Tatiana Akhmedov het haar eksman, Farkhad Akhmedov
Tatiana Akhmedov het haar eksman, Farkhad Akhmedov en seun, Temur vir miljarde rande hof toe gesleep. Foto: Gallo Images/Getty Images.

En daar’s boonop meer kinkels en drama in dié jarelange twis – Brittanje se duurste egskeiding ooit – as in ’n hele seisoen van die Kardashians.

In gelukkiger dae het die paartjie ’n stralejakkerslewe gelei en geld geblaas op spoghuise, peperduur motors, kunsskatte en ’n enorme seiljag . . .

Maar rondom 2000 het Farkhad (66) en Tatiana (48) se paadjies geskei – na bewering onder meer omdat sy ’n buite-egtelike verhouding gehad het met die broer van hul seun, Temur (27), se beste vriend.

En dit was die begin van die grootste egskeidingstwis ooit in Brittanje, waarheen die paartjie verhuis het kort nadat hulle destyds in Moskou ontmoet en getrou het.

In die proses het Tatiana ook vervreemd geraak van Temur. Sy beskuldig haar seun daarvan dat hy sy pa gehelp het om sy wêreldwye bates te versteek toe sy daarop aanspraak maak; hy weier weer om sy ma te vergewe oor haar beweerde kafoefelry. 

Een van die grootste bates waarop Tatiana haar hande wou lê, was die Luna, Farkhad se enorme plesierboot van R5 miljard. Die Luna het die simbool geword van hul huwelik wat skipbreuk gelei het. 

In 2017 het ’n Britse regter in die duurste egskeidingsbevel ooit in die land se regsgeskiedenis R9 miljard aan die beeldskone Tatiana toegestaan.

Maar Farkhad, glo ’n persoonlike vriend van die Russiese president Wladimir Poetin, het terug na sy geboorteland verhuis en geweier om te betaal. 

“Ek het nie ’n sent daarvan gesien nie,” het Tatiana verlede jaar gesê toe haar saak teen haar eksman en seun die soveelste keer voor die hof in Engeland gekom het. 

Verlede maand het sy en Farkhad oplaas geskik – en daarvolgens sal hy kontant en kunswerke ter waarde van R2,7 miljard aan haar opdok. Maar haar verhouding met haar seun is steeds aan skerwe.

Temur het aan The Guardian gesê hy sal nooit met sy ma versoen nie. “Sy is bloot uit vir wraak. Hoe kan jy geboorte gee aan ’n kind en hulle hof toe sleep?” 

Die Britse regter Gwynneth Knowles het Temur egter as “so oneerlik soos sy pa” bestempel en opgesom: “Die Akhmedov-familie is een van die ongelukkigstes wat ooit in my hof verskyn het.”

Daar was ’n tyd toe die Luna as’t ware hul eie “Love Boat” van sepiefaam was.

Die luukse seiljag, Luna, staan sedert 2018 in die
Die luukse seiljag, Luna, staan sedert 2018 in die Dubai-hawe. Tatiana het probeer om dié seiljag te bekom maar het gefaal. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die drywende pretpaleis met Dubai as tuishawe is nege verdiepings hoog en spog met 10 BBP-suites, ’n 20 m-swembad en ’n ysbrekerboeg. Dis Farkhad se trots en grootste bate. 

Volgens ’n lys van die Amerikaanse intelligensiedienste is Farkhad onder die “top-18” van Poetin se beste sakevriende. Sy enorme rykdom spruit deels uit die verkoop van sy aandele in die energiemaatskappy Bechtel Energy in 2012.

Hy en Tatiana is in 2014 amptelik in Londen geskei nadat hulle jare lank vervreemd was. Sy wou aanvanklik R7 miljard uit die egskeiding kry, maar hy was reeds terug in sy geboorteland, Rusland, en het geweier om te betaal. En dit was die begin van hul lang regstryd. 

Toe Farkhad met behulp van sy seun sy bates begin “versteek” sodat sy eks nie haar hande daarop kan lê nie – hy het onder meer vir Temur ’n R600 miljoen-woonstel in Londen as “geskenk” gekoop – het sy haar visier op die Luna gedraai. Maar al haar afsonderlike regsgedinge om eienaarskap van die boot te kry het misluk.

Nadat die Britse hooggeregshof in 2017 sowat R9 miljard aan Tatiana toegestaan het en Farkhad steeds nie wou opdok nie, het sy begin vanjaar ook hul seun gedagvaar omdat hy volgens haar gehelp het om sy pa se skatte te versteek. 

