Hy het daardie dag vier keer geskiet. Toe die eerste skoot klap en sy die brandpyn in haar regterarm voel, het die 47-jarige vrou ver­wilderd na haar eksman gekyk.

So het sy hom nog nooit gesien in die 27 jaar dat hulle saam was nie. Die eens sterk, fris geboude man het maer en ver­swak gelyk. Sy gesigsuitdrukking was vir haar vreemd. En die pistool in sy hand was steeds op haar gerig . . .

Bloed

Elsanne Kamffer onthou nog die ­on­geloof en vrees op die gesig van haar kollegas by die opleidingsmaatskappy in Durbanville toe sy omdraai om die gebou binne te hardloop met bloed wat by haar arm afstroom.

Maar Kobus Kamffer (53), van wie sy vyf maande tevore geskei het, het aanhou skiet.

Die tweede en derde koeël het haar soos vuishoue in die rugmurg en regterlong getref en teen die grond geslinger. Die koeël in haar rugmurg was die een wat haar verlam sou laat; die een in haar long het haar hart rakelings gemis.

Sy onthou net dit was skielik baie stil en sy kon die hortende asemhaling hoor van iemand wat naby haar lê.

Die vierde skoot, die een waarmee Kobus homself in die kop geskiet het, het Elsanne nooit gehoor nie.

“Kobus moes gedink het ek is dood toe ek op die grond lê,” vertel Elsanne terwyl die trane on­ophoudelik oor haar wange rol.

Sy onthou net dit was skielik baie stil en sy kon die hortende asemhaling hoor van iemand wat naby haar lê. Eers toe haar kollegas by haar kom, het sy gehoor dis Kobus wat naby haar neergeval het.

Hy is later in die hospitaal dood.

Elsanne sluk swaar en haal diep asem voor sy verder praat.

“Dit is regtig moeilik om te verduidelik. Toe die skote my tref en ek op die grond val, was dit asof alle gevoel in my onderlyf onmiddellik onder my weggevat is.

“Ek het net daar geweet ek sal nooit weer kan loop nie.”

Kort tevore het die fyn geboude vrou in die rolstoel ons met ’n groot glimlag gegroet toe sy ons in die gang van die Wes-Kaapse rehabilitasie­sentrum in Mitchells Plain nader.

Rolstoel-bootcamp

“Ek was in my lewe nog nooit in ’n rolstoel nie, maar hier gaan ek elke dag rolstoel-bootcamp toe,” spot sy.

Elsanne is nou al ses weke in die rehabilitasiesentrum nadat sy uit die Mediclinic Durbanville ontslaan is. Hier ondergaan sy fisio- en arbeidsterapie en kry ook sielkundige berading en mediese behandeling.

“Ek leer alles van voor af doen,” vertel die verkoopsbestuurder wat ’n ywerige drawwer was voor die skietery haar verlam het.

“Toe ek hier inkom, kon ek skaars my arms en skouers beweeg of selfs eet. Ek kon nie eens 3 kg in my hand vashou nie. Nou kan ek self in en uit my bed en rolstoel klim en my bad. En ek kan al 10 kg in my hand vashou,” sê sy trots.

Elsanne gaan daagliks na die rehabilitasie­sentrum se gim­nasium, waar sy opnuut leer beweeg. Foto: Corrie Hansen.

Aanvaarding

Wanneer jy mense hier oor Elsanne uitvra, vertel almal hoe ongelooflik po­sitief sy in die omstandighede is.

“Al gaan dit soms moeilik, aanvaar ek my situasie. Daar is soveel mense wat dit erger het as ek. Ek kan darem nog my bolyf beweeg en gesels. En ek weet ek kon so maklik dood gewees het.

“Ek bly hoopvol. Min dinge kry my onder,” sê sy en glimlag.

Sy was immers nog altyd ’n vegter. In 2010 is borskanker by haar gediag­noseer, en vyf jaar later, in 2015, het sy dit oorwin.

Elsanne vertel sy het Kobus omtrent haar hele lewe geken. Hulle het mekaar ontmoet toe sy 21 jaar oud was en het ses jaar uitgegaan voor hulle getrou het.

Hulle was 21 jaar getroud, maar was meer soos vriende wat eintlik net saam gewoon het, vertel sy. Hulle het nie kinders nie.

Depressie

Vroeg in 2017 het Elsanne besluit sy wil haar eie pad loop en skryf toe vir Kobus ’n brief om te sê sy wil skei.

“Kobus het dit aanvaar en die eg­skeiding het baie vreedsaam verloop. Ons prokureur het gesê hy het nog nooit so iets gesien nie,” vertel sy en lag moedig.

