Die eienaar van een van die suksesvolste wynplase in die land het ’n vonkel in die oog en maak graag grappies. Maar elke dan en wan vat-vat hy versigtig aan sy oog.

“Ek sukkel nog so ’n bietjie met die oog,” gee hy toe.

“Ek kan sien met hom, maar nie so goed nie.”

Was dit nie vir dié onwillekeurige gebaar nie, sou ’n mens nie kon raai die 61-jarige Charles Back is skaars drie weke gelede deur rowers in sy bed op die plaas Fairview buite die Paarl met koevoete getakel nie. 

Hy moes 70 steke in sy kop kry, van sy ribbes was gekraak, sy lyf was oortrek met kneusmerke, en sy oogbank moes in ’n operasie herstel word.

Pas ná die aanval het hy dié foto van homself gedeel. Foto: Facebook

Sy oog het gelyk soos “ ’n Griekse restaurant wanneer hulle die borde stukkend gooi”, spot Charles en raak weer daaraan. Andersins lyk dit of die bekende boer se liggaam, gebrei deur dekades se harde werk in die buitelug, goed genees.

Maar dis veral Charles se positiwiteit ná die aanval deur ses rowers wat hom klaarblyklik vir dood agtergelaat het, wat die land aangegryp het. Dit was 14 Februarie, Valentynsdag, toe hy deel van Suid-Afrika se misdaadstatistieke word.

Maar Charles weier dat sy aanvallers hom van sy geloof in ons land, sy mense en die toekoms beroof. In sy pleidooi in die sosiale media die volgende oggend het hy gevra dat mense nie moet toelaat dat plaasrooftogte rassespanning aanblaas nie.

Dit is deur minstens 1,5 miljoen mense op Fairview se Facebook-blad gelees, en baie mense het Charles geloof vir sy boodskap van hoop. Vandag is dit soos gewoonlik bedrywig hier in die Goatshed-restaurant op Fairview waar ons gesels.

Sowat ’n halfmiljoen besoekers kom proe jaarliks hier die plaas se wyne en kase. Die boere-entrepreneur woeker so suksesvol dat hy verlede jaar deur die organisasie Landbouskrywers SA as Suid-Afrika se boer van die jaar aangewys is.

Hulle streef daarna om die beeld en standaarde van landbou in die land te bevorder. Die gesprek draai na nog ’n emosionele kwessie wat tans die opskrifte oorheers: grondonteiening sonder vergoeding.

Sedert pres. Cyril Ramaphosa dit in sy eerste staatsrede soos ’n bom laat bars het, woed ’n hewige debat oor die impak wat dit op die land kan hê. Maar Charles kies weer om rustig en nugter oor die onderwerp te redeneer.

Ek het hulle in die huis gehoor en gedink ek gaan dood. Dis ’n snaakse gevoel

“Ons moenie dat ons vrese ons onderkry nie,” sê hy pragmaties.

Hy glo die ANC het op sy leierskongres ’n mosie oor onteiening sonder vergoeding aanvaar en pres. Ramaphosa het dit nou weer aangeroer omdat die ANC weet Julius Malema van die EFF gaan dié kaart voor die verkiesing van 2019 speel.

“Ek dink dit is alles ’n verkiesingsfoefie, want dit is onprakties,” verduidelik hy.

“Om iemand ’n stuk grond te gee sonder toerusting, sonder toegang tot die mark en sonder die kennis werk nie.” Hy glo boere moet self inspring om te sorg dat grondhervorming en die ophef van gemeenskappe sinvol en suksesvol geskied.

“Ons moet proaktief wees; ons kan nie op die regering wag nie. Ons moes die laaste 25 jaar harder daaraan gewerk het. Die boer moet vir sy werkers aandele uit sy onderneming skep, ’n werkerstrust begin en sorg dat hulle by die bedryf betrokke raak.”

Dit is immers hoe hierdie baanbrekerboer vir sy plaas sowel as sy landgenote ’n toekoms bou.

Hoewel Charles moedig vorentoe kyk, sit die herinnerings aan die traumatiese nag van die aanval nog vlak.

Sy vrou, Diane, het daardie aand by hul seun in Kaapstad gekuier. Omdat sy gewoonlik snags die plaaswoning se alarm aansit, het Charles vergeet om dit te doen.

Die inbrekers het die slot na sy kamer afgeknip en hom aangerand terwyl hy geslaap het.

Charles in Fairview se wynkelder. Foto: Verskaf

Hy het terugbaklei, maar een van hulle het hom met ’n koevoet teen sy slaap geslaan. Toe die boer bykom, was hy op die vloer van sy kamer in ’n mat opgerol en sy bene en arms met repe van sy muskietnet vasgebind.

“Ek het hulle in die huis gehoor en gedink ek gaan dood. Dis ’n snaakse gevoel. Ek het half vrede daarmee gemaak en was nie bang nie. Maar toe besluit ek ek laat my nie so doodmaak nie.”

Hy het uit die mat gerol en, steeds vasgebind, by ’n buitedeur uitgehop – en toe val hy in ’n sloot.

“Ek moes vir myself lag. Kan jy glo, ek het ontsnap, maar val in die sloot. Hoe de hel kan twee goed in een nag so verskriklik verkeerd loop, het ek gedink.”

Dit het dalk sy lewe gered. Charles het later op sy kringtelevisiekameras gesien die skurke het verby hom gestap waar hy lê.

“Hulle het nie van my geweet nie en ek het nie van hulle geweet nie.”

Hy het sy voete losgewikkel en na sy motor gehardloop, wat wonderbaarlik ’n sleutel ingehad het. Toe hy wegjaag op pad om hulp by ’n voorman te kry, het hy verby die inbrekers gery, wat vervaard uitmekaargespat het.

Die volgende oggend het Charles kort nadat hy uit die hospitaal ontslaan is vanuit sy huis ’n foto van sy gekneusde gesig aanlyn gedeel, vergesel deur sy nou bekende boodskap: “Die aanval was fisiek en emosioneel baie pynlik. My ontsnapping was niks minder as ’n wonderwerk nie. Ek is dankbaar om lewend te wees en my hart gaan uit na almal wat al familielede in die voortdurende plaasaanvalle verloor het.”

Maar hy het bygevoeg: “Ek wil hê mense moet weet die aanval is op geen manier politiek gedrewe nie; dit was net gewone bendelede wat deur hul eie belange gemotiveer is. Ek glo steeds in die waardes waarop die land gebou is en sal aanhou hoop op vrede en harmonie. Ek sal elke dag werk om te verseker ek maak ’n bydrae en ’n verskil in my gemeenskap, al is dit ook hoe klein.”

Hy was dieselfde dag terug op sy pos as bestuurder van die familieplaas.

’n Uitsig oor die plaas vanaf die wynplaas Spice Route, wat ook aan Charles behoort. Foto: Verskaf

“Om ’n paar redes,” verduidelik hy nou.

Touch wood . . . ek het nog nooit in die 40 jaar dat ek werk ’n dag siekteverlof geneem nie. Die tweede ding was dat ek saam met ’n klomp Millenniërs werk. Ons spot altyd met mekaar, want hulle sal nies en dan by die huis bly.”

Hy lag eers.

“Maar ek dink die belangrikste was om ’n boodskap te stuur vir die 600 mense wat saam met my werk, om vir hulle te wys ek is orraait en dat my gees nog dieselfde is.

“En dan was dit natuurlik belangrik om dit vir myself te doen sodat ek kon weet dié ding sal my nie onderkry nie.  Ek het geweldige ondersteuning gekry en dit het my veerkragtigheid gegee.”

Hy vertel Fairview is in 1936 gekoop deur sy oupa Charles, ’n immigrant uit Litaue. Hy is op die plaas gebore en woon sy lewe lank hier.  Sy oupa en pa, Cyril, het hom respek en integriteit geleer.

Dié ding wat met my gebeur het, het niks met ras te doen nie

“Dit is die boustene van alles. Vir my pa was ’n handdruk genoeg om ’n ooreenkoms te beklink. Jy het nie ’n kontrak benodig nie.”

Sy pa het hom ook geleer om soos ’n sakeman te dink en bewus te wees van elke syfer en sommetjie.

“Hoeveel is dit; hoeveel is dat? Hoeveel wingerdstokke in die ry? Hoeveel mense in die restaurant?”

Cyril se lesse het vrugte afgewerp. Vandag besit Charles drie restaurante en 12 plase. Hy maak sy eie wyn, bier, kaas en brood en het ’n vleisonderneming. Hy het ook ’n ontwerpateljee en ’n aanlyn maatskappy wat bestanddele aflewer vir jou om mee te kook.

Charles vat-vat weer aan daardie oog. Hy is effens gefrustreerd omdat hy ’n tweede oogoperasie moet ondergaan.

“Dit gaan vir my oor die tyd wat ek mors. Die dokters kon daardie tyd liewer gebruik het om 20 katarakte uit die oë van mense in die townships te verwyder.”

Dit lei die gesprek weer weg van die boerdery af, terug na die aanval. 

“Dit is vir my kommerwekkend dat alles in Suid-Afrika altyd ’n rassekwessie word. Hierdie ding wat met my gebeur het, het niks met ras te doen nie. Jy kan dit ook nie plaasgeweld noem nie. Geweld gebeur in townships, in Constantia, in Houghton en in Sandton.

"Maar die oomblik dat dit op ’n plaas gebeur, kry dit ’n hoër status weens die politieke polarisering.

“Dis nie omdat ek wit is dat dit gebeur het nie; dit is omdat ek alleen op ’n afgeleë plaas woon en my sekuriteit nie goed nagegaan het nie.” 

Hy verduidelik sy perspektief: “Ses mense het my aangeval en 1,5 miljoen mense het gelees wat ek geskryf en hoe ek gereageer het. ’n Mens moet die oorweldigende klomp goeie mense teen die bose opweeg,” redeneer hy.

“Ek dink dinge is nog aan die positiewe kant.”