Nuweland, Kaapstad. Foto: Gallo Images/Getty Image
Nuweland, Kaapstad. Foto: Gallo Images/Getty Images

Oor die roemryke geskiedenis van Suid-Afrika se oudste rugbytuiste kan jy boekdele skryf. Maar elke speler wat al op Nuweland uitgedraf het, sal jou vertel: dis die ménse wat die stadion so besonders maak.

Die stampvol paviljoene en gebrul van die ondersteuners van die Streeptruie of Bokke laat jou voel jy’s in ’n Romeinse arena van ouds. Speel jy vir die tuisspan, kry jy hoendervleis van die lekkerte. Speel jy vir die opposisie, is dit vrek intimiderend.

Nuweland, Kaapstad. Foto: Gallo Images/Getty Images
Nuweland, Kaapstad. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar onlangs het die eindfluitjie ná 130 jaar van drama en glorie vir dié stadion geblaas. Dat die tuisspan dié Curriebeker-halfeindstryd teen die Sharks verloor het, was sout in die wonde.

Vir Kapenaars was dit veral hartseer dat die laaste rugbyhoofstuk op Nuweland weens die covid-19-pandemie voor leë, stil paviljoene afgespeel het. Want sou “Weepee, jou lekka ding!” uit derduisende kele nie dalk vir Siya Kolisi-hulle ekstra woema gegee het nie?

Die skuif van WP en die Stormers na die nuwe Kaapstad-stadion is nou ’n werklikheid. En rugbyliefhebbers landwyd kry nat oë by die gedagte aan Nuweland wat dalk in die stofwolk van ’n beheerde inploffing kan neersyg.

Want maak nie saak vir wie jy skree nie: Nuweland is so deel van ons nasionale rugby-DNS soos biltong en gedokterde nartjies.

Hier’s 'n kykweer na die leeftyd van dié bastion en hartsplek van rugby. 

SPELERS VERTEL: DÍS HOEKOM ONS DIT SAL MIS 

Corné Krige 

“Dis altyd sleg om baai te sê vir 'n plek wat soveel harte bly gemaak het,” sê die voormalige “Captain Courageous” van die WP, Stormers en Springbokke. “Maar dis die lojale ondersteuners wat dit een van die bestes ter wêreld gemaak het om in te speel. Hulle was altyd daar, deur dik en dun.”

Die ysterflank het albei sy Boktoetse op Nuweland gewen: teen Wallis in 2002 en in 2003 teen Australië.

“Ek moet ook ons 2001 Curriebeker-eindstrydsege oor die Haaie uitsonder . . . en die Stormers se 1999-seisoen.”

Corné Krige. Foto: Tertius Pickard/Gallo Images
Corné Krige. Foto: Tertius Pickard/Gallo Images

Wat Nuweland uniek maak “is dat mense baie naby aan die veld sit,” sê hy. “As jy iemand op Nuweland by die kantlyn uitduik, val hy die advertensieborde voor die toeskouers plat. En as speler kon jy dan natuurlik alles hoor wat die skare skree.”

Dalk kan wie ook al Nuweland oorneem dit herontwikkel nes die Britse sokkerklub Arsenal se ou stadion, hoop Corné. Dis in ’n woon- en kantoorkompleks omskep, maar dele van die stadion is om historiese redes behou, en die speelveld in 'n park omskep. 

Toks van der Linde

“Dis ongelooflik hartseer. Ek wil eintlik 'n stukkie gras daar gaan uitsny as aandenking,” sê die oud-Bokstut, wat amper 160 wedstryde vir die WP en Stormers gespeel het.

Toks van der Linde. Foto: Gallo Images/Getty Images
Toks van der Linde. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Toks & Tjops-gasheer vertel met groot smaak van die gevatte Nuweland-ondersteuners. “Die chirps uit die paviljoene . . . jy sou die snaaksste goed hoor.”

