Haar pa, Lambert (35), sussie, Luzandra (2), en Lambert se swanger verloofde, Riekie van Heerden (31), was verlede Saterdag in ’n kop-aan-kop-botsing met ’n ander voertuig op die Ou Warmbad-pad. Luidens berigte was die opgewonde groep op pad na die dokter vir Riekie se swangerskapskandering. 

Riekie het wonderbaarlik niks oorgekom nie, en Luzandra het ’n gebreekte been en kneusplekke opgedoen.

Lambert, oftewel Lampie soos hy in die omgang bekend gestaan het, is egter ernstig beseer in die ongeluk en het interne bloeding opgedoen. Hy is Vrydagoggend om vyfuur oorlede.

“Dit is bitter moeilik vir ons almal,” sê Charmain, Lambert se stiefma. “Dit is so onnodig. Dit moes nie gebeur het nie.”

Volgens Charmain sukkel Riekie om haar verloofde se dood te verwerk.

“Sy is baie kwaad oor wat gebeur het. Sy het baie seer. Sy is 32 weke swanger en nou gaan sy die kleintjie alleen moet grootmaak.”

Mikayla is ook stukkend.

“Sy is platgeslaan. Sy sukkel om dit te verwerk.”

Mikayla is in 2011 in haar bed op die Robbertse se plaas in Lephalale (Ellisras) deur ’n Mosambiekse spoegkobra op haar linkerhand en elmboog gebyt.

Sy moes meer as 37 operasies ondergaan en het wonderbaarlik herstel, maar in 2018 moes haar vinger weens gangreen geamputeer word.

“Sy is ’n klein vegtertjie. Niks kan haar onderkry nie, maar die dood van haar pa is vir haar verskriklike swaar. Sy is hartgebroke.”

Mikayla was tydens die ongeluk by Charmain.

Charmain sê hulle sal Lambert altyd as ’n omgeemens onthou.

“Al het hy die minste gehad, sou hy vir jou alles gee. Hy was altyd beskikbaar, maak nie saak wanneer jy hom bel nie. Ons gaan hom verskriklik baie mis.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe