Dit was die vraag wat deur die kop gemaal het van ’n Pretoriase man toe hy vroeër vandeesmaand in ’n ernstige ongeluk op die N14-hoofweg buite Centurion was.

Hy was op pad terug van die Lanseria-lughawe waar hy vriende gaan aflaai het, toe hy in swak weerstoestande en kwaai reën beheer oor sy motor verloor het, vertel Duwayne Adams (25), ’n inbelsentrumbestuurder van Pretoria.

Die motor het eers begin tol, vertel hy. Nadat die voertuig ’n mangat getref het, is dit deur die lug geslinger en het dit minstens vier keer gerol voor dit tot stilstand gekom het.

En terwyl die angswekkende ongeluk gebeur het, het die lirieke van Bethel se gospelliedjie “Be lifted high” oor die radio gespeel: You’re the King of all the ages, You’re the author of salvation, You’re the reason why we're singing for Your glory . . .

Duwayne Adams
Duwayne Adams. Foto: Facebook

“’n Mens sou dink ek sou vreesbevange wees. En ek wil nie sê ek was glad nie bang nie. Maar daar was ’n kalmte oor my – iets wat van die Here af kom. Ek onthou hoe ek die stuurwiel vasgeklou het, hoe ek gewonder het: Duwayne, Duwayne. Is dit die dag waarop jy gaan sterf? En is dit hoe?” 

Elke sekonde het soos ’n leeftyd gevoel, sê Duwayne. Hy het nie geweet of hy weer lewend uit die motor sou klim nie. 

“Ek onthou hoe ek kort voor die hele beproewing gedink het ek moet versigtig ry omdat die pad baie nat was. En ek het – ek het heeltyd stadiger en stadiger gery omdat dit al moeiliker geword het om voor my te sien.

“Maar toe tref ek die plas water. En daardie gevoel as jou motor net begin tol en tol . . . sjoe, jy kan dit vir niemand beskryf nie.”

Die motor het eers begin tol en toe beland dit in die baan van aankomende verkeer. Toe die motor op die gras beland, het hy gedink dit sou tot stilstand kom.

Duwayne Adams
Die motorwrak. Foto: Facebook
Duwayne Adams
Die motorwrak. Foto: Facebook

“Ek was net reg om van verligting te sug toe ek voel die motor tref ’n gat – die mangat. En toe vlieg ek. Om en om draai die motor; toe val hy op die bestuurderskant neer en hy begin rol. En hy rol weer. En weer. En dit voel of die motor nooit tot stilstand gaan kom nie.

“In een stadium het ek die stuurwiel gelos en my hande oor my oë gedruk. Ek was bang die voorruit bars en die glas skiet in my oë.” 

Toe kom die motor tot stilstand.

“Jy is vir ’n oomblik of twee totally out of it. ’n Mens sukkel om jouself weer bymekaar te kry. Maar toe ek om my kyk, en toe na myself, toe besef ek: Ek het oorleef. Ek is nog hier.” 

Duwayne het self uit die motorwrak, wat op sy wiele te lande gekom het, geklim. Hy het self sy versekeraar gebel, wat die motorwrak weggesleep het.

“Ek het myself sommer dokter toe gevat, daar was nie eens ’n ambulans nie. Die polisie kon nie glo ek leef nie; dat ek nie beseer is nie. Hulle sê daardie pad is baie gevaarlik – dat baie mense al hul lewe daar verloor het. Maar die Here het my beskerm. Hy het sy hand oor my gehou.  En hy is die rede waarom ek vandag leef.” 

’n Saak is by die polisie in Olievenhoutbosch, Centurion, aanhangig gemaak.

Duwayne Adams
Die motorwrak. Foto: Facebook
Duwayne Adams
Die motorwrak. Foto: Facebook