Hy was amper ’n pyn, so erg was hy.”

Sy vertel haar skoonma het in Augustus verlede jaar covid-19 opdoen, en kort daarna het Abigail vermoedelik by haar aangesteek.

Charles en Abigail du Plessis. Foto: Verskaf
Charles en Abigail du Plessis. Foto: Verskaf

“My skoonma was plat in die bed. Ons was baie bekommerd. Sy het dit amper nie gemaak nie. Maar ek was oukei. Ek het my smaak- en reuksintuie verloor en was bietjie moeg, maar verder was ek orraait.”

Charles en hul tienerseun, Charles jr. (16) het toe negatief vir die virus getoets, maar kort ná Kersfees het Charles siek geword. Hy is vir ’n week in die hospitaal opgeneem.

“Dit was toe net nodig vir suurstof.” 

Dit het in die weke daarna gelyk asof hy sy kragte herwin het en hy is selfs terug werk toe.

Beseer

Charles en sy seun, Charles jnr. Foto: Verskaf
Charles en sy seun, Charles jr. Foto: Verskaf

“Toe, op ’n dag, het hy net gesê hy voel hy bring te min tyd saam met ons seun deur. Dit is toe dat hy drie vierwielmotorfietse gaan koop het.”

Sy vertel op 23 Januarie het pa en seun met een van die kwadfietse na die plaaslike motorfietsbaan gery.

“Soos hulle dit aan my vertel het, het eers my seun met die fiets gery. Hy is daar teen ’n brug vas, maar behalwe 'n paar skrape en kneusmerke was hy oukei. Toe dit my man se beurt is, het hy deur die veld gery en net toe hy weer op ’n grondpad wou opklim is hy deur ’n gat. Hy het dit nie in die lang gras gesien nie . . . Die kwadfiets het toe drie keer omgeslaan.”

Vriende wat die dag saam op hulle kwadfiets gaan ry het, het met Charles na die Wilmed Park-hospitaal gehaas.

“Hy het sy sleutelbeen op twee plekke gebreek en ’n hele paar ribbes was af. Hulle het ook gedink hy het net sy milt geskeur.

”Charles is aan sy sleutelbeen geopereer, maar ná sy operasie het die pyn net voortgeduur en het sy toestand versleg. Teen 3 Februarie was hy vir drie dae op ’n ventilator."

Charles jnr. die dag van die uittstappie op hul vi
Charles jr. die dag van die uitstappie op een van hul kwadfietse. Foto: Verskaf

“Hulle het toetse en alles gedoen, maar kon nie vasstel wat fout is nie. Dit is toe dat die dokter sê hulle moet eerder 'n noodoperasie uitvoer om seker te maak. Hulle vind toe uit sy milt is beskadig; dit is toe verwyder.”

Met ons gesprek is Charles reeds 25 dae in die waakeenheid.

'Vieslike siekte'

“Ons weet nie hoe lank hy nog daar gaan wees nie. Hy sal nie kan uitkom terwyl hy nog op suurstof is nie.”

Sy vertel die dokters meen as hy nie covid-19 gehad het nie, was hy waarskynlik nou al tuis.

“Dit is 'n vieslike siekte hierdie. Ek self kan tot vandag niks ruik nie.” 

“Dit is ‘n vieslike siekte hierdie. Ek self kan tot vandag niks ruik nie.”

Abigail vertel haar seun mis sy pa en sy ook.

“Charles is altyd die een wat ons moed inpraat en nou moet ons hom probeer moed inpraat, maar woorde maak nie gesond nie. Net die Hemelse Vader, die Groot Geneesheer, kan hom aanraak en genees.”

Sy vertel in dié stadium weet Charles weinig van wat in die wêreld aangaan en beskerm hulle hom van enige slegte nuus. Tot dusver kon sy nog net twee keer by haar man gaan kuier.

“Ons praat op WhatsApp en ek vra hom toe nou of hy weer gaan vierwiel ry. Sy antwoord was dadelik: ‘Ja, die ongeluk kon in ’n kar ook gebeur het.’

“My seun voel dieselfde. Dit bekommer my, want ek kan hom nie in watte toedraai nie. Nou moet Charles net fight om deur hierdie ding te kom. En hy is ’n fighter.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe