Nes sy partyleier, Julius Malema, spoel hy gereeld mond uit oor beweerde korrupsie en bedrog in die regering. Daar is drama in die parlement, opruiende uitsprake, onderonsies met joernaliste . . .

In sy rooi werkersoorpak en met die nou reeds bekende rooi baret op die kop, is hy immer aan die sy van die omstrede Malema en dikwels net so veglustig.

Maar nou is Floyd Shivambu, adjunkleier van die Economic Freedom Fighters (EFF), self ingesleep by die VBS Mutual Bank-skandaal, wat waarnemers bestempel as “een van die ergste gevalle van plundering wat Suid-Afrika nog beleef het”.

En dis maar net die nuutste in ’n rits opspraakwekkende voorvalle. Wie is Juju se jare lange regterhand werklik?

Hoe strook sy uitspattige leefstyl met sy openbare beeld as kampvegter van die armes?

En hoe raak die VBS-skandaal sy politieke loopbaan – en sy party?

Julius Malema en Floyd Shivambu.

DIE LOUIS VUITTON-KRYGER

Wat die jongste debakel ironies maak, sê opposisielede, is dat die EFF sê hulle veg vir arm en kwesbare Suid-Afrikaners.

Maar volgens ’n verdoemende verslag getiteld The Great Bank Heist, wat vir die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid saamgestel is ná ’n ondersoek na VBS, het Floyd se jonger broer, Brian, na bewering miljoene rande van dié bank ontvang.

Die verslag, opgestel onder leiding van adv. Terry Motau, toon sowat R1,9 miljard is waarskynlik by dié bank geplunder. Meer as 50 mense en ondernemings word in die verslag by verdagte betalings betrek.

Brian word as die beweerde ontvanger van ongeoorloofde betalings van meer as R16 miljoen geïdentifiseer. Die EFF het later gesê dié geld was vir “konsultasiewerk”.

Floyd met sy peperduur Louis Vuitton-bagasiestel terwyl hy vir ’n aansluitingsvlug na Kuba wag.

Daar is beweer R10 miljoen is na Floyd gekanaliseer, maar sowel hy as die EFF het dit ten sterkste ontken.

Intussen het die Sondagkoerant Rapport berig Floyd leef allermins ’n beskeie lewe. In September is hy as lid van ’n groepie parlementslede op pad na ’n ampsbesoek in Kuba met ’n bagasiestel van die Franse ontwerper Louis Vuitton ter waarde van sowat R120 000 gewaar.

Sy swart Mercedes-viertrekvoertuig kos meer as R730 000, het Rapport ook berig.

Floyd het aan Rapport gesê die bagasiestel was ’n verjaardaggeskenk en dat die ryding aan sy vrou, die regsgeleerde Siphesihle Pezi, behoort. Hyself besit ’n BMW 7 . . .

Die weelderige Mercedes-sportnutsvoertuig op Floyd se parkeerplek by die parlement is op sy vrou se naam.

‘WAPENS VAN MASSAMISLEIDING’

So beskryf Floyd die aantygings teen hom.

Tog het die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange aangedui dit gaan moontlike belangebotsings in transaksies tussen Floyd en sy broer ondersoek.

Die DA het ook die Valke gevra om die Shivambu’s se beweerde betrokkenheid by die VBS-plundering te ondersoek. Die DA daag Floyd ook uit om ’n leefstyloudit te ondergaan, sê Phumzile van Damme, DA-woordvoerder oor korrupsie.

“As hy niks het om weg te steek nie, sal hy sekerlik deursigtig optree,” sê sy. Phumzile meen die VBS-plundering “het hardwerkende Suid-Afrikaners amper al hul spaargeld gekos”.

Sy voeg by: “Dié skandaal kan ernstige gevolge hê vir die 15 munisipaliteite wat R1,5 miljard by die bank gedeponeer het.”

Dat hy nou by die VBS Mutual Bank-skandaal betrek is, besorg Floyd en sy partyleier, Julius Malema, hoofbrekens in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing.

Die bankskandaal is “waarskynlik een van die radikaalste voorbeelde van plundery wat ’n mens nog in Suid-Afrika gesien het”, meen prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit.

Wat dit interessant maak, meen hy, is dat die EFF heeltyd gesê het “pay back the money, pay back the money” tydens die skandaal oor betalings vir oudpres. Jacob Zuma se woning by Nkandla in KwaZulu-Natal.

“Sal hulle nog dieselfde deuntjie sing wanneer hulle ter sprake is?” vra hy. Intussen het Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, die EFF aangepor om ’n forensiese interne ondersoek na die VBS-skandaal te doen om vas te stel of Floyd van sy broer se beweerde betrokkenheid daarby geweet het.

