Die aanbod was te goed om van die hand te wys: Neem ’n luukse jag van Tahiti in Frans-Polinesië na San Diego in Amerika, ’n vaart van sowat 6 500 km oor die glinsterende waters van die Stille Oseaan. Dit was die geleentheid van ’n leeftyd vir twee kranige jong seevaarders.

En die taak het net so eenvoudig as genotvol geklink: Neem namens die Hazana se welgestelde eienaars die 13 m lange seiljag na sy winterankerplek in Kalifornië.

Maar vir die Amerikaanse seevaarder Tami Oldham Ashcraft en haar Britse verloofde, Richard Sharp, sou die werklikheid katastrofies wees – want op hul roete het hulle in die pad beland van die orkaan Raymond, een van die verwoestendste storms in die opgetekende geskiedenis.

Met winde van 140 knope en branders van 12 m hoog wat bo hulle uittroon, het die orkaan hulle met die krag van ’n sloopgewig getref, die seiljag omgekeer, Richard oorboord gegooi en Tami alleen op die vernielde vaartuig agtergelaat. Die mas was gebreek, die seile aan flarde en die boot oorspoel.

Wat daarop gevolg het, is ’n verhaal van groot geluk, uitsonderlike waagmoed en redding. Meer as 40 dae lank, met haar boot lamgelê, haar toerusting aan skerwe en haar hart gebroke, het die 23-jarige Tami op die een of ander manier die elemente trotseer wat gedreig het om haar te vernietig – en dit oorwin.

Sy het dit reggekry, glo sy, danksy die gees van haar verloofde wat haar gelei het en wie se knaende stem haar dag ná dag aangedryf het na ’n oënskynlik onmoontlike oorlewing.

‘Uit die dieptes van my siel voel ek ’n dier binne my brul. Ek skree en tier teen die uitgestrekte see wat my geliefde van my weggeskeur het . . .’
Die Amerikaanse seevaarder Tami Oldham Ashcraft en haar Britse verloofde, Richard Sharp, op ’n vroeër vaart.

Die stem, sê sy, het haar van die rand van die afgrond teruggebring en met net ’n sekstant en die sterre bo haar kop help navigeer. Nou is die beproewing wat sy in 1983 deurgemaak het in ’n peperduur Hollywood-rolprent, Adrift, omskep.

Dié fliek, met die Britse akteur Sam Claflin as Richard en die Amerikaanse aktrise Shailene Woodley as Tami, word vandeesmaand uitgereik. Claflin het naam gemaak in die fliekweergawe van Jojo Moyes se roman Me Before You, terwyl Shailene onder meer die rol van ’n tienerkankerpasiënt in The Fault in Our Stars vertolk het.

Maar dramaties soos die rolprent is, vang dit nie naastenby die verskrikking van Tami se epiese alleenreis van 2 400 km vas nie. Sy beskryf dit raak in Red Sky in Mourning: A True Story of Love, Loss and Survival at Sea, haar memoires waarop die rolprent gegrond is.

In September 1983 vertrek die twee jong seevaarders op wat hulle reken bloot ’n roetine-aflewering sal wees vir die Hazana se Britse eienaars, Peter en Christine Compton. Op 34 is Richard meer as ’n dekade ouer as sy jong Amerikaanse meisie, maar met sy diepblou oë, goudblonde hare en “eksotiese” Engelse aksent beteken hy vir haar alles.

Hulle vaar al ’n jaar en ’n half saam op die Stille Oseaan rond en lewer bote af. Op hul nuwe sending moet hulle nou wel baie ver vaar, maar dit bekommer hulle nie. “Ek seil al vier jaar lank op blou waters rond,” het Tami ná die ontsettende beproewing in ’n onderhoud verduidelik.

“Saam het ons al 50 000 myl (meer as 80 000 km) ver op die oseaan gevaar. Ons het mekaar omhels, gelag, liefde gemaak en ontspan – gereed om 20 dae lank in die paradys te wees.”

Maar ’n rampspoedige werklikheid het minder as twee weke ná hul vertrek op hulle gewag. Die tropiese storm Raymond “bars uit die bloute los”, tref hulle met orkaansterkte en woed twee katastrofiese dae lank op sy sterkste. Richard sien eerste ’n monsterbrander na die Hazana aankom.

Hy sê Tami moet onder toe gaan terwyl hy hom op die dek met ’n veiligheidsharnas vasmaak en die vaartuig drywend probeer hou. Oomblikke later hoor sy hom “Liewe Vader!” skree.

Daarna is haar wêreld in duisternis gehul. Die jag word soos ’n kurkprop in die onstuimige oseaan rondgeskiet en slaan om en om. Eers 27 uur later herwin Tami haar bewussyn.

Om haar heers ’n onheilspellende stilte en algehele verwoesting. Die kajuit is halfvol water en alles daarin is stukkend of oor die vloer gestrooi. Sy skarrel uit tot op die dek en soek wanhopig na Richard, maar kom net wrakstukke teë.

Die boot is so te sê vernietig: maste is afgebreek en die deurweekte seile dryf nutteloos in die water. Richard se veiligheidstou hang onheilspellend van die boot af.

Sam Claflin as Richard en Shailene Woodley as Tami in die fliek Adrift, wat op hul ervaring geskoei is.

Tami skree sy naam oor en oor, maar sien net die leë oseaan om haar uitstrek. Daar is geen teken van Richard nie. Oorweldig deur die skok en hartseer is sy eers verlam en die waarheid kan nie tot haar deurdring nie.

Weens ’n ernstige kopbesering en bloedverlies verloor sy kort-kort haar bewussyn. Sy is op die rand van ’n senu-ineenstorting, katatonies, en sy kan nie beweeg of eet nie.

En, soos sy later roerend in haar memoires vertel het: “Ek weet instinktief hy is oorboord. Weggeraap deur die malende kookpot van die oseaan, wat deur ’n tropiese storm tot ’n warboel geklits is. Toe ek besef hy is nie meer daar nie, wou ek sterf.

“Uit die dieptes van my siel voel ek ’n dier binne my brul. Ek skree en tier teen die uitgestrekte see wat my geliefde van my weggeskeur het . . . Ek verloor keer op keer my bewussyn en kom dan weer by, ylend en halfdood.”

Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om by haar verloofde aan te sluit in die dieptes van die water wat nou kalm geword het. En toe gebeur die wonderwerk: ’n Stem in haar kop eis dat sy water uit die boot skep om te keer dat dit sink. Verward dink Tami eers sy het dalk breinskade opgedoen. Tog hou die stem – soms Richard s’n, soms haar eie, soms haar ouers s’n – aan.

Dit dwing haar om op te staan, te eet en ’n plan te beraam om die land te bereik. Swak en duiselig probeer sy eers weerstand teen die eise bied, voor sy skielik daaraan gehoor gee.

Later sou sy die oomblik herleef: “Feitlik alles is oorboord gespoel. Toe sien ek dit voor my dryf: ’n fles grondboontjiebotter. Ek gryp die fles vas, pluk die deksel af en skep ’n mondvol uit. Dit kleef aan my tong soos ’n slak aan beton. Ek dwing dit by my keel af. Ek het kos nodig. Ek moet my brein en my lyf aan die werk kry.”

Die dae gaan verby met die stem as haar enigste geselskap op die eensame see. Tami kom op die jag se geblikte rantsoene tussen die wrakstukke af en bereken dat dit haar tot 40 dae lank sal hou voor sy verhonger. Toe begin sy kyk hoe sy ’n seil kan prakseer.

Die oorspronklike een is aan flarde en die mas gebreek, maar daar is nog ’n swaardiensseil, opgerol in sy oortreksel. Al pla haar kopbesering steeds, kry sy dit reg om die seil aan ’n gebreekte paal vas te maak en dit te hys. Dis klein – net ’n raps meer as 4 m² – maar dis genoeg. ’n Tweede belangrike oorwinning.

Teen dag nege van haar beproewing kan Tami seil en die jag stuur. Sy laat haar vlugtig ’n sprankie hoop toe. Smart word vir eers opsygeskuif. Sy rantsoeneer haar watervoorraad met ysere selfdissipline. Elke dag neem sy net ’n paar slukke uit die bêresak met water vir die stort. Sy kom ook af op bier en – vreemd genoeg – Kubaanse sigare, wat saans haar bederfie word.

‘Ek het leiding nodig gehad en die stem was ’n werklike verskynsel’.
Die jag waarmee sy gevaar het, is verwoes nadat dit deur ’n tropiese storm getref is.

Tami het geen elektroniese navigasie-instrumente nie, net ’n outydse sekstant, ’n paar deurweekte kaarte en die son en sterre terwyl sy na die veiligheid van verre Hawaii koers kies.

Met tye het dinge gedreig om haar te oorweldig, veral toe die wind en reën op die 11de dag weer op die boot toesak. Maar steeds sorg die kragtige stem in haar binneste dat sy nie kop verloor nie.

Druk deur, dring dit aan: “Veg vir jou lewe.”

Ander kere hoor sy haar ma en pa praat, of selfs haar eie stem. Soms skree die stem so hard vir haar dat sy wip van die skrik. Twee keer – op dag 16 en toe weer op dag 34 – word sy byna gered toe ’n skip op die horison verskyn. Maar hulle sien nie haar noodfakkels raak of die rooi T-hemp wat sy wanhopig aan die punt van ’n roeispaan rondswaai nie.

