Die seepbelle dryf lui deur die blou lug.

Die drie blondekoprakkers giggel toe die borrels deur die wind geskep word en die twee honde speels daarna hap. Die Lowe-spruite het uiteenlopende persoonlikhede, maar iets gemeen: Hulle is so te sê ewe lank, ondanks hul verskillende ouderdomme.

Dit is omdat Abigail (6), Khloe (5) en Izak (3) al drie aan dwergisme ly, nes hul pa, Stephen (40).

“Jy word so gewoond daaraan dat jy kort is, dit pla jou nie eens meer nie,” sê Stephen, ’n tentontwerper van Middelburg in Mpumalanga.

Hier by hul tante Rina Botha se huis in Emalahleni is die kinders vandag op hul stukke. Daar word gespeel, koek geëet en omtrent geskaterlag. Pure kind. Al is hulle uniek en korter as die maatjies van hul ouderdom.

“Hulle moenie voel hulle is anders nie,” sê hul ma, Rika (30), wat nie dwergisme het nie. “Dit is hoekom ons hulle almal in ’n gewone skool gaan sit. Hulle moet net kind kan wees en elkeen hul lewenspaadjie stap.”

Abigail was vanjaar in gr. R en gaan volgende jaar “grootskool” toe, die Laerskool Staatspresident C.R. Swart op Middelburg.

Die blondekoppies geniet dit om pure kind te wees en hul lengte hou hulle glad nie terug nie.

“Ons het klaar haar skoolklere gekoop, maar dit moet nog kleiner gemaak word. Al die klere is mos te groot vir hulle,” verduidelik Rika. Khloe gaan volgende jaar gr. R toe, terwyl klein Izak nog die lewe as peuter sal verken onder die waaksame oog van Rika, ’n huisvrou.

Rika en Stephen is al sewe jaar getroud, en hul eerste ontmoeting, op Middelburg, was tipies van hul lewensbenadering. “Stephen was my buurman,” verduidelik Rika. “Hulle was aan die bou, en ek het die aantreklike man deur die kombuisvenster dopgehou."

"Ek het gesien hy lyk so ’n bietjie kort, maar gedink hy staan op die fondament van die huis”

"Ek het gesien hy lyk so ’n bietjie kort, maar gedink hy staan op die fondament van die huis,” vertel sy laggend.

Dit was liefde met die eerste oogopslag, want toe sy hom ’n paar weke later eindelik ontmoet en sien hy is werklik so kort, het dit haar glad nie gepla nie. “Die lengte maak mos nie saak nie. Dit is wat in iemand se hart aangaan, wat tel,” sê die blondekop.

Abigail dra vir haar oupa Koos Botha (67) koeldrank aan. Sy loop versigtig en maak seker sy mors nie ’n druppel nie.

“Dié drie is oupa en ouma se trots,” sê Koos terwyl hy haar ’n dankiedruk gee. Koos, sy vrou, Johanna (60), en die Lowes woon saam op Middelburg. Izak en Khloe sit weerskante van hul ouers, elkeen met ’n vleispastei in die hand.

Al probeer hulle hul kinders so gewoon moontlik grootmaak, vra die kleinspan tog vrae. En soms is daar trane omdat hulle anders lyk as hul portuurgroep. “Dit vang Abigail,” merk Rika op.

Soms is daar trane omdat hulle anders lyk as hul maats, maar Rika troos hulle dan met die versekering dat hulle uniek is.

“Sy begin besef sy is korter as die kinders in haar klas en het al gevra of sy so kort soos haar pa gaan wees. Wanneer ons ja sê, begin sy huil.”

Maar dan paai hulle haar en sê sy is net uniek; niks is fout met haar nie.

“Ons het hulle vroeër vanjaar na die Dwergiefees op Modimolle gevat om hulle te wys daar is nog mense soos hulle,” sê Stephen. Hulle is ook lid van ’n groep dwergies wat maandeliks in Johannesburg bymekaarkom om te braai en sosialiseer.

Elkeen van die drie ly aan ’n ander soort dwergisme, maar hulle moet nog bloedtoetse doen om te bepaal aan watter soort elkeen ly.