SY PAD NA DIE ROOI BARET

Nyiko Floyd Shivambu is 35 jaar gelede op die dorpie Mahonisi in die Malamulele-gebied in Limpopo gebore. As een van sewe kinders het hy arm grootgeword in ’n huis sonder lopende water en elektrisiteit.

Sy ouers was straatsmouse. Hy wou eers in ’n tegniese rigting studeer, maar het op politieke studie besluit nadat sy pa vir hom ’n gehawende eksemplaar van Wladimir Lenin se Die Staat en Rewolusie huis toe gebring het.

In die 2000’s het hy by Wits se studenteraad betrokke geraak.

As SR-president in 2004-’05 het hy politieke aktivisme aangevuur. Tien jaar later het hy sy meestersgraad in politieke studies daar behaal.

Hy was woordvoerder van die ANC- jeugliga, onder presidentskap van Malema, voor albei in 2012 deur die ANC uitgeskop is.

Saam met Malema was Floyd destyds een van die voorste Zuma-ondersteuners, maar dié voortvarende duo het mettertyd van JZ vervreemd geraak.

Voor hulle uit die ANC geskop is, was Floyd in die nuus oor sy gedrag teenoor joernaliste.

In 2010 het hy onder meer na ’n joernalis as ’n “wit teef” verwys. En in Maart vanjaar – toe hy reeds die adjunkhoof van die EFF was – het hy die multimediajoernalis Adrian de Kock aan die keel gegryp en teen ’n muur vasgedruk toe dié hom buite die parlement afneem en kommentaar vra.

Floyd (in rooi oorpak) gaan die joernalis Adrian de Kock in Maart vanjaar te lyf.

MOEILIKHEIDMAKER IN DIE HUIS

Tydens die rooi barette se skermutselings met die parlement se omstrede wit hemde, oftewel die beamptes wat hulle uitgeboender het wanneer hulle Zuma so luidrugtig aangevat het, “was Shivambu aan die voorpunt van sulke onderonsies”, sê André.

“Die hele party is maar bekend vir hul gewelddadige benadering en hy is die toonbeeld daarvan.” Onlangs het Floyd ook vir Ismail Momoniat, ’n adjunk-direkteurgeneraal van die tesourie, daarvan beskuldig dat hy swart Afrikane ondermyn.

Floyd wou weet waarom Ismail as Indiër pleks van ’n swart Afrikaan so dikwels in die parlement verslag doen en by portefeuljekomitees soos die een oor finansies teenwoordig is.

Floyd is toe deur die ander politieke partye sowel as menseregteorganisasies veroordeel omdat hy die rassekaart speel.

Saam met sy vrou, ­Siphesihle Pezi.

IN DIE PEKEL OOR PA-PLIG

In 2015 is Floyd voor die onderhoudshof van Randburg gedaag omdat hy glo nie onderhoudsgeld vir sy kleuter uit ’n verhouding met ’n model betaal het nie. Luidens berigte het sy hom gelos.

Floyd het aan die einde van daardie jaar erken hy is wel die pa en gesê hy sal behoorlik vir die kind sorg.

HOE LYK SAKE VORENTOE?

Die politieke ontleder Max du Preez het op Netwerk24 geskryf tensy die EFF binnekort Floyd se onskuld oortuigend kan bewys, gaan die skandaal waarskynlik ’n groot terugslag wees vir die party se poging om in volgende jaar se verkiesing sy kiesersteun tot 12% te verdubbel.

Maar dit sal waarskynlik nie hul huidige steunbasis wegkalwe nie, meen André. Hy voeg egter by: “Floyd en Julius is baie na aan mekaar, en as daar ’n breuk kom, kan dit die kohesie binne die party-elite verminder, en dan kan dit na kiesers op die grondvlak uitkring.”

André meen Floyd is ’n politieke opportunis wie se radikale ideologie nou saam met Julius s’n loop.

“Ek dink Malema kan probleme sonder sy ondersteuning ervaar. Hy’s baie afhanklik van Floyd.” 

BRONNE: EWN, NETWERK24, NEWS24, SAHISTORY.ORG.ZA, DAILY MAVERICK, POLITICSWEB.CO.ZA, SOWETANLIVE.CO.ZA, TIMESLIVE.CO.ZA

FOTO'S: GALLO IMAGES/SOWETAN/VELI NHLAPO, INSTAGRAM/@FLOYD_SHIVAMBU, RAPPORT, GALLO IMAGES/ BEELD/LISA HNATOWICZ