“Dit is enige bruid se nagmerrie,” vertel Priscilla Badenhorst (34).

Priscilla is die afgelope naweek met haar kêrel van die afgelope vyf jaar, Martin Badenhorst (30), getroud.

Martin, ’n loodgieter wat sy eie onderneming bedryf, het in 2015 die nuus gehaal met bewerings dat Manda Reyneke, van Deon Helberg-faam, hom ook lastig geval het met onder meer uitlokkende selfoonboodskappe.

"Sy het eenkeer in ’n WhatsApp gesê sy wil graag op Plettenbergbaai aarbeie en room van my lyf aflek. ’n Ander keer het sy vir my gesê sy los haar deur saans na middernag vir my oop," het Martin destyds aan Huisgenoot – met Priscilla aan sy sy – vertel.

Manda Reyneke is in November 2011 skuldig bevind nadat sy Nigeriërs R10 000 betaal het om die rugbyspeler Deon Helberg lelik seer te maak, het Huisgenoot voorheen berig.

Sy het in 2015 verskeie versoeke van Huisgenoot om kommentaar op Martin se bewerings te lewer van die hand gewys. "Dankie, maar nee dankie. Ek het niks om te sê nie," het Manda die verslaggewer laat weet. 

Maar vier jaar later is Priscilla en Martin nog dolgelukkig. Hulle het in Februarie verlede jaar op ’n wildreservaat verloof geraak en aan hul droomdag begin beplan. Tog was dit so ampertjies of onvoorsiene omstandighede het hul troudag in die wiele gery . . .

Toe Priscilla verlede week Woensdag, twee dae voor haar troudag, haar trourok-ontwerper bel om die laaste reëlings vir haar droomrok te finaliseer voor sy die rok sou gaan oplaai, kon sy die man glad nie in die hande kry nie. “Sy selfoon was af en ons het gedink sy foon is dalk gesteel,” vertel sy. Die volgende oggend klim Priscilla toe in haar kar en ry Centurion toe om te gaan uitvind wat aangaan.

“Toe ek by die ontwerper se ateljee kom, is daar ’n hele paar gespanne bruide en ’n handgeskrewe nota teen die deur,” vertel Priscilla.

Dié nota verwys die kliënte toe na ’n salon, waar die ateljee se sleutels is, sodat hulle hul rokke by die ateljee kan oplaai. Die nota het verder verduidelik dat die ontwerper ’n senuwee-ineenstorting gehad het en in ’n psigiatriese hospitaal behandel word. “Vriende” van die ontwerper het glo aangebied om van die rokke klaar te maak.

“My rok en my man se pak was nie naby aan klaar nie,” vertel Priscilla. “Dit was ’n dilemma.”

Maar in plaas daarvan om histeries in trane uit te bars het sy planne begin beraam. “Ek het dadelik begin rondbel om te werk aan ’n plan B. Een van my strooimeisies het vir my Ciska Barnard van Ciska Barnard Couture se nommer gestuur en sy het gesê ek kan haar dadelik kom sien.”

Ciska het onmiddellik rokke begin gereed kry sodat Priscilla met die intrapslag kon begin aanpas.

“Ek het daar aangekom en my droomtrourok gekry,” vertel Priscilla. “Dit het my soos ’n handskoen gepas. Sy het my dag gered.”

Intussen moes Martin sy pak se broek nog laat korter maak en vinnig spring om ’n nuwe das en onderbaadjie in die hande te kry.

“Ek was nie eens naby aan trane nie, want die werklikheid het nie ingesink nie. Ek was in ‘bridal save your wedding day mode’. ’n Ineenstorting en trane was die laaste ding op my agenda.”

Ten spyte van die vorige dag se geskarrel het Priscilla en Martin se droomdag toe wel die volgende dag ’n werklikheid geword toe hulle buite Krugersdorp kon afhaak.

Die bruid is glad nie spyt oor hoe dinge toe op die ou end uitgedraai het nie.

Priscilla moes op die nippertjie 'n nuwe trourok i
Priscilla moes op die nippertjie 'n nuwe trourok in die hande kry.

“Ek glo alles gebeur met ’n doel,” sê sy kort voor sy en Martin op ’n vliegtuig klim om in Europa te gaan wittebrood hou.

Sy meen haar rok was op die ou end klassiek en beeldskoon. “My neef se dogtertjie het gedink ek is ’n regte prinses toe ek by die kerk instap.”

Sy sê die aankondiging toe sy en manlief by die onthaalsaal instap as Mnr. en Mev. Badenhorst was ’n wonderlike hoogtepunt.

“En natuurlik ons eerste dans," sê sy.

Priscilla was dolgelukkig met haar die rok wat sy
Priscilla was dolgelukkig met haar die rok wat sy die dag voor haar troue gehuur het.