Dit voel onwerklik, soos ’n geheime ontmoeting in ’n grinterige spioenasieriller. Hier by die Wonderboom-lughawe in Pretoria is ons kwalik bewus van die vliegtuie wat in ’n wolklose blou dam opduik en in die niet verdwyn. Want ons is verdiep in die skaduwêreld van dekades gelede, waar veiligheidspolisie en hit squads meedoënloos op teenstanders van die apartheidsbewind jag gemaak het.

Die wêreld waar die destydse Sweedse premier Olof Palme in 1986 op straat in Stockholm doodgeskiet is. En waar dr. Robert Smit en sy vrou, Jeanne-Cora, in 1977 in hul huurhuis op Springs vermoor is.

Die moordenaars het die steeds onverklaarbare boodskap “RAU TEM” in rooi spuitverf agtergelaat. Albei dié raaiselagtige moordsake is vandag steeds onopgelos. Maar met die jare is een man se naam as verdagte in albei sake genoem.

En hier sit hy nou sowaar oorkant ons: die voormalige veiligheidspolisielid wat deesdae ’n stil bestaan in ’n aftreeoord in Pretoria voer. Hy het vroeër in Australië gaan woon, maar moes terugkeer toe hy nie daar kon werk nie.

Die gewese veiligheidspolisielid Roy Allen is dest
Die gewese veiligheidspolisielid Roy Allen is destyds by twee opspraakwekkende sluipmoorde betrek. Dié van die NP-­kandidaat Robert Smit en sy vrou, Jeanne-­Cora, in 1977 en die Sweedse premier Olof Palme in 1986 in Stockholm.

En hier herhaal hy ook nou sy refrein van destyds: “Ek is onskuldig,” sê Roy Allen in Afrikaans met ’n Engelse aksent. Langs hom op die restauranttafel lê die biografiese boek Ek is Liza Smit deur die vermoorde Smit-egpaar se dogter.

Liza het verlede jaar in die VIA-werklikheidsreeks Huisgenoot: Ware lewensdramas vertel van haar durende smart oor haar ouers se dood nadat sy ook in Huisgenoot haar hart daaroor uitgestort het. En dít – tesame met ’n onlangse artikel in die Britse koerant The Guardian, wat hom aan die Olof Palme-sluipmoord koppel en ’n artikel in Huisgenoot oor Palme se destydse skietdood – is hoekom Roy vandag met Huisgenoot praat.

Hy praat vriendelik maar berekend. “Ek wás ’n k*kmaker. Ek het in die Kaap op baie tonele die hamer en sekel in rooi spuitverf geverf om mense teen die ‘kommunistiese gevaar’ te waarsku. En toe sê hulle die ‘RA’ in RAU TEM staan vir Roy Allen . . .

“Maar ek sal net graag, veral vir Liza, wil sê ek was nie betrokke nie. Én vir al die ander wat sê: ‘Jy was ’n f*kken k*kmaker, jý kon dit dalk gedoen het.’ ”

Hy kap-kap met sy handpalm soos ’n byl om sy punt te maak.

“Ek sal selfs ’n onafhanklike leuenverklikkerstoets vir jou doen. Dit pla en irriteer my dat die vinger heeltyd na my gewys word.”

Op die ouderdom van 72 lyk Roy blakend gesond. Sy lang lyf is regop, die grys hare netjies geknip en gekam. Agter die dik bril is sy ligte blou oë staalhard en wakker. Sy handdruk maak seer. Hy is duidelik gesondheidsbewus. Hy rook nie en teug aan alkoholvrye rock shandies terwyl ons praat.

Hy is nie ’n man wat doekies omdraai nie. Ja, as ’n veiligheidspolisieman was hy ’n rogue, hy het vuil gespeel, erken hy. Maar hy het nooit gemoor nie, hou hy vol.

“RAU TEM” is teen die Smitte se kombuismuur gespui
“RAU TEM” is teen die Smitte se kombuismuur gespuit.

Roy het as een van drie broers in ’n Rooms-Katolieke gesin grootgeword. Pa Norman was in die versekeringsbedryf en ma Bernice ’n huisvrou. Hy is in Pretoria gebore, maar die gesin het ook in die destydse Rhodesië en Durban gewoon voor hulle na Kaapstad is waar hy skoolgegaan het aan die Christian Brothers’ College, wat na Roy se sin “veels te liberaal” was.

In 1966 is hy na die polisiekollege in Pretoria-Wes. Maar hy was afgehaal toe hy hoor sy eerste werk sou as hofordonnans in Johannesburg wees. “Jy wil skelms arresteer en doodskiet, maar nou moet jy heeldag bewysstukke aangee.”

Sy reaksie daarop was om in 1968 vrywillige grensdiens te vra in die destydse Suidwes-Afrika, waar die vryheidsbeweging Swapo met ’n insurgensieoorlog begin het. “Ek het geweet, gaan k*k ’n jaar lank af op die grens, dan het ek my ticket terug Kaap toe.”

En ná sy grensdiens het hy toe ook by die veiligheidstak in Kaapstad aangesluit.

“Jy weet, as jy ’n veiligheidspolisieman is, staan jy hart en siel agter die regering. Ek was ’n NP-ondersteuner en was bereid om daarvoor te sterf,” verklaar hy. Hy erken hulle het neerhalend van mense gepraat en op hulle neergekyk.

Die een oomblik erken hy hy het teenstanders “kieme” genoem, maar dan verklaar hy: “Maar ek het nooit mens of dier seergemaak nie.”

In 1972 het hy by die voormalige Buro vir Staatsveiligheid aangesluit. In daardie tyd het hy Ida Herman ontmoet, met wie hy in 1980 getrou het. Sy het vir die destydse minister van verdediging, PW Botha, gewerk.

In 1976 het Roy die polisie se spesiale taakmag in Pretoria help stig – dieselfde jaar dat Ida ses maande lank as persoonlike assistent vir Robert Smit gaan werk het. Smit was toe die direkteur van Santam Internasionaal. En op 22 November 1977 – drie maande voor hy as NP-kandidaat in die verkiesing sou staan – is Robert en sy vrou vermoor.

Die Smit-egpaar by hul kinders, Robert en Liza.

“Ek het Robert Smit net twee keer ontmoet, deur Ida. Hy het toe in Lynnwood, Pretoria, gewoon. Wanneer die Smitte met vakansie was, het Ida hul tuin natgelei en hul honde kos gegee,” sê Roy.

Hy het “soos die res van die land” van die moorde in die koerant gelees, sê hy, en “ek en Ida was verbyster”.

In haar boek vra Liza Smit: Hoekom het Ida ses maande lank vir haar pa gaan werk en toe na oudminister Fanie Botha se kantoor verskuif? Ida kan nie daardie vraag beantwoord nie.

Sy en Roy is in 1993 geskei, en in 2010 is sy in haar Pretoriase huis vermoor. Haar aanvallers, glo rowers, het haar vasgemaak en ’n hondekossak oor haar kop getrek. Sy het versmoor, vertel Roy.

Die Sweedse premier Olof Palme.
Die Sweedse premier Olof Palme.

En die moord op Olof Palme, die Sweedse premier en uitgesproke teenstander van apartheid? Op sy afgetrokke manier sê Roy hy was op sy pos as bevelvoerder van die inligtingstak op Oshakati, in Namibië, toe hy hoor Palme is deur ’n “lang man” in Stockholm geskiet.

Hy het later die polisie verlaat en in die privaat sekuriteitsbedryf gewerk, en sonder skroom, sê hy: “Ek het vandag steeds geen berou oor enigiets wat ek in diens van die NP-regering gedoen het nie.”

Dis dié dat hy in 1995 die Waarheids-en-versoeningskommissie se uitnodiging om te bieg oor sy beweerde misdade van die hand gewys het.

Maar in 1997 was sy naam die koerante vol – as beweerde hoofverdagte in die Smit-moorde. “Maar niks het daarvan gekom nie. Dit het my net duisende rande in regskoste gekos,” sê hy.

Roy is in 2014 ’n tweede keer deur die nasionale vervolgsingsgesag (NVG) oor die Smit-moorde ondervra. En weer hou hy vol: “Ek is onskuldig. En nee, ek het geen idee wat RAU TEM beteken nie.”

In die jaar 2000 het hy na Australië verhuis. Daar gekom wou Sweedse ondersoekers hom oor Palme sien. Roy beweer voormalige Suid-Afrikaanse militêre intelligensiebeamptes het die Swede vals inligting gevoer.

“Hulle het aangevoer ek was lief vir ’n .357-magnum-rewolwer.” Dit was die soort wapen waarmee Palme vermoor is. Hy het ingestem om die ondersoekers by die Sweedse ambassade in Bangkok, Thailand, te ontmoet.

“Ek het vir hulle stapsgewys gewys dis als ’n pot tjol.”

Hoekom praat hy vandag met ons?

Liza Smit, die dogter van die Smit-egpaar, soek ná
Liza Smit, die dogter van die Smit-egpaar, soek ná al die jare steeds antwoorde oor wie die opdrag vir haar ouers se dubbele moorde gegee het.

“Ek wil graag berusting vir die Smit-kinders hê. Weet net, as ek betrokke was, sou ek dit erken en die punch vat.”

Liza Smit klink verbaas dat Roy met Huisgenoot gepraat het. Selfs skepties.

“Ja, daar was ’n tyd toe ek Roy Allen van my ouers se moord verdink het, maar ek het nog nooit omgegee wie die sneller getrek het nie. Ek wil weet wie die opdrag gegee het. En hoekom . . .”

En of die waarheid oor dié moorde en ander gebeure ooit aan die lig sal kom?

Dié wat weet, dra hul geheime met hulle saam en swyg.

  • BKholiswa Mdhluli, ’n NVG-woordvoerder, het aan Huisgenoot bevestig Roy is twee keer as verdagte in verband met die Smit-moorde ondervra, maar daar was geen gronde om hom aan te kla nie.