Die egpaar het drie jaar gesukkel om swanger te raak – hulle het vier rondes in vitro-bevrugting en drie miskrame beleef – voor hul eersteling eindelik verwek is, berig Refinery.

Die 34-jarige Stephanie het in Julie verlede jaar uitgevind sy is swanger en sou na verwagting in April vanjaar die lewe skenk, maar sy het op 27 Maart begin kraam – ’n onvergeetlike oomblik, want haar man kon nie fisiek aan haar sy wees nie.

View this post on Instagram

A post shared by Stephanie Gandelman (@schtoofa) on

“Toe ons die nuus hoor dat Marty nie by my in die vertrek kon wees nie, was ons hartseer en dit was moeilik om te verwerk,” sê sy.

Weens die inperking en sosiale afstandsbeperkings as gevolg van die pandemie moes Marty die geboorte van sy eerste kind, Jake, deur middel van ’n video-oproep op Zoom aanskou.   

“Teen die tyd dat dit gebeur het, het dit ingesink dat ek by die huis moes bly, maar ek was eers baie ontsteld,” verduidelik hy.

Marty was eers senuagtig, maar dit was vir hom gerusstellend om te sien sy vrou is in goeie hande. Al kon hy nie fisiek daar wees nie, het dit teen die tyd dat klein Jake sy opwagting gemaak het gevoel of hy in die vertrek is, berig Metro.

“Natuurlik was dit moeilik om nie daar te wees en Jake dadelik te druk en soen nie,” vertel die pa.

 “Toe ek sien ma en baba is albei oukei, was ek in die wolke. En om te kon kyk het dit eerlikwaar laat voel of ek by hulle in die vertrek is.”

Stephanie het al haar volgelinge op Instagram vir hul ondersteuning bedank.

“Die uitstorting van liefde en steun wat ek vandeesweek gekry het, is oorweldigend,” skryf sy.