Christina Ozturk en haar man, Galip, het in Maart 2020 hul eersteling, ’n seuntjie genaamd Mustafa, verwelkom.

In April is Maryam gebore en twee dae later het die tweeling Alice en Airin gevolg. Vier maande later is Mekhmet en in November is Lokman gebore. Klein Olivia is die mees onlangse toevoeging tot die gesin en is in Januarie gebore. 

View this post on Instagram

A post shared by Galip O¨ztu¨rk (@galipozturkofficial)

Nee, die ma is nie ’n natuurfrats nie: Die babas is met behulp van surrogate gebore. Christina en Galip, wat in Georgië naby Rusland woon, is so verslaaf aan kinders hê dat hulle minstens 100 wil hê. Die egpaar het reeds 11 kinders, maar wil hul gesin met nog 89 uitbrei met behulp van surrogate wat hulle uit hul diep sakke mee betaal. 

Christina was een keer swanger, en hoewel sy gesond is, het sy geen begeerte om nog kinders te baar nie.

Die 23-jarige het ses jaar gelede die lewe geskenk aan ’n dogter, Vika, voor sy haar miljoenêr-man ontmoet het.

Kort nadat hulle verlief geraak en getrou het, het sy en Galip (56) nog 10 babas binne 10 maande met behulp van surrogate gehad – en nou droom hulle van ’n honderdtal. Maar die tyd is dalk nie aan hul kant nie.

Met ’n ouderdomsverskil van 33 jaar sal Christina en Galip hul babas binne die volgende paar jaar moet kry as hulle wil hê die kinders moet geneties gesproke hul eie wees.

Manlike vrugbaarheid begin rondom 40 afneem wanneer die spermgehalte verminder, wat die algehele kans op swangerskap verminder. 

As Christina haar doelwit van 100 babas teen 30 wil bereik, gaan sy sowat 12 kinders per jaar oor die volgende sewe jaar moet kry. Dis ’n uitdagings wat die Ozturks vasberade is om te behaal, veral aangesien geld nie ’n probleem is nie.

Galip is ’n skatryk sakeman en ’n bekende in sy tuisland, Turkye. Maar hy is ook in omstredenheid gehul. Hy het sy rykdom gemaak danksy die sukses van sy reis- en toerisme-onderneming, maar word sedert 2003 met verdagte aktiwiteite verbind. 

Hy is in 2009 in hegtenis geneem vir manipulering van die Istanboel-aandelebeurs, maar is later vrygelaat hangende die verhoor. Hy is drie jaar later lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy die moord van ’n werknemer in 1996 aangehits het. 

Galip het op die dag van sy vonnisoplegging in 2013 gevlug na Georgië, waar hy vir Christina ontmoet het. Hy bly sedertdien daar. En nou het die sakeman sy aandag verskuif om ’n sukses van sy persoonlike lewe te maak. 

Galip en Christina het mekaar in die kusdorpie Batumi in Georgië ontmoet, wat dikwels die Las Vegas van die Swartsee genoem word. Christina, oorspronklik van Moskou, was daar met vakansie.

Die twee sê dit was liefde met die eerste oogopslag, en Christina en Vika het kort daarna Georgië toe getrek om saam met Galip te wees. 

Die egpaar het ooreengestem dat hulle soveel kinders moontlik wil hê, ten spyte daarvan dat Galip reeds agt kinders uit ’n vorige huwelik het. 

Hulle het oorspronklik beplan om elke jaar ’n baba te hê, maar het gou besef Christina se liggaam sou dit nie kon hanteer nie. Toe wend hulle hulle na surrogate, wat hulle sowat R143 000 per swangerskap kos.

“Ons ken nie die surrogaatma’s persoonlik nie, en om probleme ná die swangerskap te vermy, het ons nie direkte kontak met hulle nie.”

Christina is wel betrokke by wat die vroue eet. Sy skep dieet- en voedingsplanne vir elkeen van die surrogate. 

“Alle kommunikasie gebeur deur die kliniek. Ons monitor net hul gesondheid,” sê Christina. “Ek stel ’n dieet op vir die ma’s en kyk na die toetsuitslae.”

Sy sê die geboortes was nie sonder haakplekke nie.

Een van die ma’s wou die baba hou nadat dit gebore is, maar omdat Christina en Galip se genetika gebruik is, het die surrogaat geen regte gehad nie en moes sy die kind oorhandig. Die ma van 11 sê mense dink sy het ’n span oppassers wat haar help, maar dis nie die geval nie.

Sy doen die meeste van die daaglikse sorg self en bring soveel tyd as wat sy kan saam met haar babas deur. Klein Vika geniet dit om haar ma te help om na haar broers en susters om te sien.

Christina het ook streng vereistes wanneer sy oppassers aanstel. “Ek lei elke oppasser individueel op.Die kinders word streng volgens my instruksies grootgemaak.”

Dit sluit in wat om vir die kinders te lees, in watter volgorde, hoe laat en vir hoe lank. Sy gee vir haar kinders net tuisgemaakte etes en elke maaltyd word streng afgemeet. 

“Kos word streng volgens gram geweeg – nie ’n gram meer of minder nie.”

Oppassers moet ’n foto van elke baba se vuil doek neem sodat Christina kan vasstel of die inhoud “se kleur en konsistensie goed lyk”.

“Elke kind het ’n dagboek waarin die besonderhede van hul lewe aangeteken word – wat ons geëet het, hoeveel ons geëet het, hoe ek geslaap het, hoe ek gestap het, hoeveel is toilet toe, hoeveel gehuil het, watter veranderinge het met die lyfie gebeur.”

Haar kinders is afgerig om vanaf 20:00 tot 06:00 te slaap, sê sy. Sodra hulle slaap, doen Christina huishoudelike take, beplan spyskaarte en skeduleer doktersafsprake.

Hoewel die Ozturk-gesin in ’n roetine verval het, erken Christina dis ’n uitdaging om soveel kinders gelyktydig groot te maak. En dis hoekom sy en Galip besluit het om die surrogaatmoederskap vir eers opsy te skuif tot die kleingoed ouer is. 

“Dis nie op die oomblik prakties om soveel jong kinders te hê nie,” sê Christina.

Ons kan nie help om te wonder nie – sal daar ooit ’n regte oomblik wees?

BRONNE: AHVALNEWS.COM, DAILYMAIL.CO.UK, MIRROR.CO.UK