Jaco Geldenhuys
Geliefdes van Jaco Geldenhuys (32) probeer steeds sin maak van sy raaiselagtige dood. Sy liggaam is op 16 Julie op ’n verlate grondpad naby die Bronkhorstspruit-tolhek op die N4-hoofweg aangetref nadat hy twee dae lank vermis was. Foto: Verskaf

Toe sy broer verlede week as vermis aangemeld is, het hy nooit gedink hulle sou sy lewelose liggaam net twee dae later vind nie, sê ’n man van Pretoria wie se jongste broer verlede week onder raaiselagtige omstandighede dood is. 

Daar heers steeds baie vrae oor die presiese omstandighede wat daartoe gelei het dat Jaco Geldenhuys (32) – ’n pakhuisbestuurder van Pretoria – se liggaam op Vrydag 16 Julie naby die Bronkhorstspruit-tolhek op die N4-hoofweg gevind is, sê sy broer Deon Geldenhuys (39).

Jaco het Woensdag kort ná 17:30 uit die omgewing van die Pretoriase Moot gery na Cullinan waar hy glo privaat motorherstelwerk sou doen. Hy was passievol oor motors en het baie van sy vrye tyd daaraan toegewy, vertel Deon.

Maar kommer oor Jaco se veiligheid het ontstaan toe hy nie Donderdag vir werk opgedaag het nie.

Jaco Geldenhuys
Jaco was passievol oor motors en motofietse, vertel sy geliefdes. Foto: Verskaf

’n Vermiste persone-saak is dieselfde dag geopen en Jaco se verlate Alfa Romeo Mito-voertuig is later die dag by die Tshwane China-winkelsentrum in Derdepoort, Pretoria, gekry. 

“Jy lees oor sulke dinge in die nuus, maar jy dink nooit dat dit dalk ook eendag jou werklikheid kan word nie,” sê ’n emosionele Deon Maandag aan Huisgenoot. “Ons was siek van kommer – veral omdat my broer se beursie en selfoon nog in die motor was.”

Soekspanne het Donderdag by die Sasol-vulstasie ontmoet en ure lank vergeefs na Jaco gesoek. Sy liggaam is Vrydag – glo ná ’n wenk – op ’n verlate grondpad langs die N4 aangetref. Deon en ’n vriend, Dean Bester, was saam met die polisie op die toneel.

“Ons kan steeds nie sin maak van die hele ding nie,” sê Deon. “Dis absoluut verskriklik.” 

Jaco Geldenhuys
Die broers op Neil se troudag. Van links is Jaco, Deon, Neil en dié se vrou, Elmien. Foto: Verskaf

Nie Deon of sy ouer broer, Neil Geldenhuys (40), van die Oos-Kaap, wou uitbrei op Jaco se beserings of die vermoedelike oorsaak van sy dood nie. Albei sê hulle wil eers die lykskouing later Maandag afhandel en dan wag vir ’n nadoodse verslag om uitgereik te word. 

Deon sê Jaco se meisie, Justine Koekemoer, is ontroosbaar. Jaco het nog Woensdagaand vir haar ’n WhatsApp-boodskap gestuur met die adres van waarheen hy op pad is – en toe hoor sy nooit weer van hom nie. 

“Daar moet ’n doel wees hoekom die Here hom kom haal het,” sê Deon. “Dís al waaraan ons nou vasklou.” 

Hy sê daar is baie “sensitiewe inligting” wat deel vorm van die polisieondersoek wat nie nou bekendgemaak mag word nie. 

Jaco Geldenhuys
Jaco se Alfa Romeo Mito-voertuig is op 15 Julie by die Tshwane China-winkelsentrum in Derdepoort, Pretoria, gevind. Foto: Verskaf

“Daar sit iets groter agter sy dood as waarvan ons bewus is,” sê Neil. “Die polisie het ons gevra om in hierdie stadium nie te veel inligting te deel nie.” 

Neil sê hy en Deon is albei bitter oor Jaco se dood. Die broers se ouers, Leon en Marcilla Geldenhuys, is albei jare gelede oorlede – Marcilla in 1993 en Deon in 2004. 

“Daar is so baie vrae wat ontsettend seer maak. Hoe gebeur so iets? Hoekom hý? Dis maar bitter swaar vir ons. Dit voel soos die soveelste slag wat ons toegedien word – ons moes eers ons ma en pa begrawe, en nou ons kleinboet,” sê Neil. 

Jaco Geldenhuys
Jaco saam met sy meisie, Justine Koekemoer. Foto: Verskaf

Hulle onthou Jaco as ’n geliefde man met baie vriende. “Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy het altyd gelag en wou altyd help waar hy kon,” vertel Deon. 

Almal was gek oor hom, sê Neil. “Jy kon eenvoudig nie help om vir hom lief te word nie. Almal is geskok – ons sien dit in die honderde boodskappe wat nou instroom. Maar van almal breek my hart die meeste vir Justine.

"Ek het anderdag vir my vrou gesê dit lyk dalk of hulle die kansel sal haal . . . Hulle was so gelukkig. Ek het nog voorgestel dat die twee van ons kyk waar ons kan help as dit gebeur aangesien ons ouers nie meer leef nie. En nou is hy dood. Ons kan dit werklik nog nie glo nie.” 

  • Die polisie in Gauteng het nie onmiddellik reageer op ’n navraag van Huisgenoot nie. Kapt. Mavela Masondo, ’n polisiewoordvoerder in Gauteng, het onderneem om later op dié navraag te reageer. Kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe