Die fikse L.O.-onderwyser Ammiël Smith (27) van Noordwes het mense oor die land en grense heen in rep en roer: Op die laaste skooldag van die kwartaal het hy ’n video gemaak van hom en ’n groep leerlinge wat op die maat van die gewilde Kwaito-joggie DJ Cleo se snit “goodbye” dans. 

Dié video, wat hy op 14 Junie op die Laerskool Vryburg se Facebook-blad geplaas het, het die afgelope week soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei en is al meer as 600 000 keer gekyk.

“Ek is nog steeds verbaas! Dit was glad nie beplan nie. Toe ek die video opgesit het, het ek maar net 'n kans gevat dat mense dit sou geniet. Die skoolklok het gelui, ek het sommer ‘n klompie kinders buite die skool gesien rondstaan en my beat box gaan haal.

“Ek weet nie of die liedjie 'n nuwe liedjie is nie, maar ek het daarvan gehou en vir die kinders gesê hulle moet kom luister.

“Hulle was so opgewonde oor hul rapporte en ek omdat ek pay gekry het,” lag hy.

Dit is toe dat hulle spontaan begin dans.

“Baie mense sien dit as 'n teken van hoop. By ons skool sien ons nie kleur nie. Almal doen alles saam.”

Waar Huisgenoot met Ammiël gesels kort voor hy vir ’n staptog in die Drakensberge vertrek, lag hy toe ons hom vertel ons het nie vergeet van die keer toe hy by ’n verkeerslig in Bloemfontein bekendheid verwerf het nie. Hy is afgeneem waar hy met ’n plakkaat staan wat lees: “Op soek na my trouvrou (geen ou tannies of kansvatters nie)." 

“Ek het gehoop mense het al daarvan vergeet! Ek was onvolwasse verby!” vertel Ammiël, wat sedertdien ’n loopbaan in bemarking laat vaar het om 'n onderwyser te word.

Hy erken die liefde ontbreek hom steeds, maar sê hy is op 'n baie goeie plek in sy lewe.

Ammiël, wat destyds 'n honneursgraad in bemarking en entrepreneurskap aan die Noordwes-universiteit verwerf het, vertel hy het toe nog in die korporatiewe wêreld gewerk.

“Maar ek het besef dit is nie vir my nie,” vertel hy.

In 2017 het hy by die Laerskool Vryburg begin werk en verder in onderwys gestudeer.

“Ek het nie geweet dit kan gebeur nie, maar ek het my roeping gevind.”