Die skraal tienerseun met die gejelde kuif dra byna swaar aan die rye en rye balkies vir akademiese prestasie aan sy skoolbaadjie.

Hy’s die verpersoonliking van ’n boekwurm – en die soveelste keer bestyg hy die verhoog onder die toejuiging van sy mede­leerders en onderwysers toe sy naam hier in die skoolsaal as toppresteerder onder die matrieks uitgelees word.

Gary Louw (18) het sy arms vol toe die dux-trofee aan hom oorhandig word. Waar hy dit met ’n skaam glimlag vashou, lyk hy geensins soos iemand wat ’n stortvloed haatboodskappe en selfs doodsdreigemente sou kon uitlok nie. Maar binnekort gaan die bom bars . . .  

Ook in die skoolsaal teenwoordig tydens die prysuitdelingsgeleentheid van die Grantleigh College – ’n gegoede Christelike skool net buite Richardsbaai – is past. Andrew Anderson, ’n skoolouer en leraar van Ballito se AGS-gemeente Lig & Lewe.

kunswerke skermgreep
Pastoor Andrew Anderson. Foto: Skermgreep

Nes ander ouers bekyk Andrew op dieselfde oggend ’n uitstalling van die werk van kunsleerders aan dié Curro-skool. En Gary se kunswerke vervul hom so met woede dat hy dit kort daarna vurig in ’n videoboodskap in die sosiale media verdoem as “duiwels en demonies . . . ’n bespotting van die Christendom”.

In sy video wys Andrew die kuns wat hom so walg: Jesus uitgebeeld as die nar Ronald McDonald van die McDonald’s-­kitskosgroep. Beelde van Satan.

Die opgeskeurde bladsye van ’n Bybel. “Alles is demoniese magte . . . Ek kan dit nie meer hier in die skoolsaal verduur nie; dit voel asof Jesus van voor af ge­kruisig word,” sê Andrew in sy video.

Gary het skaars sy skilderye opgepak en huis toe geneem toe die haatbood-skappe soos ’n veldbrand in die sosiale media begin opvlam. “Kruisig hom!” skryf een. “Brand die vervloekte skool af,” laat nog iemand hoor.

En brand hóm sommer saam met die skool, voeg iemand in die kommentaarstring by.Maar die teiken van al dié woede klink verbasend kalm toe hy enkele dae later met Huisgenoot oor die herrie rondom sy kuns praat.

“Ek voel goed,” sê hy sonder enige spanning in sy stem. Sy bedoeling was nooit om “demoniese of duiwelse” boodskappe te verkondig nie, vertel hy. Hy sê hy wou met sy matriekkunsprojek eerder “die kommersialisering” van godsdiens uitbeeld. 

kunswerke skermgreep
Foto: Verskaf

Die hewige reaksie op sy kuns skrik hom nie af nie, sê Gary. “Om my saam met die skool te wil afbrand sal waarskynlik baie meer duiwels as my kunswerke wees,” merk hy droogweg op. 

Terwyl die storm oor sy omstrede kuns voortwoed, fokus hy vir eers net op sy matriekeksamen wat kort ná saktyd op 31 Oktober sou begin. 

Hy is reeds aan die Universiteit van Kaapstad aanvaar om van volgende jaar daar wetenskap en astrofisika te studeer en wil goed voorbereid wees vir sy laaste eksamen op skool.“Ek strewe altyd daarna om my beste te lewer,” sê hy ernstig. 

En ja, kuns is beslis deel van sy toekomsplanne – die dreigemente ten spyt. “Ek is glad nie bang nie.”

kunswerke skermgreep
Foto: Verskaf

Dit was ’n vriend wat hom van die pastoor se video laat weet het. “Ek was geskok. Ek het gedink: Was dit nou nodig? Want dit was heeltemal ’n wanvoorstelling van die bedoeling agter my kunswerke,” sê hy.

 Hy het geweet die video gaan óf ’n stille dood sterf óf opslae maak.

“Eers toe die saak momentum begin kry en ek met hordes boodskappe gebombardeer word, het ek my ouers daarvan vertel.”

Teen daardie tyd was die herrie oor sy kuns ook groot nuus in die media. Sy ouers het hom deurentyd gesteun, maar weens doodsdreigemente verkies hy om hulle nie te identifiseer nie.

Hy is net so lief vir sy skool soos die pastoor wat die video gemaak het, sê hy. En hy kom nie uit ’n ongelukkige huis of moeilike kinderjare nie.

kunswerke skermgreep
Gary se kuns het landwyd reaksie ontlok, maar hy voer aan sy bedoeling was nie om ’n bespotting van Christenskap te maak nie. Foto: Verskaf

“Ek weet mense wil my nou sielkundig ontleed, maar daar is nie probleme by die huis nie. Ek het ’n baie gesonde verhouding met albei my ouers en met my vriende.”

Sy naastes se Facebook-blaaie spreek inderdaad van ’n dood­gewone gesinslewe.

Daar’s ’n foto van ’n gebrandskilderde glaslamp wat sy ma self gemaak het. En ’n kiekie van ’n veel jonger Gary waar hy trots ’n 7 kg-tiervis vashou wat hy gevang het – sy eerste. En dan is daar foto’s van sommer baie skooltrofeë en -sertifikate.

Oor sy status as skrander bleeksiel is hy nie skaam nie.  Hy is maar meestal eenkant en in sy boeke verdiep, vertel hy. 

“Ek is ’n enigste kind. Ek is nou nie mal oor sport nie, maar ek lees baie. Ek stel veral in die wetenskap en filosofie belang. Ek is natuurlik ook lief vir kuns.”

Gary se ouers is Christene en hyself was lank ook gelowig, vertel hy.

“Ek is nie godsdienstig nie; ek is ’n ateïs. Tog dink ek my ouers het my nie net in Grantleigh gesit oor die Christelike etos nie; dit was eerder oor die gehalteonderwys wat dié skool bied.”

Hy sê die Christelike simbole in sy kuns weerspieël sy renons in die “kommersialisering van georganiseerde godsdiens”.

Hy sê sy werke bespreek “hoe hedendaagse godsdiens oppervlakkig geraak het en hoe goedgelowige mense deur geldgieriges onder die dekmantel van godsdiens uitgebuit word”. Die beeld van Ronald McDonald simboliseer volgens hom hoe party mense hul godsdiens benader nes hulle produkte soos McDonald’s verbruik.

“Ek weet my kuns kan vreesaanjaend wees. Maar daar was ’n waarskuwing by die uitstalling dat dit mense kan ontstel. Kinders is nie toegelaat nie en video’s en foto’s is ook verbied,” sê hy. Tog het die pastoor ’n video daarvan geneem en dit versprei. 

kunswerke skermgreep
Foto: Verskaf

Wanneer Gary by die skool of tuis aan sy kuns werk, luister hy soms na heavy metal. Maar meestal werk hy in stilte. 

Die opdrag vir sy finale kunsprojek was baie wyd. “Die onderwerp was lineêre ruimtes, om die ruimte tussen dinge te verken. Vir my lê die krag van kuns nie in wat dit jou laat voel nie, maar óf dit jou laat voel. Ek is nie naïef nie; ek wou die kyker ontroer.

“Elke mens het sy eie denke en idees. As jy nie jou denke kan uitdruk nie, wat anders is daar wat die lewe interessant maak? Hoe anders het jy ’n invloed op die wêreld?”

Ondanks die herrie oor sy kuns sê Gary hy is bly oor die debat wat die pastoor se videoboodskap ontketen het. En dankbaar oor die reklame, want belang­hebbendes in kunskringe het hom reeds genader om dit te koop of verkoop.

“So wat is my toekomsplanne? Sekerlik net om meer kuns te maak.”

Reg of weg?

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die NG Kerk se Algemene Sinode, sê dis verstaanbaar dat Christene deur die simbole in die kunswerke geskok en seergemaak voel. Maar hy meen die pastoor het nie die reg gehad om die kuns buite die kon­teks waarin dit uitgestal is en sonder die toestemming van die kunstenaar en skool te versprei nie.

Prof. Pierre de Vos, ’n Grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, sê: “Die Grondwet verseker godsdiensvryheid. Dit beteken jy het die reg om godsdienstig te wees, maar ook om dit nie te wees nie. In ’n diverse land moet ons inskikliker wees teenoor menings waarmee ons nie saamstem nie.”

Paul Graham, direkteur van Freedom House South Africa en ’n kenner op die gebied van vryheid van spraak, sê: “Die enigste beperking is om nie geweld uit te lok of ander aan te hits om skade te veroorsaak nie. Omdat dié vryheid so belangrik in ons demokrasie is, stel die howe ’n hoë bewyslas op diegene wat glo hulle is deur iemand anders se uitdrukking daarvan benadeel.

  • Curro het weens die herrie in die sosiale media dadelik ’n interne onder­soek gedoen. In ’n verklaring sê Curro hoewel die skool graag kreatiwiteit en onafhanklike denke aanspoor, moes die skool meer leiding aan Gary gegee het oor die reaksie wat sy kuns kon uitlok. Hulle het bevestig die betrokke kunswerke is reeds deur die onafhanklike eksamenraad geëvalueer en geen probleme is toe aangemeld nie. Tog het die skool onvoorwaardelik verskoning gevra aan almal wat aanstoot geneem het. Past. Andrew Anderson het dié ver­skoning aanvaar.