En twee keer vlieg ’n vliegtuig bo haar kop verby, maar weer word sy misgekyk. In ’n stadium is sy so na aan Hawaii dat sy dink sy het dalk by die eilande verbygevaar en in die rigting van China begin dryf – ’n skrikwekkende moontlikheid.

In haar volslae eensaamheid wonder Tami of sy reeds dood is, dat sy onsigbaar geword het. Die gedagte dryf haar byna daartoe om haar lewe te beëindig. Sy laai haar geweer en druk die loop in haar mond, maar die gedagte om nooit haar kleinboet te sien grootword nie laat haar van plan verander.

Kort daarna, op dag 40, kom die Hilo-hawe op Hawaii – en redding – in sig. Dis skemeraand en ’n gevaarlike koraalrif lê tussen haar en veiligheid. Sy kan eers in daglig dit waag om die hawe binne te vaar.

Ná ’n laaste nag op see kom ’n reddingsvaartuig teen dagbreek uitgevaar om haar te begelei.

Dis tyd om oor haar verlies na te dink, maar Tami se gees lei haar weer om moed te skep. Dit sê vir haar min ander mense sou die buitengewone vaart oorleef het. Sy moet trots wees en vreugde daaruit put. Dan sluit die stem af: “Ek sal altyd by jou wees.”

Dit was die laaste keer dat sy die stem gehoor het wat haar lewe gered het.

Tami was halsoorkop verlief op Richard en wou nie sonder hom leef nie.
Tami (middel) saam met haar dogter, Brook, en man, Eddie.
Tami veilig op Hawaii nadat sy meer as 40 dae lank op see was.

’n Triomfantelike Tami gaan aan land. Dit kos drie haarkappers twee dae om haar gekoekte blonde lokke uit te kam, want sy weier om haar lang hare af te sny.

“Ek het alles verloor. Dit was geheel en al buite die kwessie dat ek my hare sou prysgee,” het sy later vertel.

Tami keer na Amerika terug en word met haar gesin herenig. Terug tussen ander mense wel die smart in haar op.

“Terwyl ek in oorlewingsmodus was, was die smart redelik min. Dit was nie so intens soos toe ek aan land kom nie. Toe ek weer tussen ander mense is, het alles my heeltyd aan hom herinner,” vertel sy.

“Soms wou ek nie eens meer leef nie, want ek het nie geweet hoe ek met my lewe sou aangaan nie. Ek sou nooit weer verlief kon raak nie. Maar die oorlewingsinstink het weer ingeskop. Dit het my help fokus en my op koers gehou.”

’n Hele ruk het verloop voor sy die moed bymekaargeskraap het om weer te seil, maar vandag is sy ’n gelisensieerde kaptein vir vaartuie van 100 t en sy het al meer as 80 000 km ter see agter die rug.

Dit het langer geduur vir haar geestelike letsels om te genees. Tami meen sy het aan ernstige posttraumatiese skok gely en is spyt sy het nie vir behandeling of berading gegaan nie.

“Ek is redelik hardkoppig en het gedink: O, ek kan dit op my eie verwerk. As ek nou terugdink, besef ek ek het met tye professionele hulp nodig gehad.”

Die skryf van Red Sky in Mourning het haar met haar genesing gehelp. Weens haar ernstige kopbesering kon sy eers ses jaar later weer ’n boek lees, wat nog te sê een skryf. Eers ná haar troue en die geboorte van haar eersteling kon sy eindelik haar verhaal vertel.

“Ek wou altyd my storie skryf, maar dit het jare geduur voor die storie my nie meer heeltemal in beslag geneem het nie,” sê sy.

“Ek het soveel daarvan vir so lank opgekrop. Ek wou dit net uit my gedagtes wis en met die lewe aangaan.

“Om my kop op daardie manier skoon te kry het my gehelp om dit te verwerk. Nou kies ek wanneer ek daaroor wil dink, pleks dat dit altyd daar is.”

Tot vandag toe dra sy ’n driehoekige sekstant met ’n diamant daarop. Sy sê die hangertjie herinner haar aan hoe sy haar pad terug huis toe gekry het. “Dit het my lewe gered.”

Nes die raaiselagtige stem wat haar na die kus gelei het. Terwyl party mense wonder of dit die stem van God was, meen Tami dit was haar eie innerlike krag, die stem in haar binneste.

“Ek was geestelik uitgemergel,” sê sy. “Ek het leiding nodig gehad en die stem was ’n werklike verskynsel. Drie keer was dit van buite hoorbaar.”

Sy onthou steeds die raad wat dit haar gegee het toe sy ’n laagtepunt bereik het. “As ek gaan leef, kom ons begin dan leef,” het die stem vir haar gesê.

Dis ’n leuse waarvolgens sy steeds leef.Adrift begin op 27 Julie in rolprentteaters in Suid-Afrika.

KOPIEREG: ASSOCIATED NEWSPAPERS; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM/@TAMIASHCRAFT, STXFILMS