Die dag van sy eersteling se geboorte het Ruan van der Merwe (27) van Brakpan soos enige pa senuweeagtig in die hospitaal se gang op en af geloop.

Sy hoogswanger meisie, Angelique de Swardt (26), moes op daardie dag op 6 November verlede jaar inderhaas vir ’n noodkeiser opgeneem word.

Alles het goed afgeloop al is klein Hanru op 32 weke, twee maande te vroeg, gebore en het hy net 1,6 kg geweeg.

Maar toe hulle die klein seuntjie in Angelique se arms sit, was dit weer ’n noodgeval.

“Sy het verskriklik groot geskrik, so erg dat haar bloeddruk weer deur die dak geskiet het. Sy moes 40 minute in recovery ingaan . . .” vertel Ruan.

Klein Hanru is twee maande te vroeg met 'n noodkei
Klein Hanru is twee maande te vroeg met 'n noodkeiser gebore. Foto: Verskaf

Buite het die dokter uitgekom om Ruan geluk te wens. “Hy het gesê: 'Jou seuntjie is gesond, hy het 10 toontjies, 10 vingertjies, maar daar ís komplikasies; hy het ’n haaslippie.'”

Ook Ruan was geskok.

“Die skanderings het nooit gewys enigiets is fout nie. Ons het 4D- en 5D-skanderings gedoen, daar was tot video’s. Ek het al gehoor van ’n haaslippie, maar ek het nie werklik geweet wat dit is en wat dit behels nie."

”Hanru se lip en verhemelte het nooit volkome ontwikkel nie en is gesplete gelaat. Dit het sy suigfunksie aangetas, en later ook sy spraak.

“Angelique het net bly sê: ‘Ek is so jammer, ek is so jammer. Sy het gedink dit is haar skuld dat dit gebeur het.”

Klein Hanru by sy ouers Ruan van der Merwe en Ange
Klein Hanru by sy ouers Ruan van der Merwe en Angelique de Swardt van Brakpan. Foto: Verskaf

Maar dokters het die paartjie verseker dit was nie hulle skuld nie.

“Ons was, terwyl Angelique nog swanger was, op pad werk toe in ’n motorongeluk. Die dokter sê dit kon die oorsaak gewees het, maar niemand weet regtig nie. Die lippie vorm al baie vroeg in die swangerskap, so as hy later gebore is, kon dit dalk vasgegroei het, maar dit weet ’n mens ook nie.”

Wat die paartjie wel wou weet, was hoe om voortaan vir Hanru te kon sorg.

Hanru van der Merwe se ouers moet fondse bymekaar
Hanru van der Merwe se ouers moet fondse bymekaar maak om sy lip en verhemelte te laat herstel. Foto: Verskaf

“Hy was 35 dae in die NICU van die Verre Oos-Randse-hospitaal (in Springs). Hy moes daar leer suig en moes eers buisvoeding kry. In dié tyd was Angelique elke dag by hom om te leer wat om te doen, maar daar is dokters en pediaters en verpleegsters om te help.

“Ons het die dag toe hy moes huis toe kom, besef ons is só bang ons weet nie wat om te doen as ons alleen saam met hom is nie. Ons was aan die begin elke 30 minute reg deur die nag wakker, ons was so bang hy hou op asemhaal . . .”

Ruan vertel Hanru het ’n spesiale bottel gekry waaruit hy geleer het om te drink en ’n fopspeen wat hom sou leer suig.

Hello All Just a quick update on how Hanru is doing Over the past weekend Hanru and his parents was treated to a...

Posted by Help for Hanru on Wednesday, 19 August 2020

Alles het goed gegaan tot Ruan, wat in logistiek werk, sowel as Angelique, wat in administrasie vir ’n konstruksiemaatskappy werk, weens die covid-19-pandemie, afgelê is.

“Dit was so lekker saam by die huis, maar die lockdown het ons hard gevang, en dan tref dit jou: Jy het nie ’n inkomste nie.”

Ruan vertel hulle wou graag die operasie om Hanru (nou 10 maande) se mond te laat herstel so gou moontlik doen, maar hulle weet nou daar lê vele struikelblokke voor.

“So ’n operasie kos van R150 000 tot R180 000 om dit privaat te laat doen. By die Charlotte Maxeke-staatshospitaal doen hulle dit in samewerking met die Smile Foundation, maar hulle het met covid-19 baie agter geraak met die operasies. Hanru is 120ste op die waglys.”

Hanru is 'n op en wakker seuntjie, vertel sy pa. F
Hanru is 'n op en wakker seuntjie, vertel sy pa. Foto: Verskaf

Hoewel daar baie uitdagings is, klink Ruan nie moedeloos nie. 

“Hanru is net hierdie op en wakker, cheerful klein seuntjie. Weet jy, as jy daai smile elke dag sien en hy lag so uitspattig mooi, dan sien jy dit glad nie meer raak nie. Inteendeel wonder ons: sal ons nie daai smile mis as die lippie eers reg is nie?”

Die hele ding het my en my vroutjie net sterker gemaak. Dit is die wêreld wat wreed is. Mense wat ons in die winkel sal voorkeer en vra: Wat is fout met julle kind? Ons sien niks fout nie. Dit is hoe hy gebore is. As dit nie was vir die wêreld nie, het dit ons dalk nie eens meer gepla nie.”