Hy onthou byvoorbeeld die wedstryd toe die briljante, onvoorspelbare Bok-vleuel Pieter Rossouw net mooi niks kon reg doen nie. “Toe hy ’n slag weer reg voor die hoofpaviljoen kom, skree iemand vir hom: ‘Slaptjips, sub (vervang) jouself!’

“Of dis: ‘Toks, trek in jou pens!’

“En dan natuurlik daai 'Wee Pee, jou lekka ding!' met die vlae wat oral wapper. Dit was fantasies.”

Rob Louw

Een van die suksesvolste Bok- en WP-losvoorspelers reken Nuweland was “atmosfeergewys die beste van al die stadions. Jy kon nooit jou haker se lynstaankodes hoor nie. Dit was ’n mal stortvloed van klank. 

“Ek was by Wynberg Boys High om die hoek en het na al die klubwedstryde op Nuweland se B-veld gaan kyk. En dan sou ek in Nuweland se voorste sitplekke gaan sit. Dit was my grootste droom om eendag daar uit te draf, en dit het waar geword.

Rob Louw. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images
Rob Louw. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

“Ek het twee toetsdrieë daar gedruk, die eerste teen die Britse Leeus in 1980 reg onderkant my pa in die paviljoen, en ’n jaar later nog een teen Ierland.

“Ek was gelukkig om deel van die era te wees toe WP vyf Curriebekers agtereenvolgens, vier op ’n uitverkoopte Nuweland, gewen het. Ek onthou hoe ek eenkeer, terwyl die mense mal gaan en ‘Province, Province!’ skree, na die lynstaan-speler agter my gedraai en net ‘wow’ gesê het.”

Errol Tobias

“Dis my hartsbegeerte dat die besigheidstransaksie platval en ons terugkom Nuweland toe,” erken Errol.

Dit was hier waar die oudlosskakel en -senter in 1981 teen Ierland sy toetsbuiging gemaak het. Apartheid is eers in die volgende dekade afgeskaf, maar die rugbybaas dr. Danie Craven het vroeër rasgrense in die sport begin oorsteek. 

“Ek onthou hoe ek en my pa Joseph, met die eerste ontmoeting wat ons as die destydse nie-rassige federasie met die wit rugbyhiërargie gehad het, deur Nuweland gestap het.

“Hy’t met ’n traantjie gesê: ‘My kind, as jy darem eendag op hierdie veld kan speel’ . . . En toe gebeur dit so.”

Errol Tobias. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images
Errol Tobias. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

Oor sy toetsdebuut kan hy net onthou “tot waar ek in die cloakrooms ingestap het. Agterna het hulle vir my vertel, ‘Errol jy het dit en dat gedoen’. Ek het twee of drie gapings gevat, een daarvan met ’n binne-aangee wat op Rob Louw se drie uitgeloop het.

“En wie kan die Wêreldbekeropeningswedstryd in 1995 teen Australië op Nuweland vergeet, met Pieter Hendriks se fantastiese drie waar hy om David Campese geswenk het,” dink Errol ver terug. 

“Nuweland was ook oor die jare 'n kulturele fees. Ek onthou byvoorbeeld die lekker samoesas, vis en tjips, die koesisters wat die Slamse motjies (tuiskokke) gebak het.”

Carel du Plessis

“ ’n Mens kan nie verandering parkeer nie. Maar dis jammer dat, hetsy oor die veiligheidsaspek of die franchise se finansiële probleme, hulle nou geforseer is om te reis,” sê Carel du Plessis. Die legendariese Bok-vleuel en later afrigter was een van die sleutelfigure in die WP se Curriebeker-heerskappy van 1982-1986.

Carel du Plessis. Foto: Gallo Images/Getty Images
Carel du Plessis. Foto: Gallo Images/Getty Images

“En spesifiek die wedstryde teen Noord-Transvaal het ook ’n spesiale plek in my herinnerings. Die groot stryd tussen noord en suid het veral groot skares getrek. Dit was altyd ’n felle kompetisie en die kameraderie baie sterk.

“Ek onthou die Nuweland-atmosfeer was regtig elektries, veral met ’n goeie skare. Sodra jy op die veld gaan, ervaar jy dit in sulke vlae; die geesdrif, die opgewondenheid, die opwinding.”

