Shan was twee weke lank in 'n geïnduseerde koma.
Shan was twee weke lank in 'n geïnduseerde koma. Foto: Verskaf

Sy het nie ’n ophef daarvan gemaak toe haar vriend se mak muishond haar daardie dag in 2017 aan die vinger byt nie. Maar min het sy toe geweet dit sou haar eindelik sonder arms of bene en met ’n geskende gesig laat . . . 

“Ek het die wond skoongemaak en dit was dit,” vertel Shan Visser (37) vandag.

Terug by haar eie blyplek in die Baai – waar sy tydelik gewoon het om ’n nuwe tak te open vir die vervoeronderneming waarvoor sy gewerk het – het sy niksvermoedend met haar lewe aangegaan. Maar twee dae later het haar hel onverwags begin.

“Ek het naar begin voel. Ek het opgegooi en my bewussyn in die badkamer verloor. My baas het my na die St. George’s-hospitaal geneem. My hande en voete het soos vuur gebrand,” onthou sy hier op die suikerdorpie Senzela, suid van Durban, waar sy deesdae woon.

En bitter gou was sy in ’n stryd om haar lewe gewikkel.

Volgens die dokters het ’n bakterie in haar bloedstroom septisemie veroorsaak.

“Ons weet nie of dit van die muishond se byt was nie, maar dit is die logiese verduideliking,” sê sy.

Die septisemie het met skrikwekkende aggressie haar liggaam aangeval.

“My arms en bene was pikswart. My neus en lippe ook.”

Selfs haar niere het begin ingee. Shan was twee weke lank in ’n geïnduseerde koma. En toe sy ontwaak, moes sy hoor amputasie is al raad.

Toe ek eindelik ontslaan is, het ek gevoel of ek van my onafhanklikheid beroof is. Ek was nog altyd ’n baie bedrywige mens. Skielik kon ek nie eens motor bestuur nie.

In hierdie oomblik van verlammende skok was haar eerste gedagte aan haar dogter, Kiaralea (nou 15).

“Ek het vir die dokters gesê hulle moet doen wat hulle kan. Ek wou dapper wees vir my dogter.” 

Binne ’n week is haar arms en bene afgesit. Ook dele van haar neus en lippe, die punt van haar tong en ’n deel van haar verhemelte is weggesny.

Sewe maande se rehabilitasie het gevolg. 

“Toe ek eindelik ontslaan is, het ek gevoel of ek van my onafhanklikheid beroof is. Ek was nog altyd ’n baie bedrywige mens. Skielik kon ek nie eens motor bestuur nie.”

Sy het sedertdien al 68 operasies ondergaan. Tog wag jy verniet op selfbejammering. Selfs terwyl sy oor haar ontberings praat, gloei dié formidabele vrou se optimisme so helder soos haar pers hare.

“Jy kan mos nie mismoedig wees as jy pers hare het nie,” lag sy.

“Dit help nie ek kry myself jammer nie. Ek moet elke dag voluit aangryp. Wat gister gebeur het, is agter my. Ek fokus op die nou.”

Die “nou” is haar inspirerende aanlyn geselsprogram op YouTube, The Shan Show, wat vervaardig word deur die span agter Survivor en The Voice.

Shan het verlede September vir ’n week Johannesburg toe gevlieg om die eerste seisoen te skiet. 

“Al my gaste het uitdagings wat hulle oorkom het. Daar’s ’n voormalige metamfetamienverslaafde wat ’n suksesvolle akteur en komediant geword het; iemand met ’n skaars neurospiersiekte; ’n swemmer wat een been op die ouderdom van twee verloor het; ’n vrou met lupus . . .”

Sy is verheug dat haar eerste twee YouTube-episodes al meer as 6 000 kyke gekry het. 

“Ek wil ander wys dat jy tot enigiets in staat is, maak nie saak wat jou agtergrond is nie, waar jy vandaan kom of watter gebrek of siekte jy het nie. Met wilskrag kan jy enigiets oorkom.”

Dis immers ’n program oor wenners. 

Sy kan deesdae e-posse stuur en Whatsapp-boodskapp
Sy kan deesdae e-posse stuur en Whatsapp-boodskappe beantwoord. Foto: Darren Stewart

In die huis hier tussen die suikerrietlande met die blou streep van die Indiese Oseaan in die verte sigbaar, sit Pixie die Maltese poedel kietsregop langs haar baas op die rusbank.

Shan se man, Anthony (47), is in en uit die vertrek.

Sy onthou eintlik niks oor die eerste twee weke van haar ontbering in Januarie 2017 nie, vertel sy.

Sy balanseer haar selfoon behendig op haar een stompie en gebruik die ander om oor die skerm te vee.

Op een foto lê sy stil in ’n hospitaalbed, haar lippe en neus blou. 

“Ek kan niks onthou nie. Ek onthou net hoe ek by ongevalle opgedaag het en verder onthou ek niks,” sê sy. 

Shan Visser se ledemate moes geamputeer wird nadat
Shan Visser se ledemate moes geamputeer wird nadat sy om haar lewe geveg het. Foto: Darren Stewart

Toe was daar die skoknuus oor die amputasie, maar sy het min tyd gehad om haar daaroor te verknies.

Op 6 Februarie 2017 is sy in die teater ingestoot vir haar eerste prosedure. Toe sy weer wakker word, was albei bene onder die knie af. 

“Dit was vir my ’n reuseskok. Ek het eers gedink: ‘Hoe gaan ek nou my lewe lei as ek nie dinge vir myself kan doen nie?’ Maar ek het gou besef ek moet sterk wees. Ek kan nie dat dit my onderkry nie. Ek wou ’n inspirasie vir my kind wees, sy kyk op na my,” vertel Shan.

Net die volgende dag is sy weer teater toe, en hierdie keer is haar arms onder die elmboog afgesit.

Daarna het die prosedures aan haar gesig begin.

Op 34 jaar oud is haar voorkoms wreed verander. 

Sy moes ná talle operasies intensiewe rehabilitasi
Sy moes ná talle operasies intensiewe rehabilitasie ondergaan. Foto: Verskaf

“Ek het daarna amper dadelik my gesig gesien. Dit was afgryslik, maar ek het elke dag gevat soos dit gekom het. Ek moes myself eenvoudig daaraan gewoond kry.”

Dit was nie maklik nie, erken sy.

“Ek was voorheen op my voorkoms ingestel, maar ek kon myself nie bejammer nie. Ek het vir my lewe baklei en by die dood omgedraai. Ek moes positief bly, en ek was dankbaar dat ek nog lewe.” 

As my dogter nou vir my sê sy kan iets nie doen nie, sê ek vir haar sy moet kyk hoe ek lyk. As ek my uitdagings kan oorkom, kan sy ook

Toe, ná sewe maande, kon sy die hospitaal verlaat. En weer was sy vasberade om die lewe stip in die oë te kyk.

“Kinders sal reguit na my toe kom en vra wat gebeur het. Ek verkies dit so. Dis volwassenes wat agter jou rug fluister of jou snaaks aankyk. Wanneer hulle staar, kyk ek terug."

Deur dit alles het haar liefde vir haar dogter haar bly dra.

“Sy is die enigste rede waarom ek vandag is waar ek is. Ek kon nie moed opgee nie. As my dogter nou vir my sê sy kan iets nie doen nie, sê ek vir haar sy moet kyk hoe ek lyk. As ek my uitdagings kan oorkom, kan sy ook.”

Dit was geweldig traumaties vir Kiaralea om haar ma die eerste keer so te sien, “maar sy het dit aanvaar. Sy is trots op haar ma vir wat sy vermag het. Ons kyk gereeld saam flieks of gesels net.”

Anthony, wat voorheen vir die suikermaatskappy Illovo gewerk het, is self nou medies ongeskik om te werk.

Shan en haar man, Anthony. Hy is 'n steunpilaar vi
Shan en haar man, Anthony. Hy is 'n steunpilaar vir haar, sê sy. Foto: Darren Stewart

“Maar hy is ’n wonderlike steunpilaar. Hy het dadelik die huis rolstoelvriendelik gemaak. Wanneer ek met iets sukkel, is hy dadelik daar om te help,” vertel Shan. 

Anthony beaam: “Sy bly my vrou. Ongeag wat met haar gebeur het. Ek bly lief vir haar en sal altyd daar wees vir haar.”

Danksy haar ysere wil is sy baie selfstandig. Net kosmaak laat Shan ten volle aan Anthony oor.

Sy wys ons hoe sy eet met spesiale “koppies” wat oor haar armstompies pas. Aan die koppies is eetgerei geheg. Dit word spesiaal met ’n 3D-drukker vir haar gemaak. 

“Die idee het gekom toe ek in die hospitaal was. My pa was by my en daar was ’n leë jogurtkoppie. Hy het gekyk of dit oor my stompie pas en toe heg hy ’n vurk aan.” 

Sy beweeg gemaklik rond met haar elektriese rolstoel.

Sy wys die eetgerei wat vir haar ontwerp is. Hierm
Sy wys die eetgerei wat vir haar ontwerp is. Hiermee kan sy onafhanklik eet. Foto: Darren Stewart

“Ek trek myself aan, ek was myself, eet self.”

Tans probeer sy geld insamel om prostese te kry wat beter sal werk gegewe haar sensitiewe vel. Dit sal behels dat titaniumskroewe in haar bene gesit word, maar die mediese fonds dek dit nie.

“As ek net weer kan loop, sal dit vir my wonderlik wees.” 

Intussen pak sy haar dae met passie aan, want, verduidelik sy moedig: “Ek laat my nie onderkry nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe