’n Pasgetroude egpaar van Londen het die tradisie tot die uiterste gevoer toe hulle tydens hul wittebrood verlede jaar in hul dronkenskap ’n hotel koop, berig Mirror.

Gina Lyons (33) en Mark Lee (35) is in Junie 2017 getroud. Hul wittebrood was in Desember ’n drie weke lange rugsaktoer deur Sri Lanka. 

Een middag toe hulle by ’n hotel inteken, het hulle dadelik met die personeel goed oor die weg gekom. 

“Toe ons by die hotel instap, het ons ’n groep Sri Lankaanse mans gesien wat nog van die vorige aand dronk was; toe begin ons saam met hulle drink,” sê Gina.

Hulle het die nag op die strand deurgebring en saam met een van die kroegkelners rum gedrink, berig Metro.

Die kelner het vir hulle vertel die hotel se huurkontrak verstryk amper – en 12 glase rum later het hulle gedink dit sou ’n goeie idee wees om die hotel se huurkontrak van drie jaar vir sowat R585 000 te koop.

Die volgende dag het die egpaar met die vorige eienaars, ’n ouer paartjie, oor die hernuwing van die huurkontrak gepraat. Hulle erken hulle het tydens die onderhandelings weer ’n bietjie aangeklam geraak, berig Daily Mail.

“Ons moes twee vriende wat ons gemaak het met ons saamneem sodat hulle vir ons kon tolk, want die egpaar praat nie Engels nie,” vertel Gina. “Omdat ons die meeste van die gesprek nie verstaan het nie, het ek en Mark net nog rum sit en drink en stadigaan weer dronk geword.”

Al het hulle geldelike uitdagings gehad – hulle het toe pas vir ’n troue betaal – het die twee die helfte van die huur betaal en die hotel laat opknap en dit tot Lucky Beach Tangalle herdoop.

Hul geldelike uitdagings het nog meer geraak toe Gina swanger raak, maar hulle het besluit om deur te druk. En dit lyk of die geluk aan hul kant is, want sedert Julie vanjaar stroom gaste na hul hotel. 

“Ek het gevoel ek was onverantwoordelik, maar dit was sink of swem – toe besluit ons ons moet dit laat werk,” sê Gina van haar besluit om nie kop uit te trek nie.  

Bronne: Mirror, Daily Mail, Metro