Miljoene spinnekoppe het spinnerakke op allerhande
Verskeie plekke in die Australiese staat Victoria is toe onder die spinnerakke. Foto: Facebook/Jeff Hobbs

Kwaai reën en vloede in die gebied het tot nat toestande gelei wat die plaaslike spinnekopbevolking versteur het en die agtpotige gediertes vlug nou na hoërliggende gebiede. 

Die gediertes se spinnerakke het pale, gras en selfs padtekens bedek. 

Prof. Dieter Hochuli van die Universiteit van Sydney het aan die Australiese nuuswebtuiste 7news gesê die gedrag is nie ongewoon vir dié soort bosspinnekoppe nie. 

Dr. Ken Walker, ’n entomologie-kurator by die Melbourne-museum, het aan die Guardian gesê dat dit tot miljoene spinnekoppe kan wees wat verantwoordelik is vir die spinnerakke. 

"Wanneer so baie spinnekoppe tegelyk die spinnerakke maak, heg dit aanmekaar en vorm die kombers-effek. Dit heg aan die plantegroei vas, en die spinnekoppe gebruik dit dan om van die grond af na bo te klim," het Walker verduidelik. 

Inwoners op die dorpe Sale en Longford het in die sosiale media foto's en video's van die verskynsel gedeel. 

Een inwoner, Carolyn Crossley, het aan die BBC gesê dit was glad nie vreesaanjaend nie, maar eerder beeldskoon. 

Ander het vertel dat die magiese voorkoms van die webbe lekker was om te sien ná die verwoestende reënbuie.

Bronne: The Sun, The Guardian, BBC, YouTube 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.