DIE SPORTHISTORIKUS 

“Ek het van kleins af op Nuweland op my pa se skouers gesit, daar voor waar die toeskouers kon staan,” vertel die Stellenbosse sporthistorikus prof. Floris van der Merwe. 

“Later as laerskoolkinders het ons so naby aan die veld gesit dat die vlagman ons aanmekaar teruggejaag het. Een jaar toe Franse daar kom speel, het ons nog hul lynstaanslot met ’n lemoen teen sy been gegooi!

“Nuweland is omtrent so groot soos die Colosseum in Rome, en nes die Colosseum is die paviljoene regop gebou en sit jy as’t ware bo-op die veld. 

"Ek het later graag in die boonste galery van die hoofpaviljoen gesit. As jy so afkyk, ervaar jy daai weergalmende klank van die toeskouers.

Floris van der Merwe. Foto: Research Gate
Floris van der Merwe. Foto: Research Gate

“Nuweland is natuurlik ook die naasoudste rugbystadion ter wêreld.” Van die ander bekende stadions van sy portuur “is dit nog net Twickenham wat staan”.

Die oudste rugbystadion ter wêreld was Lansdowne Road in Ierland, waar die eerste toets in 1878 gespeel is (Nuweland s'n was 13 jaar later), en wat in 2007 eindelik plek gemaak het vir die Aviva-stadion.

Die openingswedstryd in die 1995 Wêreldbeker, ná Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale sport in 1992, was vir Floris ook een van Nuweland se glorierykste oomblikke. 

“Daardie wedstryd het 'n ding begin. Niemand het gedink ons sou die Wallabies wen nie. En die res is geskiedenis. Daardie wedstryd, en wat toe gevolg het, het regtig ’n groot verskil in ons land gemaak.”

WEEPEE SE VURIGSTE ONDERSTEUNERS?

Riëtte en Kobus Koegelenberg versinnebeeld die Nuweland-dissipel. Die egpaar van Kleinmond het sowat 200 wedstryde agtereenvolgens daar bygewoon.

Riette en Kobus Koegelenberg. Foto: Verskaf
Riette en Kobus Koegelenberg. Foto: Verskaf

“Ek en my man se eerste wedstryd saam daar was in April 2007. En tot en met covid het ons nie een wedstryd gemis nie. Dit was net trane toe ons nou die semi verloor en die siren die laaste keer op Nuweland afgaan,” vertel Riëtte.

“Ons sou soggens sesuur al uit Kleinmond ry tot by Laerskool Groote Schuur (digby die stadion) waar Oom Neels vir ons die hekke oopgemaak het. En dan’t ons ons rugbyfamilie daar gekry en gebraai – gewoonlik WP-wors en -patties – en saam na die wedstryd gaan kyk en agterna weer bymekaargekom.

“Ek het al ’n paar wedstryde by Kaapstad-stadion gekyk, maar daar sal altyd net een Nuweland wees. Jou beste gees is eintlik op daai ou spoorwegpaviljoen. Ons het daar begin met seisoenkaartjies vir sitplekke TT196 en 197, en geëindig op die hoofpaviljoen aan die oorkant, op sitplekke SS195 en 196.

riette en kobus koegelenberg huis
Die Koegelenbergs se huis laat g'n twyfel oor waar hul lojaliteit lê nie. Foto: Verskaf

“Jy kry regtig koue rillings as daai Mexican wave deur Nuweland gaan. Een van ons beste oomblikke daar was toe die WP in 2014 die Curriebeker met 19-16 teen die  Leeus wen,” vertel sy. 

“Ons het ook al die Bok-wedstryde op Nuweland gekyk. WP se wedstryd teen die Britse Leeus in 2009 was ook baie spesiaal.” Die Kapenaars het met net drie punte verloor.

Riëtte en Kobus in hul “tronkpakke” (streepbroeke by hul streeptruie) was goed bekend onder die spelers, “van wie ons baie kon ontmoet. My trui was nommer twee, soos my gunsteling, die haker Scarra Ntubeni s'n. En my man s'n nommer tien, Jean-Luc du Plessis s’n.

riette koegelenberg scarra ntubeni
Riëtte saam met die WP- en Stormers-ster Scarra Ntubeni. Foto: Verskaf

“En dan het Stormpie, my gelukbringer-teddiebeer, natuurlik al die wedstryde saam met ons bygewoon,” beduie Riëtte.

’N ‘LOLLY MAAK JOU JOLLY’: DIE ROOMYSVERKOPER

Sonder Nuweland gaan hy verlore wees, sê Mogamat “Boeta” Cassiem. Ná 55 jaar van roomys verkoop in die paviljoene is Boeta (66) en Nuweland sinoniem. Hy het ondersteuners heerlik laat lag met sy smousrympies, soos “A lolly to make you jolly”, “a wafer to make you styfer” en “a sucker to make you wakker”.

“Ek het dit gate uit geniet op Nuweland. Die mense was lief vir my, baie spelers het my hand geskud en met my gesels.” 

Boeta Cassiem. Foto: Verskaf
Boeta Cassiem. Foto: Verskaf

Hy’s ook ’n gunsteling onder sporttoeriste: van Amerikaners tot Russe wou al kiekies saam met hom neem, en mense het al vir hom sporthemde uit Engeland saamgebring.

“Ek was by al die games, groot en klein. Van die ou jare se Villagers- en Hamilton-klubs, en Maties en Ikeys, tot wanneer die All Blacks, al van Sid Going se tyd af, en Australians hier kom toer het,” vertel Boeta.

As roomysverkoper op Nuweland het hy al vier sy kinders – ’n arbeidsprokureur, onderwyser, reisagent en rampbestuur-beampte – “deur varsity gesit.”

Boeta Cassiem. Foto: Facebook/Paul Flude
Boeta Cassiem. Foto: Facebook/Paul Flude

“Nuweland was soos my huis. Nou sal ek Kaapstad toe moet travel en ek weet nie hoe’s die system daar nie,” sê hy. “Ek hoop hulle hou Nuweland as ’n souvenir. Ek het foto’s daar gevat sodat ek vir my kleinkinders kan wys hier was hul oupa se home ground.”

DIE LEWE VAN DIE ‘GRAND OLD LADY’  VAN STADIONS

Beginjare: Hieroor het Paul Dobson, die bekende rugbyhistorikus wat laasjaar oorlede is, vertel: Die Westelike Provinsie Rugby-Voetbalunie wat in 1883 gestig is, het destyds die krieketbroederskap, wat gronde naby Nuweland-treinstasie gehad het, gevra of hulle dit gedurende die wintermaande kon gebruik.

Laasgenoemde was geskok “oor so 'n versoek van dié modderige buffels . . . Die groot spel van die empaaier was immers krieket.”

Maar die rugbybuffels kon eindelik 'n stuk grond met dennebome daarop vir £100 jaarliks van die krieketmense huur, en het dit in 1894 vir £2 500 gekoop.

Hulle het toe self die bome uitgehaal en die vroeë ontwikkeling van die gronde behartig. Mense het aanvanklik uit perdekarre langs die kantlyn rugby gekyk, en kon mettertyd ’n treinkaartjie na Nuweland vir ’n sjieling en ’n sikspens koop, wat toegang tot die rugbygronde ingesluit het, aldus Paul.

Eerste wedstryd: Nuweland is op 31 Mei 1890 amptelik met ’n klubwedstryd geopen. Stellenbosch het Villagers voor sowat 2 400 toeskouers geklop.

Eerste toets: Die Springbokke het in September 1891 teen die Britse Eilande (later die Leeus) verloor.

