Rulize van Nierkerk
Haar hand is dalk misvorm, maar sy is meer positief en selfversekerd as ooit vantevore, vertel Rulize. Foto: Verskaf

Sy was verpletter toe sy aan die einde van 2020 byna haar hele regterhand in ’n fratsongeluk verloor het, meer as 15 000 km van haar tuisdorp af, vertel ’n jong vrou van Klerksdorp in Noordwes. Maar nooit sou sy kon raai dat ’n tweede verpletterende tragedie binne enkele weke op haar sou wag nie: haar pa sou in ’n motorongeluk sterf.

Toe haar kinderdroom om in Amerika te woon en werk net meer as ’n jaar gelede ’n werklikheid geword het, het Rulize van Niekerk (20) al daarvan begin droom om eendag ’n Oscar-beeldjie te kan vashou.

Nadat sy in Januarie 2020 na New York vertrek het om as au pair opgelei te word, is sy binne ’n paar dae by ’n familie in Salt Lake City, in die Amerikaanse deelstaat Utah, geplaas.

Op die lughawe om te groet: Hier is skoonsus Cassie, Rulize en pa Hennie. Foto: Verskaf

Die sneeubedekte berge in die wintermaande en die lowergroen parke in die somermaande het sommer gou haar hart verower, vertel sy vanuit Amerika aan Huisgenoot. Haar dae as au pair vir ’n gesin met vier kinders was vir haar ’n droom.

“My dae is gevul met vuil handjies en neusies afvee, rondjaag tussen huis en skoolaktiwiteite; maar dis elke keer ’n wonderlike gevoel wanneer hulle daai klein armpies om my gooi,” vertel sy.

Rulize van Nierkerk
Só lyk die sneeubedekte terrein waarop die nutsvoertuig beheer verloor het en toe haar hand vergruis het. Foto: Verskaf

Sy was al byna ’n jaar in Utah toe Rulize en ’n vriend op 20 Desember verlede jaar ’n fratsongeluk in die sneeubedekte berge oorgekom het, onthou sy.

“Ek en ’n vriend was op ’n uitstappie en het met ’n nutsvoertuig in die berge gery,” onthou sy oor die dag wat haar lewe vir altyd sou verander. “Daar was plek-plek sneeu en die bande van die voertuig het gegly en die voertuig het toe begin rol. My instink was om my hande uit te steek en te keer, maar die voertuig het in die proses oor my regterhand gery en dit heeltemal vergruis.”

Sy het haar ouers, Hennie en Lizette, vanuit die ambulans gebel, vertel Rulize. Dit was so 15:00 in Utah en skuins voor middernag in Suid-Afrika.

“Hulle was verskriklik geskok, maar het kalm en rustig met my gepraat,” onthou sy. “Maar daar was hoop: dokters het my voorberei dat die skade ernstig is en dat ek moontlik vingers kan verloor; ek het nog nooit in my lewe so hard gebid nie.”

Rulize van Nierkerk
Rulize se pinkie en ringvinger is ná die ongeluk geamputeer. Foto: Verskaf

Toe Rulize ná bykans vyf ure in ’n hospitaalbed wakker word, het dokters die nuus gedeel dat die helfte van haar hand, haar pinkie en ringvinger geamputeer is. “My ma het aan die anderkant van die wêreld deur haar trane deur my die versekering gegee dat alles oukei sal wees – dat ons deur die krisis sal kom,” sê Rulize.

Sy het “ondraaglike pyn” ervaar, vertel sy. Boonop het nagmerries oor die voorval haar aand ná aand geteister. “My host familie was ontsettend goed vir my en hulle het vir my gevra om soveel tyd as nodig was te vat om te herstel. Ek het bly help met die kinders, maar ek kon nie meer doeke ruil nie,” waag sy ’n grappie.

Die waarheid is dít: hoewel sy moedig probeer bly het, het die voorval haar so byna gebreek.

“Terwyl almal in Suid-Afrika die ure afgetel het tot 2021, het ek en my gesin – wat deur ’n video-oproep met my gepraat het – gesien hoe die gips en verbande van my hand afgehaal word. Niks kon my voorberei op wat ek sou sien nie . . . My hand het soos iets uit ’n rillerfliek gelyk. So terwyl die sjampanjeproppe vir Nuwejaar geklap het, het ek my oë uitgehuil.” 
Rulize neem ’n foto van die herstel van haar hand in die hospitaal. Foto: Verskaf

Die ergste was die nuuskierige oë en fluisterstemme, sê sy.