Rika is so beskermend soos ’n tierwyfie oor haar kinders en onthou iets wat op Abigail se eerste skooldag gebeur het: “Twee meisies agter my het oor haar gesels en gelag. Ek het net daar omgedraai, en toe ek weer sien, is hulle weg. Hulle het geweet daar kom moeilikheid,” vertel sy met ’n laggie.

“Ek is nou al gewoond daaraan,” sê Stephen. “Maar dit vang Rika nog, veral in winkelsentrums.” Rika vertel hoe ’n vrou eendag in die winkel oor ’n rak geleun het om skelm ’n foto van haar en haar gesin te neem.

“Ek kon dit nie glo nie,” sê Rika.

“Party mense het darem ’n bietjie maniere en vra of hulle ’n foto mag neem."

“Die ergste is dat grootmense van ons ’n spektakel maak. Die ouers sal hul kinders roep en sê: ‘Kyk, daar loop hulle”

“Die ergste is dat grootmense van ons ’n spektakel maak. Die ouers sal hul kinders roep en sê: ‘Kyk, daar loop hulle.’ ” Dan begin sy lag: “En Stephen maak dit natuurlik nie makliker nie. Hy sal vir my tussen die winkelrakke wegkruip of met die trollie in die gange afjaag. Dan dink die kinders dis ’n groot grap.”

Dit pla Stephen min. “As hulle wil kyk, moet hulle nou maar kyk.”

VIR Rika en Stephen was dit nie ’n groot skok om met elke swangerskap te hoor die baba gaan ’n dwergie wees nie.

“Sy gene is sterker as myne,” sê Rika. “Ek was ses maande swanger met Abigail toe ons hoor sy gaan ’n dwergie wees, maar dit het ons nie gepla nie. Ons het geweet sy gaan gesond wees,” vertel sy.

Met hul jongste, Izak, het Stephen gehoop hy sal nie ’n dwergie wees nie. “Seuns kan gemeen wees met mekaar,” sê hy. Maar toe is hul derde ook ’n dwerg. Sy ouers het dit dadelik aanvaar.

“Ons het net een wens vir ons kinders,” sê Rika: “Hulle moet ’n sukses maak van hul lewe.” Stephen beaam dit: “Hulle moet skool toe gaan en dan gaan swot. Hulle moet iets agter hul naam kry.”

Die kinders is nog klein, maar het groot drome. “Abigail is mal oor diere en wil ’n veearts word,” vertel Rika.” Die bekkige Khloe wil ’n onderwyseres word. “Daai arme kinders,” lag Stephen.

En hul jongste? Izak wil eendag agter die stuur van die grootste trok op die pad wees. Rika sê: “Hy wil ’n lorriebestuurder word, maar voor hy gr. 1 toe gaan ’n baard soos die sanger Jo Black s’n hê!” 

Dwegisme en oorerwing

Oorerflike vorme van dwergisme word veroorsaak deur veranderings in genetiese materiaal (DNS), verduidelik dr. Liani Smit van die departement mediese genetika aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer as 200 gene word verbind met ’n groot verskeidenheid skeletale toestande. Dit kan onder meer tot dwergisme lei. Dwergisme kan op verskillende maniere geërf word.

Liani sê elke mens erf genetiese materiaal van sy ma en pa. Daar is dus twee “kopieë” van elke geen. Sy reken die oorerwing in die Lowes is waarskynlik volgens die sogenaamde outosomaal- dominante patroon.

“Met dié patroon is ’n verandering in net een van die kopieë genoeg om die toestand, in hierdie geval dwergisme, te veroorsaak. Die pa met dwergisme het daarom een kopie met die verandering vir dwergisme, asook ’n normale kopie. Die kopie met die verandering kon hy van ’n ouer met dwergisme geërf het of die verandering kon vir die eerste keer in hom gebeur het.”

Die feit dat al drie Stephen se kinders dwergisme geërf het, vergelyk sy met die opskiet van ’n muntstuk.

“Die kans met elke swangerskap is 50% om die kopie met die verandering vir dwergisme en 50% om die ‘normale’ kopie te erf. In dié geval het al drie kinders per toeval die een met die verandering vir dwergisme geërf.”