Katarina Zarutskie, van Miami in Amerika, het verlede maand saam met haar kêrel en sy gesin in die Bahamas vakansie gehou toe iets totaal onverwags gebeur, berig BBC News.

PSA: Sharks are cute and can nibble at times if not careful ??

A post shared by ♥ Katarina Elle Zarutskie ♥ (@katarinazarutskie) on

Terwyl sy in die Karibiese son gebaai het, het die 19-jarige mense by die Staniel Cay-marina tussen ’n paar gryshaaie gesnorkel. Die is gewoonlik skadeloos. 

Die beïnvloeder, wat meer as 44 000 volgelinge op Instagram het, het toe besluit om by die water in te gaan en ’n paar kiekies saam met die haaie te neem. Haar kêrel se familie het haar gewaarsku om dit nie te doen nie.

“Uit my vorige ervaring van branderry en skubaduik weet ek gryshaaie is gewoonlik baie veilig,” verduidelik Katarina. “Ek het tallose foto’s gesien van mense wat op Instagram saam met hulle poseer.”

Nadat sy ’n paar minute vir foto’s geposeer het, het ’n plaaslike inwoner vir die blonde skoonheid gesê sy moet op haar rug in die water dryf. Toe byt ’n haai haar en trek haar onder die water in, berig Us Weekly.

“Ek het agteroor geleun en toe kom byt die haai my aan my arm.

“Hy het my gewrig in sy bek gehad en ek kon sy tande by my arm voel insink,” sê sy.

Die haai het Katarina ’n paar sekondes onder die water gehou voor sy haar gewrig uit sy greep kon loskry. 

“In daardie stadium pomp so baie adrenalien deur jou lyf en jy moet net uit die situasie kom, maar ek het uiters kalm gebly.

 “Ek dink as ek geskree en rondgespartel het, kon dit beslis die situasie verander het,” sê sy.

Katarina sê sy herstel goed en drink verskeie soorte antibiotika om ontsteking te voorkom, berig Buzz Feed.

“Hulle is wilde diere en dit is ’n onbeheerbare situasie,” sê Katarina.

Bronne: BBC.com, USweekly.com, Buzzfeed.com