“Ek wil steeds huil as ek net aan hom dink,” sê ’n hartgebroke Yolandé van Ede (20). 

Haar ekskêrel, Tjaart Booyens, het vir die afgelope twee jaar in die stad San Luis Potosi in sentraal Mexiko by die BMW-motorfabriek gewerk. 

Tjaart was op 16 Februarie op sy motorfiets van sy werk af op pad huis toe toe ’n vragmotor voor hom ’n U-draai gemaak het en Tjaart volspoed in die vragmotor vasgery het. Tjaart is op slag dood. 

“Ek was op pad van Uitenhage na Bloemfontein toe ’n gemeenskaplike vriend my bel en vir my sê Tjaart is dood. Ek het die hele 700 km onophoudelik gehuil.” 

Intussen het die Ride for a Child-motorfietsbeweging ook op 28 Februarie hulde aan Tjaart gebring. 

“Tjaart was mal oor motorfietse. Soveel so dat die motorfiets nie in die motorhuis geslaap het nie, maar in die huis,” sê Yolandé. 

Alhoewel Yolandé en Tjaart nie meer in ’n verhouding was nie, was hulle steeds goeie vriende. 

“Ons het in 2019 uitgegaan, maar toe hy Meksiko toe getrek het, het ons gesamentlik besluit om die verhouding te beëindig.

“Hy was my heel eerste liefde gewees. Ek was bitter lief vir hom,” sê sy terwyl sy begin snik. 

Yolandé beskryf Tjaart as ’n vreugdevolle en liefdevolle mens. 

“Ek vergelyk almal wat ek ontmoet met hom. Hy het vir almal respek gehad en sou die ekstra myl vir sy medemens stap. Daar was net een soos hy.

“Hy het ’n diep spoor in my lewe gelos. Daar is ’n leemte wat nooit gevul sal word nie. Ek huil steeds aanhoudend as ek aan hom dink.” 

Tjaart se roudiens is 26 Februarie in Gqeberha gehou. Teen daardie tyd was sy oorskot nog nie in Suid-Afrika nie en Yolandé weet nie wanneer dit hier gaan aankom nie. 

  • Tjaart se ouers wou nie kommentaar lewer nie.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe