Niemand het verwag om hom so gou weer hier in die beskuldigdebank van die hoog­geregshof in Kaapstad te sien staan nie.

Hy was veronderstel om in sy spoghuis in Constantia, Kaapstad, te wees. Daar waar hy al die afgelope ses maande in stilte en gemaklike afsondering wag om volgende jaar verhoor te word op aanklag van die moord op sy vrou.

In huisarres tussen sy bekende besittings kon die 57-jarige Rob Packham so na aan ’n normale lewe lei as wat ’n moordbeskuldigde kan – al het hy na bewering op 22 Februarie vanjaar sy vrou, Gill (55), by hul huis met ’n stomp voorwerp doodgeslaan en haar daarna in die kattebak van haar eie BMW by die Diep­rivierstasie gaan verkool.

Rob is borgtog van R50 000 toegestaan nadat hy kort ná Gill se dood van haar moord aangekla is, maar is ook tydelik in huisarres geplaas tot en met sy deelname aan ’n uitkenningsparade in Maart. Daarna is die huisarres opgehef.

Agter die hoë wit mure van die Packhams se luukse huis in die lowergroen Rieslingweg, waar die polisie ’n bloedspoor gevind het voor hulle die sakeman skaars ’n week ná die moord aangekla het, kon Rob alledaagse dinge doen. Dalk die nuus lees op sy rekenaar, selfoonoproepe maak, SMS’e en e-pos ontvang en stuur.

Maar dié vrye toegang tot tegnologie is die rede waarom die lang gryskopman met sy dik swartraambril vandag weer in die hof staan en sy gesig vir die kameras probeer verbloem.

Volgens die staat het dié oënskynlike bleeksiel herhaaldelik sy vrye toegang tot tegnologie soos selfone en rekenaars misbruik om getuies in sy komende ­verhoor te kontak en glo te intimideer. ­Onder hulle was glo oudkollegas en ­familielede.

Rob en ’n lid van sy regspan, Joshua Greeff, in bespreking in die hof. Die staat voer aan Rob het staats­getuies geïntimideer. Hy is in huisarres geplaas en alle tegnologiese kommuni- kasietoestelle is van hom weggeneem.

Hartstogtelike e-pos

Daar was veral een staatsgetuie aan wie hy spesifieke aandag gegee het – al het sy persoonlik en by monde van haar prokureur herhaaldelik vir hom gesê om haar nooit weer te kontak nie.

Maar Rob kon glo eenvoudig nie sy beweerde voormalige minnares uitlos nie.

Sy het sy selfoonnommer geblok, maar hy het haar glo daarna vanaf ander nommers gebel. Hy het na bewering selfs by monde van ’n “vriend van Rob” vir haar ’n lang, hartstogtelike e-pos gestuur.

In die e-pos word onder meer verwys na Rob se passievolle liefde vir sy minnares, na hul opwindende sekslewe en na sy hoop om ’n toekoms saam met haar te bou.

Maar toe Rob op 3 September glo blomme by haar werkplek gaan afgee, saam met die boodskap “Liefde maak ­alles mooi” in Frans op die kaartjie geskryf, het sy besluit: Dis nou genoeg.

Sy het haar prokureur gekontak en ­hulle het dit by die polisie gaan aanmeld, waarna Rob in hegtenis geneem is.

Toe Rob daarna weer in die hof ver­skyn, het regter Nathan Erasmus saamgestem die net moet stywer om die moordbeskuldigde getrek word.

“Jy het jou borgtogvoorwaardes oortree,” sê hy aan Rob toe dié in die beskuldigdebank verskyn.

“Ek gaan jou voorts in jou huis hou met geen tegnologiese toerusting nie, geen selfone en tablette nie, tot jou verhoor afgehandel is.

“Gelukkig vir jou het sy (die minnares) vinnig die polisie daarvan in kennis gestel voor jy direkte kontak met haar kon maak.”

Rob Packham staan tereg op die moord van sy vrou, Gill.

Sy weet nie hoe om dit duideliker te stel nie – sy wil geen kontak met Rob Packham hê nie.

“Dit het ’n verskriklike emosionele en sielkundige impak op my en het ’n kringeffek op my hele lewe, insluitend op my twee minderjarige seuns.”

So lui die verklaring deur die vrou wat glo meer as ’n jaar lank die getroude Rob se minnares was.

Van minnares tot staatsgetuie

Nadat hy na bewering sy vrou van die afgelope 30 jaar en die ma van sy twee volwasse dogters vermoor het, gaan die 44-jarige donkerkop teen hom getuig in sy moordverhoor.

Die plek by die Dieprivierstasie waar Gill se verkoolde lyk in haar groen BMW gevind is.

Die hof het gelas haar naam mag nie bekendgemaak word nie omdat sy op die staatsgetuielys is.

Sy het Rob se nommer geblok, blyk uit die verklaring; ook elke ander nommer waarop hy haar gebel het. Laasgenoemde nommers was nie geregistreer nie.

Maar dit het Rob nie afgeskrik nie.

Op 4 September ontvang sy voorma­lige minnares ’n e-pos, vier gedrukte A4-bladsye lank, van ene Richard, ’n “jare lange vriend van Rob”.

Lewensveranderende seks

Maar die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway – wat ook die aanklaer in die Henri van Breda-moordverhoor was – voer aan “Richard” is in werklikheid Rob. Deur hom as Richard voor te doen het hy onregstreeks kontak gemaak met sy minnares, voer sy aan.

In die e-pos vertel “Richard” hy is ’n sakeman wat tussen Hongkong en ­Johannesburg pendel en dat hy een aand “baie wyn en Jamesons” saam met Rob gedrink het omdat dié deur ’n moeilike tyd gaan.

“Hy het my alles vertel, ja, alles, van jou. Nou verstaan ek waar sy kop verlede jaar was, en nog meer vanjaar. Hy sê jy is die beste ding wat ooit met hom gebeur het. Hy aanbid jou. Hy het my ook vertel van die lewensveranderende seks saam met jou, wow,” lui die e-pos.

“Hy het gesê hy het nog nooit meer lewendig gevoel as wanneer hy by jou was nie. Die omstandighede waarin hy nou is, verander dit nie.”

Richard sê Rob is nie obsessief oor haar nie; hy is net passievol en lojaal. Rob is glo alleen en verstaan nie waarom sy hom heeltyd blok en sodoende “sy hart uit sy bors uit ruk” nie.

Onthou net hy is nog dieselfde man wat hy voor hierdie hele gemors was.

Hy wil graag ’n lewe saam met haar bou en sien ’n belowende toekoms wat vir hulle twee voorlê. Rob wil haar ook help om haar twee seuntjies groot te maak, staan in die e-pos.

“Jy verwag hy moet net wegloop. Hy sal nie, hy kan nie; sy hart sal dit nie toelaat nie,” skryf Richard.

“Jy het geweet die egskeidingspapiere was reeds opgestel. Hy was vasbeslote om dit te beëindig, en hy het geweet daardie deel van sy lewe is verby. Hy was verlig.

“Onthou net hy is nog dieselfde man wat hy voor hierdie hele gemors was. Gill se tragiese dood maak hom nie skielik ’n ander persoon nie.”

“Richard” bied dan aan om vir haar ’n selfoon te gee waarvan niemand weet nie sodat sy met Rob kan gesels.

“Hy is weerloos en emosioneel. Hy wil jou bitter graag sien en wil net met jou gesels.

“Hy sal vir jou doodgaan. Hy sal nie stop tot jy dit ­begryp nie.”

Ná sy inhegtenisneming het dit in Mei vanjaar aan die lig gekom dat Rob na bewering aan ’n seksverslawing lei, met ’n voorliefde vir ­dominerende seks, wat glo die gebruik van kettings en swepe ­insluit.

Gill het volgens Netwerk24 in ’n WhatsApp-boodskap aan vriendinne haar man se vermeende verslawing as “verraad” beskryf. Sy het ook haar hartseer oor sy ontrouheid uitgedruk.

Gill Packham (55) se verkoolde lyk is in haar BMW se kattebak gevind.

In ’n polisieverklaring kort ná Gill se grusame dood sing Rob ’n heel ander deuntjie as die een in “Richard” se e-pos. Hy sê hy het Gill vertel van sy affair en hulle het van November 2017 tot ­Fe­bruarie 2018 ’n huweliksberader gesien.

Hulle wou hul huwelik red en sou in April vanjaar hul huweliksbeloftes hernu.

“Ek het self besluit om my affair stop te sit en het, nadat ek hulp van ’n berader gekry het, besluit om die volle waarheid met my vrou te deel,” het Rob verklaar. “My vrou was gebroke oor die nuus en dit het haar verskriklik seer­gemaak. Sy was baie kwaad vir my.”

Rob beweer nou hy was baie spyt oor die affair en wou nooit die huwelik ­beëindig nie. Die egpaar het twee pragtige blonde dogters, Kerry-Ann (27) en Nicola (25).

In ’n ander e-pos – aan ’n kollega by sy voormalige werkgewer, die koeldrankmaatskappy Twizza – skryf Rob die afgelope paar maande was die slegste van sy lewe.

“Gill se tragiese dood, ek wat van haar moord aangekla word en die media­herrie daaroor is vir my ver­skriklik. Alles is so onregverdig en lelik. Die hele saak is gegrond op onwaarhede en omstandigheidsgetuienis.

“Ek was nog nooit in my lewe so emosioneel en fisiek bang nie, veral oor die manier waarop die polisie my in die tronk behandel het,” skryf Rob.

“Maar ek sal dit verduur; ek moet net.”


  • Rob se regsverteenwoordiger, Ben Mathewson, wou nie kommentaar lewer oor enige aspek van die oortreding van sy borgvoorwaardes of die streng huis­arres waarin hy nou verkeer nie.
  • Adv. Susan Galloway, vir die staat, het met Rob se tweede borgaansoek op 28 September aangevoer hulle het ná ’n deeglike ondersoek ­genoeg rede gehad om te glo Rob is eintlik Richard. Hulle het kring-TV-­bewyse waar Rob die blomme by sy minnares se werk ­af­lewer, maar hy hou vol dit was ene ­Richard wat dit afgelewer het. Hulle het ook sy e-pos nagegaan, en vanweë sy skryfstyl glo hulle Richard was bloot ’n skuilnaam.
  • Rob se moordverhoor sal waarskynlik in Februarie 2019 in die hooggeregshof in Kaapstad begin.
FOTO'S: GALLO IMAGES/NETWERK24/JACO MARAIS, FACEBOOK, CORRIE HANSEN