Tatiana se weergawe van waarom haar huwelik met Farkhad misluk het, is onbekend, maar in Temur se hofgetuienis het hy sy ma verwoed aangeval. 

Die kunshandelaar Alexander Heller.
Die kunshandelaar Alexander Heller. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy het volgens hom minstens twee buite-egtelike verhoudings gehad: met die kunshandelaar Alexander Heller, en met Mark Isles (toe 20), die broer van Temur se beste vriend. “Dit was walglik en vernederend,” het Temur oor sy ma en Mark se beweerde verhouding gesê. 

“Die ongepaste verhouding het my as tiener baie bekommer. Ek het gesukkel om te konsentreer op skool, want ek was bekommerd dat my beste vriend se broer my nuwe pa sou word.”

Mark sou glo vir sy ma kom kuier wanneer sy pa weg was en voor Temur “druk en soen”. Hy sê hy het ’n drankprobleem en wantroue in vroue ontwikkel weens sy ma se owerspel.

Maar die hof het ook gehoor hoe Temur in 2015 ’n verbysterende R1,1 miljard van sy pa se geld weens swak aandelebeleggings verloor het.

Volgens Temur was dit bloot “slegte geluk”. Sy pa was baie kwaad, maar het glo probeer om “gaaf” te wees oor al dié geld wat sy seun verloor het. 

Verlede maand het die Britse hooggeregshof egter weer ’n keer in Tatiana se guns bevind: Temur moet sy ma R1,5 miljard betaal in geld en bates wat hy namens sy pa verdoesel het. En hyself mag net R60 000 ’n week van sy pa se geld gebruik.

Temur se reaksie buite die hof was bitter: “Ek weet R60 000 klink soos f****n baie geld, maar dit is nie baie vir iemand wat aan my leefstyl gewoond is nie.”

Dit was eers ná hierdie bevel teen hul seun dat Farkhad buite die hof met sy eksvrou ’n skikking van R2,7 miljard aangegaan en sodoende hul bitter regstryd van meer as vyf jaar afgesluit het.

Klaarblyklik om te verhoed dat sy seun moet opdok – maar waarskynlik ook om enige toekomstige hofuitsprake teen hom te verhoed. 

Tatiana woon steeds op die landgoed van R400 miljoen wat sy en haar eksman in Weybridge, Surry gedeel het.

Die R400 miljoen familie huis waarin Tatiana glo n
Die R400 miljoen familie huis waarin Tatiana glo nou woon is reeds voor die skikkingsooreenkoms aan haar gegee. Foto: Google Maps.

Volgens die Daily Mail is dié huis reeds voor verlede maand se skikkingsooreenkoms aan Tatiana gegee. Volgens bronne na aan Farkhad finansier hy ook steeds haar uitspattige leefstyl.

En Farkhad? Hy leef glo gelukkig in Moskou saam met sy nuwe vrou, die beeldskone voormalige Russiese model Anna Adamova (37). Dis sy derde huwelik. 

In hofstukke het Temur getuig sy pa en Anna het reeds drie kinders van hul eie saam. Hy hou vol sy pa het eers vir Anna begin sien ná sy ma se buite-egtelike verhoudings tien jaar gelede op die lappe gekom het. 

“My ma het eers kwaad geraak toe sy hoor my pa het ’n seun by Anna. Sy het geweet van die verhouding met Anna, maar ek het gehoor hoe sy na Anna verwys as ‘daardie hoer’, en hoe sy alles van ons wil wegvat,” het hy beweer. 

Aan die einde van Brittanje se duurste egskeiding loop Tatiana weg met veel minder as wat sy wou gehad het. Sy kry nou wel R2,7 miljard van haar eks, maar haar eie regskostes beloop sowat R1,5 miljard. 

En in die hawe van Dubai, die speelplek van die superrykes, toring haar eks se Luna-boot steeds bo die omliggende seiljagte uit.

“Sy het miljoene in verskeie jurisdiksiegebiede bestee om dié seiljag te bekom, maar sy het misluk,” het Farkhad se woordvoerder ná die skikking beklemtoon. “Die seiljag sal die eiendom van Farkhad en sy familietrusts bly.”

Want al het sy huwelik teen groot koste op die rotse geloop, vaar die skatryk magnaat steeds op gemaklike waters.

Bronne: Daily mail, The Guardian, The Times UK, Bloomberg, Financial Times, The Daily Beast, Business Live
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe