Elke keer wanneer sy voor ’n spieël staan, moet sy diep asemhaal. Wat sy sien, is ’n halwe vrou, glo sy – ’n vrou wat van haar borste beroof is deur ’n dokter wat sy vertrou het om haar te laat beter voel en lyk.

Pleks daarvan kan sy dit skaars verduur om na haarself te kyk en twyfel sy of sy ooit weer liefde sal vind.

Om dié rede het sy besluit om dr. Charl Marais, die algemene praktisyn van Centurion wat haar borsverkleiningsoperasie glo verbrou het, vir R1,8 miljoen vir mediese nalatigheid te dagvaar.

Maar daar was sedertdien ’n onverwagte dramatiese verwikkeling.

Katastrofiese borsoperasies

Sandra Skinner (48), ’n geskeide ma van drie, het haar storie aan Huis­genoot vertel ná ’n Carte Blanche-­uitsending oor Charl verlede maand.

M-Net se ondersoekende program het op twee ander vroue gekonsentreer wat glo katastrofiese borsoperasies gehad het – een ’n verkleining, een ’n ver­groting – toe hulle by Charl onder die mes was.

Dr. Charl Marais tydens die onderhoud met Carte Blanche. Foto: Skermgreep (M-Net Carte Blanche)

Sandra wou ook bekendmaak wat met haar gebeur het met die hoop om te voorkom dat ander vroue ’n soort­gelyke lot verduur.

Maar terwyl Huisgenoot gewag het dat Charl op die bewerings teen hom kommentaar lewer, het ons ’n brief van sy prokureurs gekry: Die dokter is skielik dood.

“Die eggenote van dr. Marais het ons ingelig hy het weens natuurlike oorsake gesterf,” sê die prokureur, Bernard Bezuidenhout.

“In die lig hiervan is ons ongelukkig nie in ’n posisie om verdere instruksies te ontvang en gevolglik om aan julle die reaksie te verskaf wat julle versoek het nie.”

Sandra is stomgeslaan.

“Ek weet eerlik­waar nie hoe om oor sy dood te voel nie,” sê sy. “Maar ek dink steeds ek het ’n goeie saak.”

Sy en Jean-Paul Rudd, haar prokureur by die regsfirma Adams & Adams, wil met die hofsaak voortgaan.

“Ons is jammer om van dr. Marais se afsterwe te hoor, maar dit verander nie veel betreffende die hofsaak nie,” sê Jean-Paul aan Huis­genoot.

“Wanneer ’n eksekuteur/likwidateur namens Marais se bedoel aangestel is, sal hy of sy Marais as die verweerder in die saak vervang.”

“Ek het nie meer borste nie,” sê Sandra terwyl trane in haar oë opwel. “Nooit in my wildste drome het ek gedink ek sou so uit die teater kom nie.”

Sandra is nie die enigste een wat al ’n saak teen Charl gemaak het nie.
  • In 2007 het ’n vrou van Lyttelton, Pretoria, hom ook hof toe gesleep nadat hy na bewering ’n prostese in elke bors onderstebo ingeplant het. Skadevergoeding van sowat R70 000 is in ’n skikking buite die hof aan haar toegestaan.

  • In 2010 het ’n finansiële direkteur van Centurion voor ’n dissiplinêre komitee van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) teen Charl getuig ná ’n beweerde verbroude vet­verminderingsprosedure wat in 2007 op haar uitgevoer is.

Hy is nie skuldig bevind nie, maar die RGBSA het bevestig hulle ondersoek nog 29 klagte teen die dokter. En hy het deurentyd aanhou prak­tiseer.

Sandra, bedryfsbestuurder vir haar suster se skoonmaakonderneming in Centurion, wou sedert sy ’n tiener was ’n borsverkleining ondergaan.

Drie sportbra's

Teen die tyd dat sy in haar 20’s was, het sy ’n 40DD-bra gedra en moes sy drie sportbra’s dra wanneer sy as ’n aërobiese afrigter gewerk het. Sy het ook voort­durend pyn ervaar van die stremming wat die gewig van haar borste op haar rug geplaas het.

Sandra voor sy onder die mes gegaan het.

In 2015 het haar ma, Poppie van Heerden, haar van ’n kliniek naby haar huis in Centurion vertel, en Sandra het gaan ondersoek instel. Sy was beïndruk met die plek.

“Die ontvangspersoon het vir my gesê mense kom van oorsee om hul chirurgie daar te laat doen,” vertel sy. “Ek het besluit om dit aan te gryp.”

’n Afspraak is vir die volgende dag gemaak. Charl was sjarmant, sê sy. Hy het haar mates geneem en vir haar papierwerk gegee om in te vul.

Sy het ’n kwotasie vir R87 000 gekry en die operasie is vir ’n jaar uitgestel sodat sy daarvoor kon spaar.

In daardie jaar het Marais ’n “pragtige” borsoperasie op een van haar vriendinne uitgevoer, sê Sandra.

“Dis hoekom ek gedink het hy weet wat hy doen.”

Na die operasie

In Junie 2016 was alles agtermekaar. Sy het twee prosedures ondergaan – ’n bors- en ’n maagverkleining – en is na ’n gastehuis naby die kliniek oorgeplaas om te herstel. Die volgende oggend het Charl haar kom besoek, maar nie ondersoek nie, beweer Sandra.

“Hy het net gevra: ‘Is jy oukei?’, toe stap hy uit.”

In die drie dae wat sy in die gastehuis deurgebring het, het niemand haar verbande omgeruil of na haar wonde gekyk nie, sê sy.

Die volgende week het sy vir ’n opvolgkonsultasie gegaan, maar sy is na bewering deur ’n verpleegster gesien. Toe die verbande afkom, was sy ontsteld toe sy sien haar regtertepel was swart.

“Ek het gehoor dit is net ‘dooie bloed’ van die operasie en sou weggaan.”

'Ek het gehoor dit is net “dooie bloed” van die operasie en sou weggaan’

Maar met haar derde opvolgondersoek het Marais ’n bom gelos.

“Ek’s jammer, jy het jou areola verloor en jou tepel is weg,” het hy glo botweg vir haar gesê. Sy het in ongeloof gesnak.

“Ek het uitgestap. Ek kon nie bestuur nie. Ek het net in my motor sit en huil.”

Sandra het toe ’n debrideringsprosedure ondergaan, waar dooie en beskadigde weefsel uit ’n wond verwyder word. ’n Paar dae later het sy ’n brandgevoel in haar linkerbors ervaar.

“Toe ek die pleister afhaal, het ek ’n skok gekry. Geel pasta het uit die wond gesypel.”

Sandra het later die hele areola­kompleks aan haar regterbors verloor en haar tepel-areolakompleks aan haar ­linkerbors is ernstig misvorm. Die verkleiningsletsels is onooglik en sy het knoppe oor haar hele borsarea.

Sandra het die areolakompleks aan haar regterbors verloor en die tepel-areolakompleks aan die ander bors is misvorm.

Sy moet ook opgestopte bra’s dra, want haar regterbors is kleiner as die ander een.

Weens die erns van die skade het dokters Sandra aanbeveel om ’n dubbele mastektomie te ondergaan voor sy rekonstruktiewe chirurgie kan kry — chirurgie wat sy nie kan bekostig nie, want sy het nie ’n mediese fonds nie.

'Spesiale belangstelling'

Charl was ’n algemene praktisyn, nie ’n plastiese chirurg nie, maar in ’n verklaring wat aan Carte Blanche gestuur is, het hy gesê hy het “ ’n spesiale belangstelling” in kosmetiese prosedures en beweer alle operasies is binne die vereistes van die RGBSA uitgevoer.

Hy het gesê hy het “eers akademiese kennis in die veld van kosmetiese chirurgie bekom” en toe praktiese ervaring opgedoen “deur kursusse by te woon en met ’n geregistreerde plastiese chirurg saam te werk”.

Hy het aan “sowat 12” kosmetiese slypskole en kongresse in Europa en Suid-Afrika deelgeneem, het hy beweer.

In die loop van 21 jaar het hy 13 350 kosmetiese prosedures uitgevoer, onder meer “duisende” vetuitsuigings- en byna 5 000 borsprosedures, het hy beweer.

Charl het ook beweer ’n algemene praktisyn se “omvang van praktisering is nie beperk nie”.

Van die 29 klagte wat teen Charl in­­gedien is, het die RGBSA hom aan 10 onskuldig bevind, vier was nog hangend ten tyde van sy dood, die uitkoms van drie is onbekend, en 12 is óf gesluit óf teruggetrek.

Die RGBSA se registrateur, Phelelani Khumalo, was ondanks herhaalde versoeke om kommentaar nie beskikbaar om met Huisgenoot te praat nie, maar het in Carte Blanche erken die stelsel is “dalk nie doeltreffend nie” as dit toelaat dat ’n dokter met vele sake teen hom aanhou praktiseer, ongeag die uitkoms.

Die pad vorentoe

Intussen wonder Sandra of sy ooit weer met iemand sal uitgaan.

“Dis die eerste ding wat deur my gedagtes gaan wanneer ek iemand ontmoet: ‘Hoe sal jy dit hanteer?’ ”

Sy skud haar kop.

“Op stuk van sake het Marais so baie mense verontreg. Hy is weg, maar ek moet steeds soos dít  rondloop.”

BRONNE: TIMESLIVE.CO.ZA, NEWS24.COM, CARTE BLANCHE; Foto's: Rowyn Lombard, Verskaf