Hy is gereeld langs haar hospitaalbed en dan gesels sy land en sand. Sy giggel selfs dikwels ten spyte van die ver­skriklike beserings wat veroorsaak het dat sy weer sal moet leer loop.

Maar dis wat hy deur die spleet in Shanei Norris se hospitaaljurk kan sien wat Renier Stols (28) telkens ruk. Dis ’n tatoeëermerk aan haar regtersleutelbeen van ’n rooi blom met die naam “Reanei”.

Reanei is die dogtertjie wat hulle 16 maande gelede saam gehad het. Maar Shanei (22) onthou nie sy het ’n kind gehad nie. Sy is ook nog onbewus daarvan die motorbotsing waarin sy ses weke gelede beseer is, het hul dogtertjie se lewe geëis.

Shanei weet ook nie dat Renier ure lank alleen langs die lewelose liggaampie van hul kind op die lykswa sit en wag het nie.

Maar wanneer Renier die tatoe aan haar arm sien, herleef hy telkens die nag­merrie in die motorwrak.

Shanei se pa sê dit was onwerklik om sy kind se lykie ná die ongeluk onder ’n kombers te sien lê.
Renier het self ook hul dogtertjie se naam op sy bors tatoeëer.

Toe Renier daardie Vrydagoggend in Maart op die ongelukstoneel tussen Drie Riviere en Vereeniging opdaag, het paramedici Shanei reeds uit die wrak bevry en met haar na die Sebokeng-hospitaal noord van Vanderbijlpark gejaag.

Hy het sy dogter se lykie op die agtersitplek aangetref, toegegooi onder ’n kombers.

“Haar lyfie was nog warm,” vertel Renier hier in die hospitaal en sy oë skiet vol trane.

Annelie Hunter Smith – wat vir Shanei soos ’n ma is aangesien albei haar ouers oorlede is – kry ewe swaar.

“Die eerste twee weke was Shanei in ’n koma,” sê sy.

“Vandat sy uit die koma is, onthou sy niks van haar dogter nie. Die dokters kon haar nog nie toets vir geheueverlies nie, want sy is nog nie sterk genoeg nie. Maar ons dink sy blokkeer dinge uit,” vertel sy.

Shanei praat nou vanuit haar hospitaalbed met Renier asof hulle nog in ’n verhouding is, al was hulle net langer as ’n jaar saam.

Omdat Renier nie geweet het wanneer Shanei uit die koma sou ontwaak nie, het hy Reanei op 29 Maart op Meyerton laat begrawe. Hy het pienk kruis­bande vir sy dogtertjie gedra.

Familie van Shanei, en Reanei se pa, Renier Stols, staan tydens die gedenkdiens by haar wit kissie.

“Renier het seker gemaak die hele diens word op video en foto’s vir Shanei opgeneem,” vertel Annelie. Maar wanneer Shanei haar dogtertjie sal onthou en na daardie video en foto’s sal kyk, weet hulle nog nie.

“Ek wil net hê Shanei moet gesond word,” sê Annelie deur die trane.

Shanei, ’n ontvangsklerk by ’n mediese praktyk, was die oggend van 23 Maart onderweg na haar werk in Veree­niging in ’n botsing met ’n ander motor betrokke. Sy was op pad om haar dogtertjie voor werk by die kleuterskool af te laai.

Shanei Norris se Face­book-profiel wemel van die foto’s van haar saam met haar klein Reanei.

Paramedici moes reddingskake gebruik om Shanei uit die wrak te sny en het haar in ’n kritieke toestand hospitaal toe geneem.

Renier, wat by ’n maatskappy werk wat optiese­vesellyne installeer, het by ’n gemeenskaplike vriend gehoor Shanei en hul dogtertjie was in ’n ongeluk. Hy het dadelik van Pretoria na die toneel gejaag.

Hy skud net sy kop toe hy dink aan die oomblik toe hy sy dogtertjie onder die kombers sien.

“Dit was so onwerklik . . .”

In die Sebokeng-hospitaal het dokters om Sha­nei se lewe geveg. Haar lewer, milt en pankreas was geskeur en haar regter­been op talle plekke gebreek. Sy het baie bloed verloor en haar bloeddruk was gevaarlik laag.
Vriende en familie het aanvanklik die ergste gevrees.

“Dit was ’n wonderwerk toe Shanei vir die eerste keer weer haar oë oopmaak en my herken,” vertel Annelie.

“Dit was ’n halleluja-oomblik.”