“Mense het na my hand gestaar en kinders het daarna gewys en gelag. Ek het geweet ek sou nooit weer dieselfde lyk nie – en die gedagte daaraan was onwerklik. In die sosiale media was daar baie boodskappe van ondersteuning, maar ook haatpos. Dit het my net nóg meer selfversekerd gemaak. Ek het besef dis hoe my lewe vorentoe gaan lyk.”

Rulize van Nierkerk
Rulize se pinkie en ringvinger is na die ongeluk geamputeer. Foto: Verskaf

Dit was ook pynlik om nie haar geliefdes naby aan haar te hê nie, vertel sy. Lizette het om ’n visum aansoek gedoen nadat dokters Rulize se toestand as ’n mediese noodgeval bestempel het, maar het weke later steeds nie die nodige reispermitte bekom nie.

Rulize van Nierkerk
Al was dit pynlik om so ver van haar familie te wees terwyl sy herstel ná die fratsongeluk, kon sy haarself elke dag toevou met ’n deken waarop foto’s van haar geliefdes gedruk is. Foto: Verskaf

Tog kry Rulize baie ondersteuning van Lizette, haar broer, Hanno, en sy vrou, Cassie, en haar suster, Annica, en swaer, Stefan. Haar hoërskoolvriende stuur ook “nog elke week” boodskappe van gebede en bemoediging.

Dis oor dié ondersteuning dat sy later besluit het om haar verhaal “openlik en eerlik” te vertel, sê Rulize. “Ek het besluit dis mos nou die nuwe, verbeterde ek. Ek is steeds Rulize, maar ek is meer positief en vasberade as voorheen.” 

Rulize van Nierkerk
Al was daar oor die laaste paar weke baie pyn – fisiek en emosioneel – is dit steeds vir haar ’n groot seën om haar droom te leef. Foto: Verskaf

Sy het net-net weer na haar ou self begin voel, toe sy die slegte nuus uit Suid-Afrika hoor: Haar pa is op 15 Februarie opslag dood in ’n motorongeluk op die Ventersdorppad.

“Ek was opnuut platgeslaan,” vertel Rulize, nou skielik weer bewoë.

Dan onthou sy: “Hy het dan nog die aand vantevore vir my Butterfly Kisses gespeel. There's two things I know for sure / She was sent here from heaven and she's daddy's little girl. In sy stemnota het hy nog vir my gesê: ‘Lief vir jou, Lallie.’ Nou speel ek dit oor en oor.” 

Rulize van Nierkerk
Sy was haar pa se “Lallie”, vertel Rulize. Sy kon weens reisbeperkings nie sy gedenkdiens bywoon nie. Foto: Verskaf

Rulize kon weens die reisbeperkings nie na Suid-Afrika kom vir Hennie se gedenkdiens op 19 Februarie nie, vertel sy.

“My hart is in stukke,” sê sy rou. “Hoe moes ek raai sy drukkie op die lughawe sou die laaste drukkie ooit wees? Hy het my nog twee dae voor sy dood, toe ons gepraat het oor finansies vir die rehabilitasie van my hand, gerusgestel dat alles oukei gaan wees. En nou is hy net weg.” 

Rulize van Nierkerk
Sy laaste drukkie aan haar: Pa Hennie groet Rulize op die lughawe voor haar vertrek na New York in Januarie 2020. Foto: Verskaf

Al is dit vir haar ontsettend moeilik om in die donkerste hoofstuk van haar familielewe nie by haar geliefdes te kan wees nie, bring dit vir haar troos dat haar pa nie gely het nie.

Rulize van Nierkerk
Op besoek in Amerika: Hier is sy by die ateljee van die kletsprogramaanbieder Jimmy Fallon. Foto: Verskaf

“Ek verlang verskriklik na my geliefdes terwyl ons wag dat my ma ’n visum kry, maar ek kry ongelooflike ondersteuning van die familie by wie ek werk,” vertel Rulize.

“Ná die ongeluk was ek geweldig onseker oor wat die toekoms inhou . . . vandag steeds. Een ding staan vas: ek lyk dalk nie meer dieselfde nie, maar my lewensuitkyk het nie verander nie. Ek gaan slaap steeds elke aand met dieselfde kinderdroom om ’n aktrise te word – maar hierdie keer sien ek hoe ek die Oscarbeeldjie met my drie vingers omhoog hou.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe