Van die wêreld wat elke lente bont geverf word deur miljoene blomme in die kleure van die reënboog is niks oor nie.

So ver soos die oog kan sien, is kaal grond; dis net plek-plek sand en verdorde graspolle.

Daagliks ry Burre Burger van plaas tot plaas hier in Vredendal se omgewing, en daagliks breek sy hart ’n bietjie meer. Die boere is moeg gesukkel. Van sprankies hoop is in die droogte min oor.

In die veld vrek diere van die honger; baie ander word deur mismoedige boere aangery slagpale toe. Vars produkte verlep en verskroei, en die aarde bak kliphard onder die genadelose son.

Op ’n dag kan die 32-jarige Vredendaller die troostelose tonele nie langer verduur nie; die droogte het ook sý laaste lewenslus laat verdor. Een oggend staan die groente-en-vrugteverspreider op in die plaashuis wat hy huur, stap na die badkamer en besluit: Ek kan nie meer nie. Hy vat-vat na ’n hand vol sterk slaappille en sluk dit. Hy klim in sy Polo en begin ry, sommer in enige rigting.

En dis toe dat die donkerte kom en Burre sy bewussyn verloor.

Eers later daardie middag het hy in die hospitaal bygekom, ondanks sy amperse selfdood wat hom nog ’n slagoffer van die ergste droogte in ’n eeu sou maak.

Daardie dag in Oktober verlede jaar was Burre se donkerste uur, maar dit was ook die begin van ’n verhaal van hoop wat mense aangryp te midde van die voortslepende droogte in groot dele van die Wes-, Noord- en Oos-Kaap.

Burre het ’n boer se fris voorarms en is stewig in sy blou gholfhemp met die windpompkenteken van sy liefdadigheidsorganisasie, Droogtehulp.

Dis die projek wat hy op Facebook begin het nadat hy besluit het om uit sy eie ellende op te staan.

Droogtehulp voorsien veral noodvoer aan boere, maar deesdae ook ander hulp aan landboudorpe. Burre en nou al omtrent 35 medewerkers kan dié hulp verleen danksy skenkings, afslagpryse en die goedgesindheid van sakelui en talle boere met wie dit beter gaan.

Ons ontmoet Burre in die Kaapse voorstad Durbanville waar hy as seremoniemeester van ’n geldinsameling vir die Durbanville-kinderhuis optree. Op pad hierheen moes hy ’n paar reëlings tref nadat iemand hom gebel het oor die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal wie se melkery nie voer het nie.

Wanneer hy klaar is, sal hy weer ’n paar dae op die langpad wees op ’n tog van so 3 000 km tot in die Oos-Kaap en terug. Intussen het ’n gehuurde vragmotor net dae gelede die 441ste Droogtehulp-vrag aangery sedert Burre-hulle in Maart vanjaar noodvoer en ander voorraad aan droogtegeteisterde landbougemeenskappe regoor die Kaapse provinsies begin voorsien het.

Burre praat openlik oor die tyd toe sy lewenslus opgedroog het.

“As iemand in die groente-en-vrugte-bedryf is ek van boere afhanklik."

Ek het begin bekommerd raak oor my onderneming, die ekonomie wat basies in sy kanon in was, of ek die volgende dag ’n inkomste sou hê. ’n Klomp goed. Depressie kan jou skielik vang,” vertel hy.

Nog voor verlede jaar se selfdoodpoging is hy op sy dokter se aanbeveling in die Sereno-kliniek vir geestesgesondheid in die Paarl opgeneem. “Ek was twee weke daar, maar toe ek daarna weer een oggend opstaan, wel, dit was nie eens ’n geval van die kombers oor jou kop wil trek nie. Dis net: Nou’s jy reg om alles te beëindig. In daardie stadium worry jy oor niemand,” onthou die pa van twee dogters, Beate (5) en Brigitte (1).

Die Vredendallers Bianka en Burre by hul kleingoed, Beate (middel agter) en Brigitte.

“Ek het 15 sterk slaappille gesluk, in my kar geklim en op pad dorpuit weggeraak. Ek’s deur ’n paar telefoonpale en het teen rotse tot stilstand gekom. Ek het eers in die hospitaal wakker geword.”

Sy lyf was seerder as wat dit ooit in sy rugbydae was, maar hy is wonderbaarlik nie ernstig beseer nie. “Ek het besluit die depressie sal my nie sommerso klop nie, en het vir die Here gesê: ‘Ek’s hier. Wys my asseblief hoe ek kan help.’ ”

Hy is laat dieselfde dag ontslaan.

“Die eerste ding wat ek by die huis gedoen het, was om na my kinders se kamer toe te gaan en hulle net styf vas te hou.”

Sy vrou, Bianka (34), se ondersteuning het hom ook aangemoedig om iets betekenisvols te skep uit sy tweede kans op die lewe.

“Sy weet ek moet dié ding doen. As ek nie mense kan help nie, voel dit vir my ek het nie ’n lewensdoel nie.”

Enkele maande ná Burre se ineenstorting het hy geweet hoe hy kan help.

Dit was ’n agtermiddag in Maart vanjaar op sy skoonfamilie se plaas in die Calvinia-omgewing, waar talle boere die afgelope jaar weens die knellende droogte tou opgegooi het. “Ek het ’n paar wolke uit die reënrigting sien aankom en gesê: ‘Die Here skilder darem vanaand mooi in die lug.’ ” Waarop sy swaer se broer, Alber Nel, terneergedruk laat hoor het: “As Hy maar net ’n slag op die grond ook wil skilder.”

Daardie nag kon Burre nie slaap nie. Dit was vir hom ’n teken dat hy mense in die greep van die droogte moes help. Hy skryf toe op sy Facebook-blad van die krisis op Calvinia en die Maandagoggend kry hy onverwags ’n oproep met ’n aanbod van die sanger Adam Tas en Meyer le Roux, een van die skeppers van Buffelsfontein-baardolie.

“Adam bel my en sê hy en Meyer wil ’n bietjie mielies Calvinia toe aanry. Ek sê dis reg; ek sal reël dat die ouetehuis en koshuis ten minste ook weer water het, want in daardie stadium was die Kareedam wat die dorp bedien dolleeg. En so laai ons toe ons eerste vrag water van 34 000 L die volgende dag op Calvinia af.”

Die water is deur Cederberg Aqua op Citrusdal geborg en Burre het ’n vriend se vragmotor gebruik. Dit was die begin van Droogtehulp.

“Daarna het ons nog watervragte na Calvinia aangery en dit direk in hul reservoir getap. “Kort daarna bel ’n veeboer my en vra: ‘Kan jy nie help met voer nie; ons diere gaan dood.’ En ek sê: ‘Jis, my maat, dis reg.’ Toe bel ek ’n paar pelle in die Kaap in die aartappelbedryf. En toe ons weer ons oë uitvee, ry ons met ses trokke aartappels Calvinia toe."

“En so’t die ding aangegroei: Kobus Visagie van die Klipwerf-orkes en self ’n Noord-Kaapse boer, bel my en sê hulle wil ’n groot dans hou ten bate van ‘dié ding wat jy begin het’. Met wat ons ingesamel het, kon ons vier vragmotors se brandstof betaal en kafbaalskenkings uit Malmesbury en Moorreesburg aanry.

“Nie lank daarna nie bel ’n oom my uit Pofadder en vra: ‘Kan jy nie plan maak om Pofadder ook te help nie?’ En die mense van Springbok hoor Pofadder het voer gekry, en toe begin die ding regtig vlam vat."

Die projek kry skielik ’n naam en ’n eie webtuiste en Facebook-groep nadat ek eers maar so deur my eie Facebook gewerk het.” Sedertdien het sakelui gratis vervoer en brandstof geskenk of vragmotors en brandstof bekostigbaar beskikbaar gestel, en boere wat minder swaartrek, het voer geskenk of dit teen afslag aan Droogtehulp verkoop.

Burre vertel sy organisasie het nou al 6 700 boere in die Wes-, Oos-, Noord- en Suid-Kaap gehelp. “Ons help van kommersiële tot kleinboere; ons vra nie vir wie jy jou kruisie trek nie.”

Droogte kan jou menswees wegneem, sê Burre, en soms erger.

’n Groep dankbare Noord-Kapenaars.

Hy wens hy kon net met Andries le Roux van die Laingsburg-omgewing gepraat het die oggend voor hy sy lewe geneem het.

Hy het voer onder ander help uitdeel, maar niks oor sy eie stres gesê nie.

“Hy kon net nie meer nie; die droogte het hom oorwin.”

Die versekeraar Liberty Life het vroeër vanjaar aangedui hulle ontvang ál meer eise nadat boere hul eie lewe geneem het. Burre benadruk dat gemeenskappe ly wanneer boere swaarkry.

Droogtehulp deel ook kospakkies aan plaaswerkers uit en word hierin gesteun deur die organisasie Gift of the Givers. Trots speel soms ’n rol daarin dat hulp nie oral uitkom nie, sê Burre.

“Vroue bel my en sê: ‘Die oom sal nooit vra nie, maar ons het regtig voer nodig.’ ”

Die medemenslikheid wat hy deur dié projek ervaar, het hom weer hoop gegee, sê Burre.

’n Vrag elke af en toe sal dalk nie lank ’n groot verskil maak nie, “maar dit gaan oor hoop. Ons moet liefde en hoop bly uitdeel,” sê hy. 

Foto's: Jacques Stander, verskaf