Westelike Provisie speel teen die Britse Leeus in een van hul historiese toerwedstryde op Nuweland. Die Leeus was onder meer in 1938 en 1955 hier.
Westelike Provisie speel teen die Britse Leeus in een van hul historiese toerwedstryde op Nuweland. Die Leeus was onder meer in 1938 en 1955 hier. Hulle het tot nou altesaam 13 keer na Suid-Afrika getoer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Permanente paviljoene: Die eerste betonpaviljoene is in 1919 gebou. Verskeie uitbreidings en verbeterings het oor dekades heen gevolg, insluitende die spoorweg- en Danie Craven- en Jan Pickard-paviljoene en verskeie herbouings van die hoofpaviljoen en toevoeging van private losies.

Kapasiteit: Eindelik kon die stadion sowat 51 000 toeskouers huisves.

Die grasstorie: In 1999 het die speelveld self ’n krisis afgegee. Die dreineringstelsel het finaal die gees gegee en Nuweland kon nie langer van sy water ontslae raak nie. Engelse en Nederlandse kenners moes tot die redding kom met sand, ’n spesiale soort roggras, radar-apparate vir ’n gelyke oppervlak, en twee reuse masjiene wat basies kunsgras in die natuurlike weergawe ingevleg het.

MYLPALE TUSSEN DIE KANTLYNE

  • Van die 54 toetse wat op Nuweland gespeel is, het die Bokke 35 gewen.
  • Die laaste toets was die Bokke se neerlaag van 10-25 teen Engeland in Junie 2018.
  • Van hul 14 Curriebeker-eindstryde op Nuweland het die WP nege gewen en in twee gelykop gespeel.
  • Die Stormers se Super Rugby-verhaal op Nuweland was een van “tog so naby . . .” Hulle het darem in drie opwindende halfeindstryde daar verloor. Hulle beste Super-jaar was stellig 2010, toe hulle die Waratahs met 25-6 voor meer as 49 000 toerskouers in die halfeind afgeransel het.

OOMBLIKKE VAN GLORIE

  • Die RWB 1995-openingsriller voor meer as 51 000 toeskouers: Australië het die Bokke in 1992 met 26-3 op Nuweland getrap. Min mense het Suid-Afrika ’n kans teen die verdedigende kampioene gegee. Die Bok-vleuel Pieter Hendriks het egter sy gevierde Wallaby-opponent, David Campese, met pure vaart en voetwerk geklop.
    Pieter Hendriks. Foto: Gallo Images/Getty Images
    Pieter Hendriks. Foto: Gallo Images/Getty Images
    Sy drie kort voor rustyd het ons ’n klein voorsprong van 14-13 gegee. Joel Stransky het 22 punte bygedra, en die Bokke het met 27-18 geseëvier.
  • Die All Black wat SA harte gesteel het: Sal daar ooit weer so 'n briljante eenman-vertoning wees soos toe Jonah Lomu die Engelse in dieselfde toernooi met vier drieë op Nuweland vernietig het?
Jonah Lomu. Foto: Gallo Images/Getty Images
Jonah Lomu. Foto: Gallo Images/Getty Images
    • Stormers klop die magtige Crusaders: Die Kapenaars se onverwagse 28-17-triomf in April 2006 oor die Crusaders, die suksesvolste Super Rugby-span, was een van hul topvertonings.

    DIE BLOED EN TRANE

    • In 1997 het Martin Johnson se Britse Leeus die Bokke met 25-16 op Nuweland getroef, en so v reekssege van 2-1 behaal.
    • Die 1976-toets teen die All Blacks op Nuweland, wat die Bokke met 15-10 gewen het, was ’n bloedbad. Die All Black Peter Whiting se oor het volgens Kiwi-joernaliste amper in Nuweland se groen gras agtergebly nadat Moaner van Heerden se tok met sy kop kennis gemaak het. Maar hy het met ’n dik verband om sy kop voortgespeel. Oor die weerwraak op Moaner het wyle Quintus van Rooyen destyds geskryf: Hy het gelyk “soos ’n swaargewigbokser wat pas lelike slae van Muhammad Ali gekry het. Toe ek sy vrou vra hoe sy nog so ’n gesig kon liefhê, het sy geantwoord dat sy maar ’n plastieksak sal moet oortrek”.
    Kom neem deel aan die gesprek

    Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe