Dit bly een van die donkerste raaisels in Suid-Afrika se geskiedenis, een wat amper drie dekades later steeds nie opgelos is nie. Wat het geword van die ses skoolmeisies wat Gert van Rooyen in die 1980’s ontvoer het?

Hy het dié geheim saam met hom graf toe geneem toe hy glo in Januarie 1990 homself en sy minnares, Joey Haarhoff, met die polisie op hul spoor, doodskiet.

Maar nog ’n kind se storie is onlosmaaklik met een van die land se berugste misdadigers verbind – ’n kind wat grootgeword het en onlangs vir die eerste keer moes uitvind: Gert van Rooyen was sy pa.

Dié seun, vandag ’n man van 29 jaar oud, is in 1989 gebore uit sy ma se kortstondige verhouding met Van Rooyen. Dit was ’n neerdrukkende geheim waaraan sy 30 jaar lank swaar gedra het.

“Ons was maar net vier maande saam,” vertel die 60-jarige vrou wat oorkant my sit in ’n restaurant in Die Moot, Pretoria, oor haar destydse verhouding met Van Rooyen.

Dis nie my eerste kennismaking met haar nie. In my nuwe boek, Gert & Joey, gebruik sy die skuilnaam Bonita Ferreira. Op regsadvies gebruik Huisgenoot ook dié skuilnaam om die identiteit van haar seun te beskerm.

Bonita het haar seun onlangs eers die waarheid omtrent sy regte pa vertel.

Bonita wil nie hê dat haar vlugtige verhouding met Gert haar lewe oorheers nie.

Sy het besef haar seun sal homself in die boek herken as hy dit sou lees, verduidelik sy.

Gert, die minnaar

Die afgelope jaar het ál meer mense in die sosiale media ook oor ’n verband tussen haar en Van Rooyen begin bespiegel – selfs dat sy, nes Haarhoff, dalk Van Rooyen se medepligtige was. Hul verhouding was immers in dieselfde era as Van Rooyen se gruweldade.

“Kyk net hier, iemand het my vandeesweek ’n foto op WhatsApp gestuur van ’n blonde vrou in haar middeljare voor ’n betonmuur en ’n creeper met rooi blommetjies,” vertel Bonita.

“Ek is nié hierdie vrou op die foto soos baie mense beweer nie. Ek het nog nooit blonde hare gehad nie. Maar ek herken die vrou. Dis Joey.

Die foto van ’n vrou, vermoedelik Joey Haarhoff, wat mense verkeerdelik as Bonita wil eien. Bonita herken die blomme.

“Gert het vir my daai blommetjies agter haar op die kiekie gepluk wanneer hy vir my kom kuier het by die poskantoor waar ek gewerk het. Ek het dit dan in ’n glas water op my toonbank neergesit. As ek die stempel op ’n brief of pakkie gekap het, het die blommetjies so oor die blad gestrooi,” onthou sy.

Sy het Van Rooyen in 1988 ontmoet. Hy het by die einste poskantoor in Pretoria ingestap en net een seël by haar gekoop. Die poskantoor was in Capital Park, dieselfde woonbuurt waar sy huis van gruwels was.

Hulle was net enkele maande saam, en sy was nie bewus van die afgryslike dinge waarmee hy doenig was nie. Van Rooyen wou nie die baba grootmaak nie, en hul verhouding was verby kort nadat sy uitgevind het sy is swanger.

Ná sy dood het Bonita haar kind grootgemaak sonder om hom te vertel wie sy regte pa is. Hy het al die jare geglo ’n ander man is sy biologiese pa.

'Dreigende swaard'

Maar die afgelope ruk het sy bekommerd geraak toe mense aanlyn begin bespiegel sy het destyds vir Van Rooyen gehelp om van die lyke van sy jong slagoffers ontslae te raak. Sommige het selfs gegis hulle het die lyke in suur opgelos.

“Mense wou dit laat lyk asof ek kinders ontvoer het en ’n kindermoordenaar is,” vertel Bonita.

Om dié rede het sy vier maande gelede besluit dis tyd dat haar seun die waarheid hoor. Dit was nie maklik om hom te vertel sy pa was Gert van Rooyen nie, maar dit was die regte ding om te doen, sê sy.

“Al die jare het die geheim soos ’n dreigende swaard oor my gehang.

“Daardie gevoel is nou weg,” vertel Bonita.

Sy pink die trane moedig uit haar oë, maar dis duidelik die hartseer en skuldgevoelens van daardie jare spook steeds by haar.

Ons sit by ’n kunsmatige watervalletjie, gebaai in die kalmerende lig wat deur die blougetinte afdak in die restaurant se agtertuin val. Bonita se fuchsia broekpak met ’n roosmotief skree lente. Haar oogskadu agter die bril en haar naels is ’n bypassende blinkpers.

Die strelende liriek van ’n liefdesliedjie kom na buite gesweef. “Oe, hy sing so mooi,” merk Bonita oor die sanger op.

“So rustig. Ek hou van sulke musiek.”

Gert, monster én pa

Sy peins ’n oomblik en sê dan: Al was Gert van Rooyen ’n monster, is sy trots op haar seun en kleinkinders. En nadat sy hom die waarheid vertel het, is sy en haar seun nader aan mekaar as ooit.

“Dis soos ’n las van my skouers af. Die depressie van al die jare het soos ’n donker wolk verdwyn. Die gebede wat vir my in my kerk, familie en vriendekring opgaan, dra my.”

Dit was ’n Donderdag in April vanjaar toe sy die afspraak maak om haar seun en sy vrou van net minder as drie jaar by hul huis in Pretoria te besoek.

Hulle was aan tafel – met die twee kleindogters van 19 maande en vyf maande reeds vas aan die slaap – toe Bonita die moed bymekaarskraap: “Mamma het iets om met julle te deel. Seun, ek moet vanaand ongelukkig iets met jou deel oor wie en wat jou pa werklik was.”

Sy het, soos nou weer, eers haar oë toegeknyp en toe verder vertel.

“Jy weet van die Gert van Rooyen wat kinders ontvoer het; wat hom en die vrou saam met hom later doodgeskiet het?”

Hy het stadig geknik.

“Hy was jou pa.”

Haar seun se gesig het spierwit geword.

“Dit kan mos nie wees nie,” het hy drie, vier keer herhaal.

Bonita huil nou onbedaarlik, nes sy daardie aand gehuil het.

“Ek is bereid om nie deel van jul lewe te wees nie, om weg te trek,” het sy aan haar seun en skoondogter gesê.

“Stop dit onmiddellik,” het haar seun geantwoord. “Mamma is my ma en my kinders se ouma. Ons is lief vir mamma.”

Toe het hy vervolg: “Dankie dat jy my nie vertel het toe ek klein was nie. Ek weet nie wie ek sou geword het as ek toe met hom kontak gehad het nie.”

Bonita Ferreira* maak haar hart oop oor haar seun by Gert van Rooyen.

Sy het gevra of hy sy halfbroers, Van Rooyen se twee ander seuns uit sy verhouding met sy eksvrou, wou ontmoet.

Sy het ook aangebied om hom te vergesel as hy hulle wil ontmoet, maar hom aangeraai: Google dié twee eers. Een was in die tronk weens moord en die ander weens bedrog . . .

“Mamma, ek stel nie belang nie,” het haar seun geantwoord. “Hulle wou nooit deel van my lewe wees nie. Hoekom moet ek hulle nou leer ken?”

Sy vrou was deur dit alles ’n stille steunpilaar.

Daardie Sondag het Bonita se seun en skoondogter by haar ouers in Krugersdorp gekuier om die nuus met hulle te deel. Aan sy skoonouers het hy oor die Van Rooyens gesê: “Daardie familie is niks van my nie.”

Vrae wat ontwrig

Kort voor Bonita met haar seun gepraat het, het sy die waarheid ook aan haar dogter uit ’n latere verhouding (nou 26) vertel.

Dié het al vroeër begin vrae vra oor al die “onafhanklike ondersoekers” wat gereeld met Bonita wou praat en was bekommerd omdat haar ma dikwels terneergedruk was.

“Ons het ’n baie hegte band. Sy kan dadelik agterkom wanneer iets nie lekker is nie,” verduidelik Bonita.

Sy het haar ontboeseming teenoor haar dogter op dieselfde manier begin as wat sy later teenoor haar seun gedoen het.

“Weet jy van die Gert van Rooyen wat kinders ontvoer het?” het sy haar dogter gevra by ’n huis buite Pretoria wat sy met haar dogter en dié se verloofde deel.

“Ek weet van die huis met die hek met die kinderhandjies op,” het haar dogter geantwoord.

“Mamma moet vandag ’n baie groot skok met jou deel. Ek was in ’n verhouding met Gert.”

Gert se erf in Malherbestraat in Pretoria wat omgedolwe is op soek na leidrade.

Toe sy haar dogter vertel Van Rooyen is haar broer se ware pa, het haar dogter dadelik gesê: “Mamma, moenie vir boetie vertel nie. Ek sal eerder die geheim op my eie dra tot ek dood is.”

Daarna was daar wrywing tussen haar dogter en dié se verloofde.

“Ek wil niks verder hoor of iets hiermee te doen hê nie,” het Bonita se aanstaande skoonseun gesê en verduidelik dit kan dalk sy werk beïnvloed.

Later het hy met sy baas gepraat en dié het hom verseker hy het niks om oor te stres nie.

Maar Bonita vertel haar dogter was steeds kort-kort in trane en bekommerd oor watter gerugte volgende oor haar ma in die sosiale media gedeel sal word.

Asseblief, as julle my sien, moenie Gert van Rooyen sien nie. Hy was nie in my lewe nie.

Sy wat Bonita is, het in dieselfde tyd met haar geestelike berader gepraat, en dié het aan haar gesê dis onregverdig dat haar dogter die las alleen moet dra – haar seun verdien ook om die waarheid te hoor.

Nadat sy die skoknuus aan haar seun meegedeel het, het hy aan sy suster en aanstaande swaer gesê: “Asseblief, as julle my sien, moenie Gert van Rooyen sien nie. Hy was nie in my lewe nie.”

Vandag is Bonita nie seker wat haar destyds na Van Rooyen aangetrek het nie. Sy het beslis nie gedink hy is sjarmant nie.

Van Rooyen het altyd oor sy baie geld gespog, maar wanneer hulle uitgegaan het, moes sy altyd vir sy bier betaal, terwyl sy self net koeldrank drink.

Bonita was selfs eenkeer by een van die charismatiese kerkdienste waar Van Rooyen ’n ledeprediker was, maar sê die “handeklappery” was nie deel van haar geloof nie.

Ja, sy wás in Van Rooyen se huis van gruwels in Pretoria, maar het destyds niks vreemds opgemerk nie.

“Ek het baie vinnig swanger geraak nadat ek hom ontmoet het. In daardie tyd was daar geen gerugte oor die verskriklike dinge wat hy glo aangevang het nie. Ek sou mos nooit by hom betrokke geraak het nie,” sê sy byna smekend.

Sy was reeds swanger met Van Rooyen se baba toe sy eksvrou, Aletta, by haar woonstel in Kwaggasrand, Pretoria, opdaag. Aletta was die ma van Van Rooyen se ander seuns.

Bonita sê Aletta het haar vertel Van Rooyen is ’n “psigopaat” en hy “was in die tronk oor karre, parte en klere” wat hy gesteel het.

“Dit het my laat besef my kind sal nie met hom as vaderfiguur grootword nie.”

Bonita het nie na die polisie gegaan nie, want sy het Aletta se vertellings nie aan die koerantberigte oor vermiste meisies gekoppel nie.

Kort daarna, vroeg in haar swangerskap met haar en Van Rooyen se kind, het sy ’n verhouding met ’n Italiaanse sakeman, Luigi Beltrami*, aangeknoop.

Dié verhouding het 19 jaar geduur, tot Luigi in 2008 weens ’n hartaanval gesterf het. Hy het Van Rooyen se seun as sy eie grootgemaak en is ook die pa van Bonita se dogter.

Bonita se seun is in 1989 gebore. Toe hy vyf maande oud was, was daar ’n mislukte gewapende rooftog by die poskantoor waar Bonita gewerk het. Sy het die alarm geaktiveer en die rower het gevlug.

Sy het haar baba by die dagskool gaan haal en na Luigi in sy kafee geneem voor sy alleen polisiekantoor toe is om ’n verklaring oor die rooftog in te dien.

Daarna het sy haar kind weer opgelaai en na haar woonstel geneem. Hier het sy hom versorg en toe in die stort geklim.

'Skiet eers die baba'

Sy en Luigi het nooit saamgewoon nie, maar toe sy uit die stort kom, sit hy in haar woonstel met ’n rewolwer in sy hand.

Vanaand moet sy die waarheid vertel, het hy gesê. Wie is die pa, hy of “hierdie blêddie Van Rooyen”?

Sy hoor toe Gert het by Luigi se kafee opgedaag terwyl sy by die polisie was, met haar seun gespeel en Luigi vertel hy is die pa.

“Skiet eers die baba en dan vir my,” het Bonita aan Luigi gesê. “Niemand anders sal hom grootmaak nie.”

Dit het Luigi laat bedaar en sy het vir hulle koffie gemaak. Hy het daarna onderneem om haar seun as sy eie groot te maak.

Haar seun het Luigi “pappa” genoem, sê Bonita. Luigi het hom van kleins af aangemoedig om ’n ambag te leer; vandag is hy ’n passer-en-draaier én elektrisiën.

“My seun was op sy gelukkigste met ’n plug met ’n stuk draad aan. Hy wou altyd sien hoe ’n ding werk. Ek het self by my pa geleer hoe om toestelle reg te maak. Wanneer sy elektriese karretjies gebreek het, het hy kom vra: ‘Mamma, maak reg.’ ”

Gert en stylvolle Joey

Op ’n dag, kort voor haar verhouding met Van Rooyen geëindig het, het sy besef Van Rooyen en Haarhoff is ’n paartjie.

Sy het Haarhoff dikwels by die poskantoor gesien in die tyd toe die koerante kort-kort verkondig het nog ’n skoolmeisie het verdwyn.

“Jy kon haar deur ’n ring trek. Sy was altyd stylvol aangetrek.”

Van Rooyen en Joey Haarhoff word met die verdwyning van ses meisies in 1989 verbind.

Maar dié dag het Haarhoff haar en Van Rooyen se ID-boekies aan haar gewys om geregistreerde briewe af te haal.

“Ek was nie jaloers nie. Ek het net gehoop Gert is goed vir haar.”

Maar toe kom nog ’n dag wat in Bonita se geheue ingebrand is.

“Net voor ek vir middagete wou sluit, het Joey met die bekende groen-en-wit kombi voor die kantoor se deur gestop.

“Sy het ’n verskriklike glimlag op haar gesig gehad. Sy was oënskynlik alleen. Sy het weer net een seël gekoop.

“Toe merk ek op haar oë blink soos spieëls. Ek het gedink sy lyk soos iemand wat drugs gebruik of dagga gerook het.

“Sy het die seël op die koevert geplak en in die rooi posbus gegooi.

“Dit was die laaste keer dat ek Joey gesien het.”

Dit was 2 November 1989, die dag toe Yolanda Wessels, een van Van Rooyen se laaste slagoffers, ontvoer is.

Twee maande later, met die polisie wat in hul nek blaas, het Van Rooyen glo eers vir Haarhoff en toe homself in sy bakkie naby sy huis in Capital Park doodgeskiet.

Dit was toe dat sy besef het watter duister dade alles plaasgevind het agter die geslote deure van haar voormalige minnaar.

Bonita het geglo niemand sal uitvind hy was die pa van haar kind nie en met haar lewe aangegaan, selfs al was dit swaar om die geheim saam met haar te dra.

Vandag bly dit ’n raaisel wat van Van Rooyen se ses slagoffers geword het, en hul ouers moet met die pyn van al die vrae sonder antwoorde saamleef.

Maar Bonita het vir die eerste keer verligting en vrede in haar hart omdat sy oplaas die sluier kon lig oor die geheim wat sy so lank moes versteek.

In 1996 is die huis platgestoot in die hoop om leidrade op te spoor in verband met die meisies se verdwyning.

* Skuilname. 

Gert & Joey
Die Huisgenoot-­joernalis Pieter van Zyl se boek Gert & Joey is pas deur ­Penguin uitgegee. Dit kos R250 en is beskikbaar by alle groot boekwinkels en www.loot.co.za.

FOTO'S: ROWYN LOMBARD, GALLO IMAGES/BEELD/THEANA CALITZ, to collect, verskaf