Maar Kobus was nog altyd ’n depressie­lyer wat geweier het om enige medikasie daarvoor te neem, vertel sy.

“Dis seker ’n mansding.”

Toe hy in Augustus verlede jaar uitvind Elsanne het iemand anders ontmoet, kon hy dit volgens haar glad nie hanteer nie.

Gerugte van 'n affair

“Ek het Ivan (Strydom) geken toe ons jare gelede saam gewerk het. Ná my egskeiding het ons mekaar raakgeloop en toe begin saamkuier.”

Elsanne by die nuwe man in haar lewe, Ivan Strydom. Foto verskaf.
Sy en Ivan in die hospitaal ná die skietvoorval. Hy het haar deurentyd gesteun, sê sy. Foto verskaf
Ivan en Elsanne gee mekaar liefdevol ’n soen. Foto: Corrie Hansen.

Iemand wat klaarblyklik nie geweet het die egpaar is reeds geskei nie, het Kobus gebel en vertel van sy vrou se “affair”. Wie dit was wat gebel het, weet Elsanne nie.

Hy was skielik “oud en verwaarloos”.

“Kobus het my toe begin dreig. Hy het talle boodskappe aan my gestuur en my gebel en gesê hy gaan ons doodmaak en dat ek nie gelukkig sal wees nie. Hy kon nie daarmee cope nie,” vertel Elsanne.

Toe sy Kobus weer sien, was sy geskok.

Hy was skielik “oud en verwaarloos”, en sy het hom dokter toe geneem. Hulle het ’n afspraak vir hom by ’n psigiater gemaak wat hy nooit nagekom het nie.

“Hy het aanhou sê wanneer sy planne reg is, gaan hy my doodskiet.”

Elsanne bly ’n oomblik stil.

‘Hy het aanhou sê wanneer sy planne reg is, gaan hy my doodskiet’. Foto: Corrie Hansen.

Die vermiste pistool

“Kobus sou nooit iets in sy lewe seermaak nie; daarom het ek net nooit ­gedink hy sal tot so iets in staat wees nie. Ek het nooit gedink hy sal so iets aan my kan doen nie.”

Maar daardie bepaalde Maandag­oggend, 30 Oktober, het alles gebeur nes Kobus gedreig het dit sou. Hy het dit lank beplan, en niemand sou dit kon verhoed nie, glo Elsanne nou.

Kobus het sy broer, Willem, se pistool uit sy kluis gaan haal. Toe Willem besef sy kluis se sleutels is weg en Kobus is nêrens te vind nie, het sy vrou, Enelia, dadelik vir Elsanne op haar selfoon gebel om haar te waarsku Kobus is gewapen.

Maar dit was te laat.

Net voor Enelia se oproep het die ontvangspersoneel by haar werkplek vir Elsanne laat weet Kobus wag op haar. Sy is toe na buite. Sy het haar selfoon in die kantoor gelos.

“Iemand anders het my selfoon ge­antwoord (toe Enelia bel) en gesê Kobus staan reeds buite die gebou en ek is op pad na hom.

“En net daarna het hulle oor die foon die skote gehoor.”

Kanker

Tydens hul huwelik was Kobus sorgsaam en ondersteunend. Elsanne vertel toe haar hare begin uitval weens haar chemoterapie vir kanker, kon sy dit nie oor haar hart kry om self haar hare af te skeer nie.

Dit was Kobus wat in die badkamer van hul huis sonder ’n woord die knipper uit haar hand gevat en deur haar lokke gestoot het.

“Hy het my daarna styf vasgehou. Dit was presies wat ek in daardie stadium nodig gehad het,” onthou sy.

Nou is dit Ivan wat haar deurentyd ­ondersteun. Die twee het onlangs ’n rolstoelvriendelike huis saam gekoop.

Dit is vir my net bitter jammer dat mense hom so sal onthou. Hy was eintlik ’n goeie man.

“Soos baie ander mense pak Ivan soms die skuld op homself en wonder wat hy anders kon gedoen het en wat sou gebeur het as hy nie in my lewe was nie. Maar niemand kon iets gedoen het om Kobus te keer nie,” sê sy.

Die trane begin weer vrylik oor haar wange rol. Sy kan regtig niks slegs van Kobus sê nie, sê sy en soek ’n sneesdoekie. Sy is nie kwaad vir hom nie.

“Dit is vir my net bitter jammer dat mense hom so sal onthou. Hy was eintlik ’n goeie man,” sê sy.