Geheueverlies en rehabilitasie

Maar hulle kon nie verstaan dat Sha­nei, wat graag op Facebook met haar geliefde dogtertjie gespog het, glad nie na Reanei vra nie. En toe besef hulle: Sy het geheueverlies en onthou haar nie.

Dit is vir hulle bitter hartseer, vertel Annelie.

Dokters weet nog nie of die geheue­verlies tydelik is en of sy wel later sal begin onthou nie. Intussen toets haar besoekers versigtig haar geheue.

Sy het sedert die ongeluk nog nie weer geloop nie en sal van voor af moet leer hoe.

Wanneer hy by Shanei kom kuier, vertel Renier, praat sy met hom asof hulle nog saam is, maar wanneer hy nie by is nie en ander besoekers praat oor hom, onthou Shanei hom glad nie.

Vra iemand haar uit oor haar beseerde been, antwoord sy dis seer wanneer sy loop. Maar sy het sedert die ongeluk nog nie weer geloop nie en sal van voor af moet leer hoe.

Sy het reeds operasies ondergaan om die skeure in haar lewer en pankreas te heg, haar milt is verwyder, en talle breuke in haar regterbeen is met behulp van metaal­penne geheg.

“Sy het op die oomblik 24 uur versorging nodig en sal later rehabilitasie moet kry om weer te leer loop,” vertel Annelie.

“Shanei kan ook nie op die oomblik haar arms gebruik nie.”

Annelie het Shanei onder haar vlerk geneem toe dié 15 jaar oud was. Shanei se biologiese ma is dood aan ’n brein­-aneurisme toe sy nog ’n baba was en haar pa in 2010 aan longkanker.

Nadat albei haar ouers oorlede is, het sy by haar ouer suster en later ouer broer gaan woon. Sy het daarna by haar beste vriendin, Leanne Smith, ingetrek. Vir dié se ma, Anne­lie – wat ook ’n seun, Albert, het – was Shanei van toe af soos ’n eie dogter.

Sy glimlag hartseer toe sy oor Shanei se oorlede dogtertjie praat.

Vir Annelie Hunter Smith is ­Shanei soos ’n eie dogter.

“Sy was baie geselserig, maar die soetste baba wat ek in my lewe gesien het. Ek het daai baba net een keer hoor skree.”

Shanei en Reanei was volgens haar nie net “mamma en baba nie, maar soos beste vriendinne. Hulle het alles saam gedoen. Wanneer Reanei ’n selfoon sien, het sy al sommer outomaties vir ’n foto geglimlag.”

Shanei het gereeld foto’s van Reanei asook gedigte vir haar kind op Facebook geplaas.

“Sy het altyd gesê daai kind is haar redding en haar rots,” sê Annelie.

En Reanei het Shanei se geaardheid gehad: altyd glimlaggend; ewe liefdevol.

“Shanei het byvoorbeeld heeltyd drukkies by my gevra. Dit het my eintlik soms geïrriteer. ‘Gee my net ’n bietjie liefde,’ het sy altyd gesê.”

Maar nou verlang sy juis na dié oomblikke.

“My grootste vrees is vir die dag dat Shanei vra: Waar is my kind?” vertel Annelie.

“Daardie kind was haar lewe.”

Ma en dogter was onafskeidbaar.

Nog een van Shanei se getroue besoekers is haar beste vriendin van die afgelope drie jaar, Noelene van Blerk.

“Maar sy onthou nie eens ek was gister hier nie,” vertel Noelene, “en ek is elke liewe dag hier met besoektyd.”

Nogtans is daar geen einde aan haar toewyding nie. Noelene het vir haar vriendin ’n Facebook-groep, Mommy Shanei, gestig waar sy die sowat 6 000 lede gereeld op die hoogte hou van Sha­nei se vordering. Met dié groep word ook geld inge­samel vir haar behandeling.

Omdat sy kort ná ons onderhoud van Sebokeng – ’n staatshospitaal – na die privaat Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark oorgeplaas is, sal daar na verwagting nog groot mediese rekenings kom.

Liewe Jesus sal sê wanneer die tyd reg is. Ek dink dis die Here se manier om haar te beskerm.

Benewens haar rehabilitasie sal sy moontlik velchirurgie moet ondergaan weens ’n oop wond aan haar beseerde regterbeen.

“Ek hoop regtig Shanei raak gou ­gesond,” sê Renier, en vee weer die trane af. Wanneer sal sy gesond genoeg wees om die verskriklike waarheid oor haar dogtertjie te hoor?

Dis Noelene wat antwoord: “Liewe Jesus sal sê wanneer die tyd reg is. Ek dink dis die Here se manier om haar te beskerm.”

Foto's: ER Lombard, Facebook, Verskaf