Die agt maande oue Mienke Mulder is al byna twee weke in die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Auckland Park nadat sy enkele maande gelede wonderbaarlik oorleef het nadat sy by haar dagsorgsentrum in Mbombela aan melk verstik het. Mienke het waarskynlik breinskade ná die voorval opgedoen.

“Dit gaan nog moeilik,” het haar ma, Verna (26), Woensdag aan Huisgenoot.com gesê. Verna is elke dag aan haar sy. Haar man, Ryno (30), moes noodgedwonge na Mbombela terugkeer vir sy werk. Hy hou die pot aan die kook vir sy gesin. Die egpaar het nog twee dogters, Leané (3) en Zamoné (19 maande).

Gelukkiger dae vir die Mulder-gesin: Ma Verna en pa Ryno by hul dogters Zamoné, Leané (middel) en Mienke.

Die ouerpaar hou hul ondersteuners getrou op hoogte van Mienke se vordering. Mienke het op 24 Augustus by haar dagsorg aan melk verstik. Haar ouers, wat albei by ’n plaaslike glasinstalleringsonderneming werk, het in Mei van Gauteng na Mbombela (Nelspruit) verhuis. Personeel het met Mienke na die Mediclinic Mbombela gehaas.

Met die ouers se aankoms is vir hulle gesê hulle kan niks meer vir haar doen nie. Verna het geweier om dit te aanvaar en 15 minute later het dokters ’n polsslag gekry en het sy oorleef. Die klein wonderwerkie se veggees gryp mense landwyd aan.

“Mienke het Dinsdag vir haar eerste swemsessie gegaan en sy was absoluut mal daaroor,” het Verna Woensdag op die groep Please Pray for Mienke meegedeel. “Dit (die behandeling) word gedoen om Mienke te kalmeer en te help om haar spiere te laat ontspan terwyl sy in die water strek. Ek sal beslis sê dit is haar gunsteling.”

Verna het aan Huisgenoot.com gesê dit is nog moeilik om te sien dat die behandeling vrugte afwerp omdat dit nog vroeg in haar behandeling is. Sy is ná die voorval in die Netcare Waterfall City-hospitaal behandel en breinskade is toe by haar gediagnoseer. Al hoop op ’n normale lewe wat hulle nou vir hul kind het, is die rehabilitasie wat sy minstens drie maande lank sal moet ondergaan.

“Die dokters sê haar brein is nog baie ‘geïrriteer’ en hulle kry nog nie veel met haar uitgerig nie.” Sy vertel die terapeute is wonderlik. “Hulle probeer haar meestal net rustig hou.”

Verna sê sy weet Mienke het die swemsessie Dinsdag baie geniet omdat sy in die swembad aan die slaap geraak het.

“Ons vat dit dag vir dag. Een dag gaan dit goed en die volgende dag sleg. Een dag slaap sy heeldag en die volgende dag huil sy die hele dag.”

Baba Mienke is na 'n fratsvoorval by haar dagsorgsentrum waarskynlik met breinskade gelaat.

Verna sê dit raak met tye emosioneel uitmergelend. Dit is vir haar veral erg om die hartverskeurende omstandighede van ander kinders en hul ouers in die hospitaal te aanskou. Sy en Ryno weier om die prognose te aanvaar dat hul dogter vir die res van haar lewe gestrem sal wees en nooit sal kan leer loop, praat of sien nie.

“Ons cope,” sê Verna oor die pad wat hulle nog moet stap. “Ons het nie ’n keuse nie.”