Chethrin Schulze (28) het haar nuwe “man” vandeesweek aan haar aanhangers bekendgestel nadat die Kasakse akteur en liggaamsbouer Yuri Tolochko die nuus gehaal het oor hy met sy sekspop getrou het.

Tolochko het in Desember verlede jaar sy geliefde pop, Margot, die jawoord gevra nadat hy ’n jaar lank foto’s van hulle twee op romantiese afsprake gedeel het. 

Chethrin Schulze
Chethrin Schulze. Foto: @chethrinschulze/Newsflash/Magazinefeatures

Schulze vertel sy en haar nuwe "man", Cedric, het begin saamwoon nadat sy moeg geraak het daarvan om tydens die covid-19-pandemie alleen te wees. Sy het onlangs met haar kêrel, Marco Mirwald, uitgemaak.

Sy sê om Cedric aan te skaf, het haar maar sowat R700 uit die sak gejaag. 

Die aktrise en sosialemediabeïnvloeder van Berlyn in Duitsland gaan ’n stap verder as Tolochko met sy poptroue en wys trots ’n plastiek-“baba” wat sy Hannelore noem.

Sy spog ook oor hoe vinnig sy ná die sogenaamde swangerskap haar figuur teruggekry het. 

Die glansvrou, wat voorheen op die Duitse weergawe van Love Island te sien was, voeg by: “Ek wil nie hê my kind moet voor die kameralens grootword nie.” 

Die plaaslike media berig Schulze neem glo standpunt in teen glans-ma’s wat elke kleinigheid oor hul lewe aanlyn verklap.

Schulze maak nie bekend op wie haar kommentaar gemik is nie, maar lewer vermoedelik algemene kritiek op beïnvloeders wat uit hul kinders munt slaan.

In ’n stadium maan sy die popkind Hannelore dat sy maar daarvan kan vergeet om ’n onderwyseres of ’n dokter te word, want die "plastiekkind" sal in die toekoms glo haar ma se Instagram- en YouTube-rekeninge moet oorneem. 

Sy skryf: “Jy moet dit maar nou al aanvaar.”