Dit was ’n fratsongeluk wat die spoor van haar hele lewe as jong hoërskoolatleet verander het.

Hannelie van Tonder (47) van Meyerton in Gauteng was maar 13 jaar oud toe die voorval op ’n warm somersdag in Februarie 1985 op die atletiekveld van die Hoërskool DF Malan op die dorp gebeur het.  

Dit was die dag toe sy per ongeluk haar L.O.-onderwyser, Anne Taylor (toe 25 jaar oud), met ’n spies in die kop getref het.

Anne, wat vandag 59 jaar oud is, is ernstig beseer, maar het die voorval wonderbaarlik oorleef.

Oor die jare het Hannelie weinig daaraan gedink, tot haar ma die afgelope week ’n gedenkberig daaroor in die plaaslike gemeenskapskoerant, Vaalweekblad, raakgelees het.

Hannelie het toe ’n inskrywing aan die koerant gemaak en gesê: “Ek’s die dogter en sal juffrou Taylor graag weer wil sien . . .”

Toe Huisgenoot dié ma van twee, wat al 31 jaar vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) werk, Woensdag op Werkersdag bel, haal sy eers diep asem. “Dit was vir my ’n verligting om te sien juffrou Taylor is oukei.”

Wanneer sy aan die voorval dink, vertel sy haar hele lewe het daardie dag verander.

Hannelie van Tonder, hier op 'n Facebook-foto van
Hannelie van Tonder, hier op 'n Facebook-foto van haar in 2010.
Hannelie van Tonder is sku vir foto's.
Hannelie van Tonder is sku vir foto's.

“Dis maar altyd iets wat ’n ou sal pla . . . Ek het ná daardie dag nooit weer atletiek gedoen nie. Ek is uit die skool en na ’n ander kosskool. Ek kon nie meer daar wees nie. Ek was maar skaars in standerd 7 (graad 9).” 

“Ek het oor die jare probeer om met juffrou Taylor kontak te maak. Ons het selfs een keer oor die foon gepraat, maar die kuier het nog nooit gebeur nie.

Hannelie vertel hulle was die middag besig om atletiek te oefen. Sy was ’n kranige atleet wat provinsiale kleure vir verskeie items gehad het.

“Ek onthou hulle het die dag video’s van ons kom neem. Die video’s sou gebruik word om na ons tegnieke te kyk; wat ons verkeerd doen. Ek onthou ek het gehardloop. Juffrou Taylor het nog op die grond gesit. Sy het die veters van haar tekkies vasgemaak. As sy maar net bly sit het, het die spies oor haar kop gegaan . . .”

Hannelie vertel presies hoe die ongeluk gebeur het, is steeds baie vaag. “ ’n Mens sal altyd dink ‘wat as’ en wat anders kon gebeur het, maar ek weet nie.”

Vaalweekblad het destyds berig Anne en nóg twee onderwysers, wat saam atletiek afgerig het, het op die veld gestaan en gesels toe die voorval gebeur. Toe die spies Anne tref het, het een die spies uit haar kop getrek. Hulle het net drie sakdoeke tussen hulle gehad om die bloed te stop.

So het Vaalweekblad oor die voorval berig.
So het Vaalweekblad oor die voorval berig.

Volgens die koerant het hulle haar 150 m na die naaste motor gedra om so gou as moontlik hulp te kry. Die dokter het die wond geheg en later in die Vereeniging-hospitaal bevind ‘n stuk van haar skedel het versplinter en sy het bloeding op die brein. Toe die onderwyseres bykom, het sy – al was sy in 'n ernstige toestand – haar kollegas gemaan Hannelie moes aan die opkomende groot atletiekbyeenkoms in die distrik deelneem.

Sy het nie. “Ek het Transvaalse kleure in amper alles gehad. Ek was veral goed met hoogspring. Ek was hoofdoel met die netbal. Ek het ook nooit weer netbal gespeel nie.”

Sy was baie bekommerd oor Anne Taylor. Die voorval, wat ten aanskoue van almal daar gebeur het, het almal getraumatiseer.

“Ek onthou juffrou Taylor was twee weke in die hospitaal. My ouers het nog vir haar ‘n ruiker gestuur. Ek weet hulle het my ouers ontbied.

“My ma het my kom haal die dag en huis toe gevat. Ek is kort daarna uit die skool.”

Huisgenoot kon nie self met Anne Taylor, wat glo deesdae perdrylesse in Midvaal aanbied, praat nie, maar sy het aan Vaalweekblad gesê sy het geen gevolge oorgehou nie. Sy het vertel sy glo nie die jong atlete was toe al so veiligheidsbewus nie en dat sy wou hê die betrokke leerling moes weet sy begryp dit was net ‘n ongeluk.

Hannelie vertel haar dogter is 28 jaar oud en haar seun 13.

“Ek dink dit wat gebeur het, het van my ‘n baie versigtiger ma gemaak. My kinders het nooit atletiek gedoen nie. Eintlik geen gevaarlike sport nie . . .

“Ek dink alles is oukei. Ek sal net graag weer vir juffrou Taylor wil sien. Wat ek sal sê, weet ek nie. Dit sal net goed wees.”