Taylor Kahle. Foto: Twitter/Taylor Kahle
Taylor Kahle. Foto: Twitter/Taylor Kahle

Taylor Kahle (29), ’n geleentheidsbeplanner, was reeds besig om haar eie groot planne vir haar 30ste verjaardag op 2 Mei te beraam. Dit sou ’n wynproe-geleentheid wees met haar pa as chauffeur. Sy het selfs vir hom ’n hoedjie gekoop vir die geleentheid.

Maar die noodlot het gruwelik ingegryp toe sy vroeg Saterdagaand ’n ete-afspraak met ’n nuwe vriend by ’n restaurant in 10de Laan in San Diego gehad het.

Haar laaste afspraak met haar nuwe vriend. Foto: Skermgreep/nbcsandiego.com
Haar laaste afspraak met haar nuwe vriend. Foto: Skermgreep/nbcsandiego.com

Volgens Laurel McFarlane, haar kollega en eienaar van McFarlane Promotions Inc, waar Taylor die afgelope agt jaar gewerk het, het Taylor laat blyk sy hou nogal van die persoon. Dit was hul tweede of derde afspraak, maar daar was reeds sterre in haar oë omdat sy gevoel het die persoon is iemand met wie sy goed kan kliek. 

Die twee het ongeveer 19:30 die restaurant verlaat en rustig langs mekaar op die sypaadjie naby Petco Park onder ’n parkeerterrein gewandel . . .

Taylor en haar vriend stap oor die pad, enkele oomblikke voordat die tragedie plaasvind. Foto: Skermgreep/nbcsandiego.com
Taylor en haar vriend stap oor die pad, enkele oomblikke voordat die tragedie plaasvind. Foto: Skermgreep/nbcsandiego.com

’n Ongeïdentifiseerde jong man, vermoedelik tussen 20 en 30 jaar oud, was op die oorhoofse parkeerterrein. En dis waar hy besluit het om sy eie lewe te neem en daar af te spring. Sy val is egter deur die niksvermoedende Taylor gestuit. Dit het haar haar lewe gekos, terwyl haar nuwe vriend fisies ongedeerd daarvan afgekom het.

Die parkeerterrein vanwaar die man na sy dood gespring het. Foto: Skermgreep/nbcsandiego.com
Die parkeerterrein vanwaar die man na sy dood gespring het. Foto: Skermgreep/nbcsandiego.com

Die man self het om 20:16 die aand in die UC San Diego-hospitaal aan sy beserings beswyk. Die polisie het nog nie sy naam bekend gemaak nie omdat sy naasbestaandes nog ingelig moes word.

Intussen het kennisse Taylor se dood as sinneloos beskryf.

“Ons bid vir haar familie, en ook vir die familie van die man wat gesterf het. So ook vir die vriend wat by haar was,” het haar kollega Chris Williams gesê. Hy het die voorval as ’n driedubbele tragedie beskryf.

“Hoe is dit moontlik dat iemand uit die lug kan val en jou dood veroorsaak?” wou Michael Trimble, die uitvoerende direkteur van die Gaslamp Quarter Association, en iemand wat haar die afgelope paar jaar leer ken het, weet. 

“Dit maak nie saak of sy aan 'n projek of bemarkingsveldtog gewerk het nie, sy het altyd als met ’n glimlag gedoen en jou gemaklik en vol vertroue laat voel dat alles gedoen sal word wat gedoen behoort te word,” het hy oor Taylor gesê.

“Dit is verpletterende nuus om te hoor. Taylor was altyd lieflik om mee saam te werk. Dit is ’n skokkende en hartseer dag vir die hele San Diego-geleentheidsgemeenskap,” het Eddie Rey gesê.

Taylor het vir ’n rukkie in Chicago gewerk, maar na San Diego teruggekeer om na haar pa om te sien wat hulp ná ’n operasie nodig gehad het. Sy was op haar gelukkigste met haar pa in die ronde, asook saam met haar twee honde wat sy gered het.

Taylor Kahle (29) met haar twee aanneemhonde, Roo
Taylor Kahle (29) saam met haar twee aanneemhonde, Roo en Stella. Foto: Facebook/Laurel McFarlane

“Almal streef na die soort verhouding wat sy met haar pa gehad het.

“Dit was net sy en haar pa, en dit gee vir jou net een mens om met jou hele hart lief te hê, om jou moed en krag te gee. Haar pa was dit vir haar, ek ook en sy vir my,” het ’n emosionele Laurel gesê. Volgens haar het Taylor haar as 'n tweede ma beskryf omdat haar eie ma oorlede is.

Taylor en Laurel. Foto: Facebook/Laurel McFarlane
Taylor en Laurel. Foto: Facebook/Laurel McFarlane

“Ek het een dogter, en as sy soos Taylor uitdraai, sal ek baie trots op haar wees.”

Volgens Laurel was Taylor ’n orgaanskenker. “In haar laaste oomblikke het sy weer gegee, net soos sy altyd gedoen het, en daardeur het sy verskeie lewens help red en baie families gehelp,” het Laurel gesê.

Bronne: sandiegouniontribune.com, nbcnews.com, nbcsandiego.com, nydailynews.com, cbs8.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe