Leoni Janse van Vuuren
Leoni was “ontsettend lief” vir Leonard, vertel Johan. Foto: Verskaf

Weg is sy vrou se vriendelike lagstem wat vir soveel jare deur die huis weerklink het; sy stiefseun se opgewekte persoonlikheid wat altyd soveel vreugde gebring het. Nou heers daar ’n verdoemende stilte in die huis – en dit breek sy hart opnuut elke dag.

Net ’n paar dae gelede het Johan Janse van Vuuren (57) nog saam met sy vrou, Leoni (53), en stiefseun, Leonard Smit (26), aan ’n familie-Kersfees beplan. Maar nou sal dié Kersvakansie nooit aanbreek nie.

’n Dubbele tragedie het hom vandeesweek in Polokwane in Limpopo afgespeel toe Leoni en Leonard op die N1 buite dié dorp verongeluk het.

Leoni, ’n takbestuurder by ’n plaaslike onderneming, en Leonard, wat gewerk het by ’n plaaslike motorhandelaar, is die naweek opslag dood in ’n botsing reg van voor. 

Leoni Janse van Vuuren
Johan en Leoni in gelukkiger tye. Hulle sou in Desember vier jaar getroud gewees het. Foto: Verskaf

Die ma en seun was op pad terug van die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg waar hulle ’n familielid gaan aflaai het toe die band van ’n voertuig in die aankomende baan gebars en in hul motor ingeploeg het.

Leoni se motor het getol en is daarna ook deur ’n vragmotor, wat probeer uitswaai het, getref. Die motor het toe aan die brand geraak.

Sy is opslag dood, maar haar liggaam het in die brandende motor verkool. Leonard is met die impak van die botsing uit die motor geslinger en is dood weens veelvoudige interne beserings.

“Hul dood het die mat onder my voete kom uitruk,” sê ’n gebroke Johan Woensdag aan Huisgenoot. “Hulle was die helfte van my asemhaal – ek is stukkend, absoluut gebroke.” 

Leoni Janse van Vuuren
Leoni saam met Leonard op sy verjaardag. Foto: Verskaf

Johan sê hy was die naweek tuis toe hy ’n oproep van iemand op die toneel kry. Hy het hom daarheen gehaas.

“Ek kan nie vir jou verduidelik wat ’n mens ervaar nie. Gebrokenheid begin nie eers om dit te beskryf nie.” 

Hy was met sy aankoms op die toneel “erg geskok” om te sien die ongelukstoneel is net ’n paar honderd meter van waar hul familievriende Pierre en Erica Bantjes in Oktober 2018 ook dood is in ’n kettingbotsing wat 27 lewens geëis het.

“Dit voel onwerklik,” sê hy amper hees. “Ons was destyds so geskok oor hul dood; oor daardie grusame ongeluk. Ek het nooit gedink dit sou ook my eie werklikheid word nie.”

Leoni Janse van Vuuren
Leoni was ’n “opregte siel” wat gehou het van lag en die natuurlewe, vertel haar man. Foto: Verskaf

Nou is al wat troos bring, sê Johan, die wete dat sy vrou en stiefseun nie gely het nie. Maar dit maak die verlange nie beter nie . . . 

“Ek is nog heel week lank in ’n dwaal,” sê hy. “Dis asof my brein nie wil glo sy is weg nie. Asof ek dit nie kán glo nie. Maar ja, dit bring tog troos om te weet hulle kon nie ly nie. Mediese kenners reken hulle sou nie een sekonde ná die verwoestende impak van die ongeluk kon leef nie.” 

’n Gebroke Johan moes Maandag Leonard se liggaam in die lykshuis gaan uitken. Hy sê sy vrou se liggaam is so geskend, dat ’n plaaslike patoloog nou haar mediese rekords van ’n tandheelkundige aangevra het in ’n poging om haar te kan identifiseer.

“Jy weet dis jou vrou wat daar in die lykshuis saam met jou seun lê. Maar joeg . . . Jou hart wil dit nie glo nie. Dit breek jou,” sê Johan.

Leoni Janse van Vuuren
Leonard in gelukkiger tye. Foto: Verskaf

Die ergste, sê Johan, is dat hy nog nie begrafnisreëlings kan tref voor die patologiese verslag nie voltooi en uitgereik is nie. Daar is nog geen aanduiding vir hoe lank dit kan neem nie.

Johan en Leoni sou op 10 Desember vier jaar getroud wees. Hulle was sewe jaar lank ’n paartjie. Leoni het ’n tweede seun, Christo (30), wat in die Wes-Kaap woon.

“Ek het myself jare lank ’n professionele bachelor genoem,” sê hy. “Tot Leoni oor my pad gekom het. Ons ken mekaar al sedert 1985, maar die Here het haar sewe jaar gelede as ’n maat vir my gegee.

“Ons het nog soveel planne gehad; ons wou nog so baie dinge saam beleef. Nou het die Here my maatjie weer kom wegvat – na net sewe jaar.” 

Leoni Janse van Vuuren
Johan saam met Leoni. Foto: Verskaf

Johan sê hoewel hy nou baie steun van sy geliefdes en die gemeenskap in Polokwane ontvang, is daar nog te veel rou verdriet om eers te dink aan ’n lewe sonder sy wederhelf.

“Ek weet nie hoe ek deur die volgende weke gaan kom nie,” sê Johan. “Al waaraan ek my troos, is dat ek sewe jaar lank my lewe saam met so ’n wonderlike vrou en seun kon deel. Daar is steeds soveel vrae, maar ek is dankbaar dat God vir my ’n maatjie gegee het vir wie ek so oneindig lief was – vir wie ek steeds lief is.

“Nou is dit verby; ek is stukkend. Maar een ding weet ek verseker: Ma en seun is saam daar Bo in die hemel.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe